Lentedag: ‘n Nuwe begin en die einde van irrasionele vrese

Ek het ’n irrasionele vrees vir enigiets wat eindig. Miskien is dit eintlik net rasioneel. Of my rasionaal in elk geval.

Ek kan nie die laaste episode van ‘n TV-reeks kyk tensy die volgende reeks reeds bekend gestel is nie. Die afwagting maak my dood. Dieselfde met boeke. As daar meer as een in ‘n reeks is moet ek almal hê, anders kan ek fisies nie die boek klaar lees nie. Die Hunger Games het vir my geëindig driekwart deur die tweede boek.

Ek is seer-seker die enigste persoon wat nog nie Game of Thrones klaar gekyk het nie, want ek het opgehou met die voorlaaste episode in die eerste reeks.

Netso kan ek ook nie konflik hanteer nie. Dit beteken dat ek eerder ‘n vriendskap of verhouding sal laat doodloop eerder as om die konflik en die einde daarvan te moet ervaar.

Dit fizzle maar net in stilte tot sy dood.

In my gedagtes gaan dit dalk nog aan, iewers, miskien in ‘n parallelle heelal.

Soos ek sê, irrasioneel.

Ongelukkig affekteer dit ook die manier wat ek werk. Niemand kan ‘n deadline uitstel en uitstel tot hy fisies nie meer kan as ek nie. Dit frustreer almal wat saam met my werk en ek besef dat hierdie verklaring moontlik daartoe gaan lei dat ek nooit weer werk kry nie. Of dalk gaan dit juis nou verander! Ek het immers die eerste tree gegee in die regte rigting! Mens moet immers jou foute aanvaar en erken wanneer jy ‘n probleem het, dan nie?

Vandag is lentedag! So ek het besluit om ‘n end te sit aan hierdie baie slegte lyn van denke.

Om mee te begin: Ek kan ook nie die laaste bietjie sjampoe uit ‘n bottel gebruik nie. Ek raak antsy die oomblik as dit te min raak en sal dan nuwes koop voor ek uithardloop. Die probleem is, dat na ‘n jaar lyk my badkamer so:

Dus het ek besluit om op te ruim, skoon te maak en uit te gooi. Uit die puin het ek ‘n HELE bottel sjampoe en opknapper kon red! As ek dit laas week geweet het kon ek dalk my geld beter aangewend het. (Die wintermaande is maar skraal.)

Ek voel egter uiters verlig. Ligter, beter, skoner met die wete dat ek vandag iets kon bereik.

Ongelukkig is dit deel van depressie. Jy stel uit en uit tot jy nie meer kan nie. Dit het ook natuurlik my werk (skryfwerk) beïnvloed aangesien ek nie ‘n pen kon optel nie. Dus is hierdie storie oor meer as net sjampoe. Dit gaan ook oor die feit dat ek dit kon neerpen, vir die eerste keer in maande.

Dalk kom my vrees uit meer as wat ek hier noem. Dalk was daar net te veel slegte eindes en dis makliker om net nie te weet HOE dit eindig nie. As daar ‘n ope einde is, beteken dit dalk daar is ‘n beter uitkomste as dit wat ek weet onvermydelik is. (Daar is heelwat stories hier, maar dis vir ‘n ander dag.)

So, aan almal wat ek laat gaan het oor die laaste paar jaar, weet net dis nie jy nie. Ek hoop daar is ‘n toekoms, of ten minste ‘n afsluiting, aan ons gesamentlike avontuur.

Om terug te kom na die sjampoe: Het enigiemand sulke bottels nodig vir ‘n projek of ‘n organisasie? Ek het hope!  

Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Commitment Phobia

Ek wonder party dae of ek die enigste een is wat werklik sukkel om myself aan enigiets te commit, hetsy dit in ‘n verhouding is of nie.

Ek het die week vir die eerste keer besef ek leef in ‘n konstante toestand van wag-vir-iets-beter. Die Engelse statement “a state of flux” is die motto van my lewe.

Vandat ek vroeg in 2007 begin werk het, het ek altyd gewag vir iets beter om te gebeur, ‘n beter salaris en ‘n beter werk, ‘n beter woonstel om te huur, ‘n beter boyfriend, ‘n beter lewe. Ek het geen idee wat van die laaste tien jaar geword het nie! Dis asof ek in ‘n permanente wagkamer gesit het en nie geweet het hoe om die deur oop te maak nie. En dan het dit gewoonlik gebeur dat ‘n deur oopgaan en ek het régtig getrek, na die volgende, beter plek toe. Tot dit nie meer beter was nie en ek weer begin soek het na groener weivelde.

