Tips from a waiter

Want to make sure your waiter never spits in your food? Follow these tips!

Working as a waiter for the last two years have taught me a lot of patience. We have the best and nicest guests, but every server has a few pet peeves that we all struggle with. As such my fellow servers and I have come up with a list of annoying things people do.

  • Don’t seat yourself.
  • Do not seat yourself and expect us to know that you magically appeared from thin air. And then sarcastically ask to see a menu.
  • Don’t seat yourself at the only dirty table in the shop (just as the previous guests are leaving).
  • Don’t seat yourself at a dirty table and then complain about it being dirty and then insist on seeing a menu while your waiter is cleaning up.
  • Do NOT move the tables and chairs around. Our shop is set up a certain way to ensure that we can reach all the tables and everyone has some space.
  • On that note: Do not be a chauvinistic asshole and push your seat so far back that you block any passage around your table.
  • Do NOT stand in the thoroughfare to have an hour-long conversation with your long-lost friend. There are other customers in the restaurant that can’t be served if their waiter can’t reach them.
  • Bikers: I now your helmet is probably worth more than this shop. But it isn’t going to order food and thus cannot have a table all to itself. This goes for all sport and leisure gear, guys. Ladies, your handbags also falls in this category.
  • If you are dining alone, please try not to take a seat at a table for four.
  • If you have a reservation arrive, on time, or call to cancel. Don’t bring extra guests along and expect us to somehow fit another person after carefully planning the bookings and seats.
  • Read the menu! Don’t complain about the ingredients of a dish if it was clearly stated in black and white.
  • Dear customers, we only have two hands. We didn’t forget your order, but can only manage so many plates at one time.
  • In the same vein, if someone at your table orders water, you can too. Don’t make us walk up and down five times just to fetch five glasses of water.
  • Don’t touch your waiter. Ever.
  • This goes especially for grabbing your waiter by the arm while they are speaking to another guest. It’s rude to both the waiter and the customers they are serving.
  • Good food takes time. Waiting half an hour for a dish in a busy restaurant is not a long time. If you want fast food, head over to McDonald’s.
  • Tip your waiter. Even if your food took half an hour. Even if the table next to you got their food first, although they arrived 30 seconds after you. This is South Africa. We work for minimum wage and really need the tips.
  • Do not tip your waiter R3 on a R800 tab. Then just don’t tip. R3 isn’t going to pay my rent and to be honest, its an insult. Just keep it. The only people who ever tip R3 are those that complain the most anyway. Whatever, ma’am, I won’t lose sleep over the fact that you were upset over the bread crumb on your table, the temperature of your coffee or that we don’t serve pizza for your snotty child. I work hard to earn a living and don’t need to be insulted by someone disgruntled by the world as a whole.

Thank you to the magnificent people that look after us, tip well and make us smile. You are the reason we haven’t killed anyone with a kitchen knife… yet.

Lentedag: ‘n Nuwe begin en die einde van irrasionele vrese

Ek het ’n irrasionele vrees vir enigiets wat eindig. Miskien is dit eintlik net rasioneel. Of my rasionaal in elk geval.

Ek kan nie die laaste episode van ‘n TV-reeks kyk tensy die volgende reeks reeds bekend gestel is nie. Die afwagting maak my dood. Dieselfde met boeke. As daar meer as een in ‘n reeks is moet ek almal hê, anders kan ek fisies nie die boek klaar lees nie. Die Hunger Games het vir my geëindig driekwart deur die tweede boek.

Ek is seer-seker die enigste persoon wat nog nie Game of Thrones klaar gekyk het nie, want ek het opgehou met die voorlaaste episode in die eerste reeks.

Netso kan ek ook nie konflik hanteer nie. Dit beteken dat ek eerder ‘n vriendskap of verhouding sal laat doodloop eerder as om die konflik en die einde daarvan te moet ervaar.

Dit fizzle maar net in stilte tot sy dood.

In my gedagtes gaan dit dalk nog aan, iewers, miskien in ‘n parallelle heelal.

Soos ek sê, irrasioneel.

