Lentedag: ‘n Nuwe begin en die einde van irrasionele vrese

Ek het ’n irrasionele vrees vir enigiets wat eindig. Miskien is dit eintlik net rasioneel. Of my rasionaal in elk geval.

Ek kan nie die laaste episode van ‘n TV-reeks kyk tensy die volgende reeks reeds bekend gestel is nie. Die afwagting maak my dood. Dieselfde met boeke. As daar meer as een in ‘n reeks is moet ek almal hê, anders kan ek fisies nie die boek klaar lees nie. Die Hunger Games het vir my geëindig driekwart deur die tweede boek.

Ek is seer-seker die enigste persoon wat nog nie Game of Thrones klaar gekyk het nie, want ek het opgehou met die voorlaaste episode in die eerste reeks.

Netso kan ek ook nie konflik hanteer nie. Dit beteken dat ek eerder ‘n vriendskap of verhouding sal laat doodloop eerder as om die konflik en die einde daarvan te moet ervaar.

Dit fizzle maar net in stilte tot sy dood.

In my gedagtes gaan dit dalk nog aan, iewers, miskien in ‘n parallelle heelal.

Soos ek sê, irrasioneel.

Ongelukkig affekteer dit ook die manier wat ek werk. Niemand kan ‘n deadline uitstel en uitstel tot hy fisies nie meer kan as ek nie. Dit frustreer almal wat saam met my werk en ek besef dat hierdie verklaring moontlik daartoe gaan lei dat ek nooit weer werk kry nie. Of dalk gaan dit juis nou verander! Ek het immers die eerste tree gegee in die regte rigting! Mens moet immers jou foute aanvaar en erken wanneer jy ‘n probleem het, dan nie?

Vandag is lentedag! So ek het besluit om ‘n end te sit aan hierdie baie slegte lyn van denke.

Om mee te begin: Ek kan ook nie die laaste bietjie sjampoe uit ‘n bottel gebruik nie. Ek raak antsy die oomblik as dit te min raak en sal dan nuwes koop voor ek uithardloop. Die probleem is, dat na ‘n jaar lyk my badkamer so:

Dus het ek besluit om op te ruim, skoon te maak en uit te gooi. Uit die puin het ek ‘n HELE bottel sjampoe en opknapper kon red! As ek dit laas week geweet het kon ek dalk my geld beter aangewend het. (Die wintermaande is maar skraal.)

Ek voel egter uiters verlig. Ligter, beter, skoner met die wete dat ek vandag iets kon bereik.

Ongelukkig is dit deel van depressie. Jy stel uit en uit tot jy nie meer kan nie. Dit het ook natuurlik my werk (skryfwerk) beïnvloed aangesien ek nie ‘n pen kon optel nie. Dus is hierdie storie oor meer as net sjampoe. Dit gaan ook oor die feit dat ek dit kon neerpen, vir die eerste keer in maande.

Dalk kom my vrees uit meer as wat ek hier noem. Dalk was daar net te veel slegte eindes en dis makliker om net nie te weet HOE dit eindig nie. As daar ‘n ope einde is, beteken dit dalk daar is ‘n beter uitkomste as dit wat ek weet onvermydelik is. (Daar is heelwat stories hier, maar dis vir ‘n ander dag.)

So, aan almal wat ek laat gaan het oor die laaste paar jaar, weet net dis nie jy nie. Ek hoop daar is ‘n toekoms, of ten minste ‘n afsluiting, aan ons gesamentlike avontuur.

Om terug te kom na die sjampoe: Het enigiemand sulke bottels nodig vir ‘n projek of ‘n organisasie? Ek het hope!  

Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

‘n Elegie vir ‘n ouma

Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
IMG_2991

My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.

Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.

Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.

Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.

Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.

Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.

Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.

Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.

Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.

Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.

Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.

Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.

Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!

Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.

En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”

En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”

IMG_2993

Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!

Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Gemmerbier-herinneringe

Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).

Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.

Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.

Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.

Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.

Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!

Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.

Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.

Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.

Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.

Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.

Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)

Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.

Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.

