Die Kaptein en die Matroos in ‘n klein kusdorpie

Om by die see te bly is tog te lekker. Die fantastiese strande is enige surfer se droom… maar as jy nie kan surf nie, dan drink jy maar.
Vir ‘n gesoute drinker soos ek vat dit ook nie lank om al die kuierplekke in die dorp te leer ken nie. Selfs in ‘n klein dorpie is daar nogal ‘n wye keuse. Na ‘n maand of wat kry jy ook jou gunsteling uithang-plek of twee.

Dis ook toe so dat ek een aand toevallig deur ‘n ou wat ek een aand deur iemand anders ontmoet het, genooi word na ‘n nuwe plek. Die nuwe plek is eintlik ‘n Ou Plek, een van daai legendariese kuierplekke wat al die rock-sterre besoek wanneer hulle op die oostelike kus kuier. Weggesteek tussen ‘n haarkapper, ‘n tweedehandse winkel en die KFC drive-through, loop die stegie af tot in dié donker pub.

Die eerste kuier daar was maar ‘n bietjie vreemd. As jy nie regtig iemand daar ken nie, dan sukkel dit maar, veral omdat die ou wat ek ken deel van die akkoestiese band is wat daai aand gespeel het.
Later maande het ek darem al ‘n paar vriende gemaak. Dis dán wanneer daardie weggesteekte Ou Plek jou gunsteling plek word. Jy stap in by die deur, dan maak Oom Piet al jou bier vir jou oop. En as jy daardie dag nie geld het vir ‘n tweede nie, dan gee hy sommer een, omdat hy weet jy sal weer daar uitval.

Dis ook waar ek Die Kaptein ontmoet het. Van die beter mense om daar te ken. As jong meisie sal hulle jou teen die skobbejakke beskerm, vir jou al hul ou stories vertel en so nou en dan omkoop met nog ‘n drankie, net om nog ‘n bietjie te sit en luister.

Die Kaptein werk op ‘n tenker-skip en is vir maande aan een nie op land nie. Wanneer hy egter aanland is dit rede vir groot partytjie, vir twee maande, tot hy weer teruggaan see toe. Tydens hulle vaarte oor die wye seë mag hulle nie drink nie en word op elke hawe getoets, dus maak hy gebruik van die tye wat hy tuis is.

Die stories wat hy vertel strek oor baie lande, baie waters en baie onderwerpe. Die vreemde kultuur van die Japanese meisies wat so mooi na hulle kyk as hulle daar aankom, en hoe die matrose die “Dear John” briewe, wat al te veel op die skip land, hanteer.

Een dag het nog ‘n jong man, nadat hy maande laas op land was, weer een van dié briewe gekry. Die Kaptein het die jong man vaderlik ondersteun en toe begin met ‘n inisiatief wat hulle almal bietjie beter te laat voel.

Hy het ‘n groot wêreldkaart op die een kantoor se muur geplak, groot geskryf “Dear Jane” en ‘n koukie langsaan gehang vir hartgebroke soldate om hul diepste gevoelens neer te skryf. Die brief het elke keer as daar nog ‘n hart gebreek was, gegroei en alhoewel Die Kaptein natuurlik die ergste gesensor het vir my jong-meisie ore, kon ek duidelik die gevoel kry.

Dié storie het natuurlik ná aan my hart kom lê. Ek het self my hart verloor op die Matroos wat op ‘n stadium onder dieselfde Kaptein gewerk het. Ná jare het ek egter besef dat dit seker nooit gaan gebeur nie. Hy was altyd op see as ek sy tuisdorp besoek het, en drie jaar later is hy verloof aan iemand anders.

Ek was platgeslaan vir ‘n bietjie, en toe die oproep kom dat ek verskuif word na daardie selfde kusdorpie, het ek eintlik al begin vergeet van hom. Groot was my verbasing toe ek deur die skinder-kringe verneem dat my Matroos ook ‘n “Dear John” ontvang het, slegs maande voordat hy moes trou.

Ek het ongelukkig nie lank genoeg in daardie dorpie gebly om te weet wat die uiteinde sou wees nie, en hy het steeds sy wonde gelek toe hy die laaste keer op land was. So loop die lewe mos maar sy gang.