Ongelukkig affekteer dit ook die manier wat ek werk. Niemand kan ‘n deadline uitstel en uitstel tot hy fisies nie meer kan as ek nie. Dit frustreer almal wat saam met my werk en ek besef dat hierdie verklaring moontlik daartoe gaan lei dat ek nooit weer werk kry nie. Of dalk gaan dit juis nou verander! Ek het immers die eerste tree gegee in die regte rigting! Mens moet immers jou foute aanvaar en erken wanneer jy ‘n probleem het, dan nie?

Vandag is lentedag! So ek het besluit om ‘n end te sit aan hierdie baie slegte lyn van denke.

Om mee te begin: Ek kan ook nie die laaste bietjie sjampoe uit ‘n bottel gebruik nie. Ek raak antsy die oomblik as dit te min raak en sal dan nuwes koop voor ek uithardloop. Die probleem is, dat na ‘n jaar lyk my badkamer so:

Dus het ek besluit om op te ruim, skoon te maak en uit te gooi. Uit die puin het ek ‘n HELE bottel sjampoe en opknapper kon red! As ek dit laas week geweet het kon ek dalk my geld beter aangewend het. (Die wintermaande is maar skraal.)

Ek voel egter uiters verlig. Ligter, beter, skoner met die wete dat ek vandag iets kon bereik.

Ongelukkig is dit deel van depressie. Jy stel uit en uit tot jy nie meer kan nie. Dit het ook natuurlik my werk (skryfwerk) beïnvloed aangesien ek nie ‘n pen kon optel nie. Dus is hierdie storie oor meer as net sjampoe. Dit gaan ook oor die feit dat ek dit kon neerpen, vir die eerste keer in maande.

Dalk kom my vrees uit meer as wat ek hier noem. Dalk was daar net te veel slegte eindes en dis makliker om net nie te weet HOE dit eindig nie. As daar ‘n ope einde is, beteken dit dalk daar is ‘n beter uitkomste as dit wat ek weet onvermydelik is. (Daar is heelwat stories hier, maar dis vir ‘n ander dag.)

So, aan almal wat ek laat gaan het oor die laaste paar jaar, weet net dis nie jy nie. Ek hoop daar is ‘n toekoms, of ten minste ‘n afsluiting, aan ons gesamentlike avontuur.

Om terug te kom na die sjampoe: Het enigiemand sulke bottels nodig vir ‘n projek of ‘n organisasie? Ek het hope!  

Boetie Bar en die Brigadier

(Na ‘n vriendin gister ‘n foto op Facebook geplaas het van die Brigadier wat op 3 Oktober 2010 oorlede is, het ek besluit om hierdie storie te publiseer wat al lank op my hardeskyf lê en wag … )

Nieu Bethesda, weggesteek tussen die Sneeuberge van die Oos-Kaap is bekend vir verskeie toeriste aantreklikhede. Die mees bekende is Helen Martins se Uilhuis, maar deesdae, met die toeloop van mense, spog die dorp nou met sowat twaalf restaurante, waaronder ook ‘n bierbrouery en hope gastehuise.

Die dorp het baie verander die afgelope paar jaar, veral ná die teerpad van die N9 tot amper in die dorp voltooi is.

Voorheen was die klein gemeenskap meer geslote, afgesonder van die res van die wêreld en miskien ook meer afhanklik van mekaar.

Die dorp is egter nog steeds klein genoeg dat jy elkeen van die inwoners leer ken. Daar is byvoorbeeld oom Boetie Pienaar, ‘n boer en een van die historiese Pienaars wat al jare en jare in die gebied woon. Meer onlangs is daar ook Boetie Bester, ‘n kruie-boer en die bar-man by die plaaslike kroeg. Om tussen die twee te onderskei praat die mense sommer van Boetie-boer en Boetie-bar.
Dié storie gaan oor oom Boetie-bar, wat self deesdae boer, maar eintlik oor die Brigadier wat hom geleer het hoe om sy eerste uie te plant.

Brigadier Chris Roberts was voorheen een van die bekendste inwoners van die dorp. Hy was jare tevore (voor die range verander en toe wéér verander het) ‘n brigadier in die polisiediens en het graag sy titel aan almal voorgehou. Meeste inwoners sal jou vertel hoe ‘n brombeer die Brigadier was. Moeilik. Vol draadwerk.