Ek het onlangs begin by ‘n nuwe werk. Dis my droomwerk (of gaan definitief wees!). Ek het onder begin soos ‘n mens maar moet, maar dis ‘n fantastiese geleentheid om te groei en te verbeter en iets van jouself te maak. Vir die eerste keer in my werkende lewe het ek aande en naweke af om te doen net wat ek wil!

Na 8 jaar as joernalis by verskeie plaaslike koerante het ek aan die einde van laasjaar besluit om die handdoek in te gooi. Op die rype ouderdom van 30 het ek huis toe getrek en probeer om myself uit my depressie te red. Ek het begin oefen en ‘n boek(ie) geskryf. Ek het tyd saam met my ouers spandeer en ek het weer begin werk soek. Maar steeds het ek gewag… Uit ‘n tas geleef en die bokse met al my stuff het stof opgegaar.

Verlede maand het ek die Karoo van my skoene afgestof en is terug in die Moederstad. ‘n Maand later het ek besef ek het nog steeds die helfte van my bokse nie uitgepak nie. Ek het besef ek is nog steeds aan die wag vir IETS.

Ek het op ‘n stadium vir vier jaar in dieselfde huis gebly en nooit eers die moeite gedoen om spykers in die mure te kap om net my prente op te hang nie. Ek het steeds gewag. Vir iets. ‘n Teken, ‘n deur om oop te gaan of ‘n verandering wat my gelukkiger sal maak. Dieselfde het gebeur by my volgende woonstel.

Dus het ek besef dis nou tyd om te settle. En daarmee bedoel ek nie dat ek opgegee het op my drome vir ‘n beter lewe en beter werk en beter salaris nie. Dis iets waarna mens MOET streef. Jy moet iets hê om na toe te werk. ‘n Doel.

Een van my gunsteling teksverse is Jakobus 4:13-16:

“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”

Maar ek het dit egter nog altyd verkeerd geïnterpreteer. Die les is dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy sal besluit waarheen jy volgende sal gaan. Hy sal deure oopmaak en jou lei. Ek het egter net gesien dat jy nooit gaan weet hoe lank jy op ‘n plek gaan wees nie, en alhoewel dit waar is, het ek dit geleef. Ek het bly wag vir die oomblik wanneer die Here ‘n volgende deur oopmaak, sonder om die jaar wat ek wel op ‘n sekere plek gehad het, te gebruik het!

So daag ek toe myself hierdie week uit. Ek gaan my bokse uitpak en my kamer rondskuif. Ek gaan vir myself ‘n tuiste skep hier waar ek nou is.

Ek wil aan ‘n oefenprogram commit en dit actually doen. Ek wil nuwe, beter en gesonder gewoontes aanleer. Ek wil wortels skiet. Ek wil spaar en ‘n huis koop. En ‘n kat kry. En dalk ‘n hond. En dan dalk ‘n boyfriend ook.

Ek wil nie meer passief wag en kyk hoe die groen gras aan die ander kant langer word terwyl my eie gras eintlik perfek is nie.

Soos ek sê, stel doelwitte, streef na meer, maar begin jou lewe op die oomblik ook geniet.

Dis regtig nou tyd om te begin lééf!

Trots vrou-alleen

Ek is een van daardie mense wat eerder my alie sal afsukkel as om te vra vir hulp. Kyk, ek verstaan dat dit soms nodig is om ‘n man in te roep as dit regtig nodig is, maar as ek iets self kan doen is ek tog te bly.

Ek is nie eintlik baie goed met verhoudings nie, so ek sukkel sukkel maar so voort op my eis. En as ek dan iets bereik, dán is ek vir jou trots op myself!

So het ek nou die dag al my (bietjie) baie swaar meubels en bokse self uit die bakkie gelaai toe dit by my nuwe woning opdaag. My boetie het sy bakkie vol goed sommer net daar gelos en is met my motor vort kaap toe. Ek moes maar self sien kom klaar. (Ek neem hom natuurlik nie kwalik nie, hy hét onlangs amper ‘n hartaanval op 23 gehad… maar dis ‘n ander storie.)

So het ek gesukkel en gesweet tot ek als binne my huis gekry het. Aangesien ek nie juis regtig baie pakplek het nie, en aangesien ek nie juis baie meubels het nie, het van die bokse maar daar gestaan tot tyd en wyl.

Die naweek is daar egter ‘n special aan by Game op ‘n baie oulike TV-stand. Kyk, ek besef dis nou nie die beste kwaliteit nie, maar dit lyk darem heel modern en daar is plek vir ‘n paar boeke en so aan.