Tannie Lisie se skoene aan die onderkant van die kerktrap

Daar is baie stories in ons klein dorpie. Sommige van hulle net ‘n vae herinnering. Vandag het ek aan dié een gedink. Die details nie meer so helder al die jare later nie.

Dié een is van Tannie Elise Pienaar, of net Tannie Lisie, soos ons haar genoem het.

Sy het vir jare en jare op die hoekhuis oorkant die kerk gebly. Sy het met skape in die landerye tussen die huise van die Kapaaisland geboer. Jy kon haar elke dag in haar stok-ou wit bakkie sien ry waar sy elke land se skapies gaan optjek.

Sy het ‘n nuwe bakkie gehad. “Nuut” in die sin van hy het net ‘n paar 100 myl op die klok gehad. Dié blou bakkie het in die garage gestaan vir spesiale geleenthede, soos om Dorp toe te gaan. Ek het wel een keer in die blou bakkie ‘n rit gehad.

Tannie Lisie was ook die orreliste by die kerk.

Sy het ‘n ongelooflike versameling skoene gehad. Elke Sondag het sy ‘n ander kleur gedra. En dit het altyd by haar uitrusting vir die dag gepas. 

Dis belangrik om hier te noem dat die hele gemeente eers 5 na 10 minute voor die diens begin daar opdaag. Enigiemand wat van buite die dorp kom, soos die nuwe dominee wat kom preek, het soms met ‘n swaar gemoed toegekyk en benoud begin wonder of enigiemand gaan kom, aangesien daar kwart voor géén voertuie in sig is nie. Net Tannie Lisie op haar plek voor die ou kerkorrel.

Maar kort voor die kerktoring se horlosie slaan (dis nou ás my pa daarby uitgekom het om hom op te wen) sien jy bakkies met ‘n stofstreep in die pad afgery kom om voor die deure te parker, vinnig te groet en hul gewone sitplekke te gaan inneem.

Jy het altyd geweet Tan’ Lisie is op haar plek, want haar helder skoene sal aan die onderkant van die trap bly staan. ‘n Helder herinnering van pienk en rooi en hemelblou wat waggehou by die voet van die rooi mat wat na bo lei.  

Die trappe was te styl vir die skoene met hul hoë hake en sy het ‘n gemaklike paar gehad wat bo gebly het waarmee sy mooi die orrel kon trap.  Vader alleen weet hoe sy elke week die stofpad oorgesteek het met dié deftige hofskoene.

Ná afloop van die diens was daar altyd eers tee gedrink in Tannie Lisie se huis oorkant die straat. Al haar “Bekkies” bymekaar. Dit was haar troetelnaam vir ons: “Môre my Bekkie!”.

As kinders van die klein gemeente was dit altyd ons werk om in die donker kombuis die teekanne vol te maak.

Almal het dan in haar sitkamer vol oudhede en klaviere hul koppie geniet, die mans om die ronde tafel, en die vroue in die sitkamerstoele met hul voete op die Persiese mat van regte sy, voor ons weer die koppies moes was.

Daar was net één rede hoekom ons aangehou het om dit te doen. Elkeen wat gehelp het met die tee en opwas, is altyd na die tyd sjokolade gevoer. En daar was áltyd sjokolade in haar spens. Die spens was ‘n geslote deur, af van die eetkamer (waar honderde klein fynighede in die kaste verskuil was en as jy te hard geloop het op die houtvloer het alles geklingel), waar daar ondenkbare lekkerhede verskuil was.

Die skoene aan die onderpunt van die kerk se trappe staan egter lankal nie meer daar nie.

Lank voor Tannie Lisie nie meer op haar eie kon woon in haar kasarm van ‘n huis nie, het die trappe, selfs sonder skoene, net te styl geword.

Vroeër vanjaar het sy finaal haar skoene gelos, al die helder pare, aan die onderkant van die Hemelse trap, voor haar laaste klim tot bo waar sy heel moontlik steeds die al die ou bekende lofliedere speel vir die Engelekore.

My Antie Kraai

EK lees gisteroggend Valiant Swart se rubriek oor huishulpe.