Volgens inwoners was die Brigadier se pa die padmaker op die dorp en het hy moontlik gevoel dat hy homself op een of ander manier moes bewys. Snaaks dat die dorp se mense sy pa as die mooiste, sagste persoon onthou. Toe die Brigadier uiteindelik sy miljoen maak, was daar tot ‘n artikel in die plaaslike koerant. En op ‘n stadium het hy elkeen van sy geboue in Bethesda (en daar was heelwat, waaronder die winkel, sy huis en store) se dakke helder oranje geverf. Moontlik net om te wys dis sýne.

Maar soos my ouma nou die dag sê toe ek haar dié storie vertel: “Daar is goed in elkeen van ons.”

Boetie Bester en sy vrou Pikkie het in 2008 Nieu Bethesda toe getrek. Hulle was platsak. Boetie het alles verloor toe die vervoermaatskappy waar hy vir jare gewerk het onder hom gedisintegreer het.

“Ons het niks gehad nie,” vertel hy van dié moeilike tyd. “Net die huis en stukkie grond in Bethesda.”

Hy en Pikkie het opgepak en sak en pak getrek Bethesda toe.

Hulle was “inkommers”, nuwelinge, en het nie mense geken nie.

Tog het hulle eendag gehoor hoe ‘n bakkie voor die huis stop.

“ ‘n Groot ou man, met ‘n bos hare en ‘n kierie het uitgeklim en aan die deur kom klop. Hy het gevra wie ek is, en ek sê toe ‘Boetie Bester’ toe sê hy ‘Ek is Brigadier Chris Roberts!’, “ vertel Boetie van agter die dorp se kroeg.

“Nou wat kom maak jy hier?” wou die Brigadier weet, en Boetie antwoord dat hulle nou hier bly. Hy het nie gesê dat hulle platsak was en dat al wat hulle oorgehad het, dié huis en plot is nie.

“Hier,” sê die Brigadier toe terwyl hy na die oop stuk veld langsaan wys, “moet jy uie plant.” Boetie vertel hoe hy saam moes stap na die land waar die Brigadier hom mooi gewys het hoe ver uitmekaar (graaf-breedte) daar geplant moet word.

Maar Boetie is nie ‘n boer nie. “Nee wat Brigadier, ek kan nie plant nie. Ek het nie die implemente of ‘n trekker nie. Ek weet niks van boerdery nie.”

Die Brigadier wou egter niks weet nie en sê vir Boetie dat hý ‘n trekker het en dit Maandag sal bring om die land om te ploeg.

Maandag gekom moes Boetie en Pikkie in Port Elizabeth wees en hy het sy sus gevra om te gaan kyk wat daar aangaan. “En wragtag, laat sy weet, die swart rook trek soos die trekker die land omploeg.”

Terug in Bethesda het Boetie gaan besoek aflê by die Brigadier se huis, die groot een met die bont tuin en die oranje dak, soos jy inkom in die dorp.

“Ek het geklop en sy vrou (dis nou sy tweede vrou, Liz) het ons ingelaat en na hom geneem waar hy diep in sy stoel gesit het. Hy het nie eens opgestaan nie en ek moes om hom loop om met hom te praat. Ek sê toe dankie, ek sien die lande is omgeploeg, waarop hy antwoord dat hy ‘n man van sy woord is en ‘natuurlik’ is dit geploeg. Hy het dan gesê hy kom. Ek wou weet wat ek hom skuld. Hy sê toe hy is nie groot op dankies nie, en kan nie verstaan hoekom ek die heeltyd met hom oor geld wil praat nie. En ek is daar uit na ek gesê het dat ons weer sal praat.”

Twee dae later is die Brigadier terug by Boetie se voordeur. “Kom,” sê hy vir Boetie. “Ek sal vir jou uieplantjies gee, maar moenie dink dat ék dit gaan uithaal nie.” Hulle is daar weg in die bakkie en na hulle ‘n paar helpers opgepik het in Pienaarsig het hulle begin uie uithaal.

Boetie self diep in die land, met sy helpers rondom hom, en die Brigadier kort op sy hakke met sy kierie wat kyk en seker maak hulle doen dit reg. “So het ons 16 kratte uieplantjies uitgehaal.”

Die Brigadier wou nie hoor van geld nie (“Moenie met my praat oor geld nie!”), maar het vir Boetie dood voor die oë gesweer indien hy selfs net een van die plantjies aan iemand anders verkoop.