So ry ek met my skedonkie tot by die naaste Game. Ek ken mos nou nie die plek nie en stop toe heel aan die verkeerde kant. Toe die verkoopsman die kas in ‘n waentjie gelaai het, moes ek dit baie versigtig deur die hele mall mission tot by my kar. Min wetende hoe swaar die ding eintlik is.

So staan ek buite my motor, die wind waai als rond en bont, en ek besef ek gaan nie dié ding uitgelaai kry nie, maar ‘n boeremeisie maak ‘n plan.

Mooitjies laat ek die waentjie stadig sykant toe tip, laat gly die moerse doos tot in die boot en verby tot op die platgeslaande seat. Siedaar!

Tuis geland moet ek natuurlik die ding uitlaai en met Hercules-like strength lig ek hom uit en sukkel-sukkel tot in my sitkamer. En toe begin die moeilikheid. Die ding is in 76 stukke! Gelukkig het my pa my ‘n paar houtwerklesse gegee tydens lang Desembervakansies…

Ek kry darem ‘n skroewedraaier in een van die stapels bokse gelabel useful stuff. Natuurlik. So begin ek die stukke een vir een uitsorteer. Die een daar, ander een ander kant. Daardie skroefie hier in en ‘n ander een daar. Uiteindelik staan die ding so half. Tot die pote is aan. Ek’s lekker uitgemergel, en al wat nou nog skort is die deure.

My hand-gamaakte kas... okei, hy was eintlik net spoeg en plak, maar nog steeds!

Die ingewikkelde deure moet nog gehang word en ek sien nie dadelik kans vir daai snaakse contraptions wat seker maak die goed bly toe nie. Ek gaan sit eers vir ‘n uu rlank en die 7de Laan Omnibus kyk. Almal het ‘n ruskans nodig.

Toe die nuus begin raak ek verveeld en my hande begin jeuk om my projekkie klaar te maak. Die een deur is nog okay om aan te sit. Die binnekant van my hande is toe lankal deur van 300 skroewe indraai. Die ander een is bietjie meer van ‘n probleem want toe moet ek met my dom linkerkant indraai en ‘n paar vloekoorde later het ek darem die knippe half op plek… Eers bietjie skeef, so dit moes weer gedoen word.

Ná ‘n hele middag se sukkel staan hy. Ek pak sommer ‘n paar dose uit en omdat ek so opgewonde is. Dit lyk fantasties. Bietjie meer huislik.

En ek het dit sélf gedoen. Ai, maar dis lekker om vrou-alleen iets reg te kry!

Die lesser of two evils

Die probleem begin wanneer jy iets wat vir jou so lekker is, ‘n lewe van maak.

Dit beteken dat jy ure sit en doen wat jy eintlik net wou doen om besig te bly in jou tussentyd. Later verswelg dit jou so dat jy glad nie meer by die ander lekker dinge uitkom nie – jy kan nie meer boeklees, of simple chick flieks kyk, of rustig saam met vriende sit en bier drink of net heeldag lê en slaap nie.

Die problem met jou stokperdjie verruil vir ‘n salaris is dat jy nooit weer net kan sit en skryf omdat jy net wil nie, maar omdat jy moet. Jy skryf oor onbenullighede en irritasies en klagtes, oor moord en doodslag en noodlottige ongelukke en verloor jou siel in ‘n diep donker put van politieke bakleiery.

Aan die einde van die dag probeer jy woorde aanmekaarsit wat nie regtig meer kreatief klink nie, want die skrywe oor die lewe het dit alles uit jou getap. Moeg, honger en vol bloederige beelde sit jy en staar na die wit skerm voor jou en al die feite van die verlede maak jou skrywende siel dood sodat jy leeg bly.

Ek dink dis dieselfde vir kunstenaars wat hul canvas en kwasse wegsit om grafiese ontwerp te begin doen, vir fotograwe wat die mooi verruil vir die lelike lewe daarbuite, vir die akademikus wat opeindig in ‘n kantoor, omring deur papierwerk en die sportster wat na nóg ‘n besering sy tekkies moet ophang en ander, jonger en beter kinders moet leer wat hy lankal weet.

Ek dink jy verloor ‘n bietjie van jouself as jy die ding wat jou kreatiwiteit aan die gang gehou het, verpand om te oorleef.

Maar dan is daar die ander kant van die saak moet dit seker ook gese word dat as dit ie was vir die werk wat jou siel doodmaak nie, sou daar ‘n ander werk gewees het wat ‘n mens minder geniet en wat meer sielsdodend is.

Hoe kies ‘n mens dan tussen die lesser van die twee evils?