Hy vertel hoe so iemand deel kan word van jou gesin en die lief en leed kan deel. Toe ek baie klein was, het ek só ’n oppasser gehad. Haar naam was Antie Kraai.

Eintlik was dit Angeline­ Kraai, maar daai lange naam was een te veel vir my kindertong om reg te kry en sy was sommer net my “Antie Kraai”. Haar mense het haar egter al die jare Antie Evelyn genoem en dis ook met dié naam wat sy ’n celebrity geraak het.

Vir die eerste paar jaar van my lewe moes die liewe Antie baie rond hardloop om seker te maak ek en my ouer sussie bly uit die modder en die moeilikheid, terwyl ons nie ons kleiner boetie uitbuit nie.

Sy het gesorg dat ons tande geborsel en hare gekam is. Sy het ons beddens opgemaak en kaste reggepak. Sy het my verskriklik bederf. Sy het altyd gelag as sy vertel hoe ek “my pê” wou hê. My ousus was voor my uit die doeke en ek wou ook soos sy grootmeisie-onderklere dra. Dis steeds een van die dinge wat sy oorvertel wanneer sy my sien.

Haar man, Flip Oliphant, was my pa se voorman, en hy het later begin om vir die munisipaliteit te werk en hulle is van die plaas af weg.

Maar my Antie Kraai was ’n goeie sakevrou, en aangesien Nieu-Bethesda (waar hulle nog steeds woon) die meeste van sy inkomste uit toerisme genereer, het sy die geleentheid aangegryp en ’n restaurant begin.

Vandag is sy bekend vir haar drie-gangmaaltye – tradisioneel met ’n township-invloed. Bobotie, roosterbrood en moerkoffie uit die boonste rakke. Die heerlikste kos bedien in haar eenvoudige huisie in Pienaarsig wat oor die sokkerveld uitkyk. Sy sal ook tydens die maaltyd met jou gesels en heelwat te vertel hê oor haar eie lewe, haar kinders en die gemeenskap.

Menige joernalis het al haar drumpel deurgeloop en seker gemaak haar bekendheid groei.

Ek maak deesdae my eie bed op en pak self my kaste reg, want Antie Kraai het haarself van ’n geliefde huishulp opgewerk na ’n bobaas-kok en vandag is sy famous.

Oom Piet se hande

EK is ’n groot aanhanger van klein kroeë.

Daardie plek waar jy instap en jy ken almal langs die kroegtoonbank, van die ou omie wat van 10:00 af in die hoek sit en die lewe bepeins oor ’n glas wyn, tot die jong wulpse groep meisies wat flirt vir ’n drankie en die ou toppies wat toeka se stories sit en vertel.

My gunstelinge is die Ba­thurst­­ Arms in Bathurst in die Oos-Kaap, Skebanga’s in Noordhoek (blykbaar maak hulle die beste pizza in die land), Die Waenhuis in Nieu- Bethesda (waar ek altyd gedurende vakansies gewerk het) en hier in Stellenbosch het ek natuurlik ook ’n bekende watergat. Oe, en Mar Azul in Astonbaai is ook nie te vergeet nie!

Mar Azul op Astonbaai se strand.

Tydens my verblyf in Jeffreysbaai het ek ’n klein plekkie in ’n steeg aan die onderkant van Da Gamastraat leer ken met die naam van Hurdy Gurdy’s (vertaal as draai-orreltjie).

Piet Vermaak, die eienaar en barman, was ook ’n musikant en Vrydae kon jy daar na sy musiekgroep luister.

Daar was ook ’n paar locals wat altyd daar rondgehang het. Kobus werk onder die Khoisan en het allerhande stories oor dié kultuurgroep gehad om te vertel.
Hy was daar met Saartjie Baartman se her-begrafnis en baklei steeds hand en tand teen die ontwikkelaars wat die Khoi se geskiedkundige areas onder strandhuise wil toebou.

Die kaptein maak ook altyd ’n draai wanneer hy aan wal kom, en dan hoor ons van al die drama op see.

Oom Piet het self baie stories om te vertel, van sy werk in die regering en sy jare as barman.

Dit het egter nou alles verander. Ek verneem nou die dag dat Hurdy Gurdy’s verkoop is. Die plek se naam is nou Cheers @ J’Bay.

Piet is bedlêend. Hy wil niemand meer sien nie. Sy jare as rocker het hul tol begin eis en sy lyf is moeg.

Die ergste is dat hy gangreen in albei sy hande opgedoen het. Hulle sal dalk nou afgesit moet word. Daar word nog gewag op ’n tweede opinie.

Swaar is my hart as ek wonder hoe ’n musikant maak sonder sy hande.

My vriend die dominee

DIS vreemd hoe mense partykeer ‘n impak maak op jou lewe sonder dat jy eers weet dat dit gebeur.

Ek het vir ‘n tyd in dieOos-Kaap gebly in ‘n klein kusdorpie. Dáár was ek vir ‘n tydperk baie soet, en het kerk toe gegaan en met daardie goeie tipe mense rondgehang.

Ek het toe ook ‘n jong jeug-pastoor ontmoet. Hy was nie besonders good-looking of charismaties of enige dinge wat ek van ‘n man hou nie, maar vir ‘n week-lank het ek met die seun so half en half uitgegaan. Ek was sommer vinnig verveeld, en dus is ons toe uitmekaar, maar ons het steeds vriende gebly.

En toe hoor ek nou die dag. Hy was maar 25. En hy’s dood. In sy slaap.

Ek hoop jy is gelukkig. Ek hoop jy het gedoen wat jy kon terwyl jy hier op aarde was en dat jy jou goddelik doel kon bereik. Ek glo jy het.

Ek blaai so nou en dan deur die boeke wat jy vir my gegee het. Een oor God se liefde en die ander om my naarstigtelike soeke na kennis te stil.

Ek gaan jou mis as ek volgende week vir al ons ou vriende gaan kuier.

RIP my vriend die dominee.

Enig in sy soort

Ek kry nou die dag ‘n oproep van ‘n ou wat ek in ‘n baie lang tyd nie gesien het nie. Hy was laas week hier vir ‘n konferensie en nooi my toe vir ete.

Ek het nie eers meer sy nommer op my foon gehad nie, so die oproep was nogal ‘n verassing. ‘n Baie goeie een.

So Donderdagaand trek ek mooi aan, maak myself reg vir die herontmoeting. (Dis seker ook hier waar ek moet byvoeg dat ek hom so bietjie verafgod het in die tyd wat ek hom geken het. Hy het kop en skouers bo die ander mans in die klein dorpie waar ons gebly het, uitgestyg.)

Die herontmoeting was nie te sleg nie. Hy lyk natuurlik meer handsome as wat ek onthou en ons ry na die naaste restaurant.

Daar het baie dinge gebeur in die laaste twee of drie jaar. Hy het Joburg toe getrek vir daardie groot nuwe werk, en ek het tussen klein dorpies rondgetrek tot ek hier geland het. Daar was baie stories om te vertel.

Ons het lekker gelag en gesels en besin oor die dinge van ouds en die dinge van nou. Ek het lanklaas so lekker saam met iemand gekuier.

Toe ek huis toe ry daardie aand, besef ek weer hoekom hy vir my so ongelooflik was. Hy is als wat ‘n man moet wees: intelligent, suksesvol, en hy kan lag vir homself. Natuurlik bly hy tienduisend myle weg in die hart van Gauteng.

Die semi-boyfriend het natuurlik ook in die gesprek opgekom en ek het besef ek settle defintief vir tweede beste. Ek maak toe aan myself die belofte dat ek dit nie weer kan doen nie. Semi-boyfriend se moer. Ek soek iemand wat my waardeer vir wie ek is.

So bid ek maar dat hy nie enig in sy soort is nie. Almal verdien iemand wat hul hart vinniger laat klop, hul kan laat lag en ‘n intelligente gesprek kan voer, selfs al is dit oor iets onintelligent.

Ek soek so ‘n man. Een wat my kan laat lag oor myself.