“Ek het dit nooit vir die Brigadier gesê nie,” vertel Boetie. “Maar die dag toe ek die plantjies gekry het was my verjaardag.”

So is Boetie huis toe met sy uieplantjies, in kratte gepak, na sy omgeploegde landerye.

Die volgende oggend staan die Brigadier reg met die helpers. “Wat weet jy van boerdery, hé?” en saam is hulle die land in waar hy mooi met sy kierie verduidelik het hoe om te plant – ‘n duim uitmekaar, graaf-breedte – maak nat.

Ten einde het hulle 45000 plantjies geplant. Twee kratte het oorgebly en is net so terug na die Brigadier (“Is jy séker jy het nie aan iemand anders iets verkoop nie?”).

Boetie se eerste oes het 350 sakkies uie opgelewer. Sedertdien het hy ook knoffel begin plant en deesdae, alhoewel hy nog agter die bar ook werk, is hy en Pikkie weer op hul eie voete.

So het die Brigadier en Boetie se vriendskap stadig maar seker sterker geword. Miskien juis omdat Boetie ‘n “inkommer” was, soos die Brigadier sou sê.

Daar was heelwat baklei ook, want die Brigadier was nou een maal nie ‘n maklike man nie. Die keer wat Boetie die planters meer geld aangebied het na hulle gestaak het: “Wat weet jy? ‘n Inkommer?! Dan wil jy sommer betaal wat jy wil betaal. Jy met jou dorpsmaniere!”

Of die keer wat Boetie hom genooi het vir potjie toe sy vrou uitstedig was. (Die Brigadier het sy bord blinkgeëet en ná ‘n tweede porsie vir Boetie ingelig dat hy niks weet van pot maak nie.) Dieselfde met die dag toe hy by Boetie gebraai het. “Wat weet jy van braai? Julle inkommers weet niks! Jy moet kom dat ék jou wys.”

Of die keer toe Boetie te veel vrae gevra het oor uie boer: “Hoe moet ék weet? Ek’s nie God nie!”

Dis hier waar Boetie, wat stuk-stuk swaar vertel het oor sy vriend, erg bedroef raak. “So is dit toe so dat Liz my een aand bel. Die ou man het geval. Ons moet kom help.”

Hy was in groot pyn en met ‘n groot gesukkel het Boetie, Liz en Pikkie die Brigadier in sy ou Mercedes gelaai. “Jy stamp nié my kar nie!” waarsku die ou man vir Boetie vanuit die agtersitplek.

“Die ou man was ten volle by sy sinne, wou die heel tyd weet waar ons is en het tot vir my verduidelik hoe om tot by die hospitaal te ry.”

Kort na hy opgeneem is die aand, tussen ‘n geskarrel om ‘n aar te kry wat nie platgeval het nie, het die Brigadier vir Boetie nader geroep en gesê: “Hulle soek die short in my. Daar is iets fout met my.”

Oom Boetie ween.

In die vroeë oggendure, kort na hulle by die huis gestop het, het hulle die oproep kry. Die ou man is dood. Kort na sy laaste woorde aan Boetie.

Net so stilweg. Weg.

Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

‘n Elegie vir ‘n ouma

Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
IMG_2991

My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.

Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.

Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.

Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.

Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.

Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.

Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.

Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.

Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.

Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.

Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.

Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.

Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!

Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.

En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”

En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”

IMG_2993

Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!

Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Gemmerbier-herinneringe

Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).

Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.

Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.

Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.

Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.

Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!

Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.

Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.

Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.

Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.

Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.

Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)

Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.

Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.

Commitment Phobia

Ek wonder party dae of ek die enigste een is wat werklik sukkel om myself aan enigiets te commit, hetsy dit in ‘n verhouding is of nie.

Ek het die week vir die eerste keer besef ek leef in ‘n konstante toestand van wag-vir-iets-beter. Die Engelse statement “a state of flux” is die motto van my lewe.

Vandat ek vroeg in 2007 begin werk het, het ek altyd gewag vir iets beter om te gebeur, ‘n beter salaris en ‘n beter werk, ‘n beter woonstel om te huur, ‘n beter boyfriend, ‘n beter lewe. Ek het geen idee wat van die laaste tien jaar geword het nie! Dis asof ek in ‘n permanente wagkamer gesit het en nie geweet het hoe om die deur oop te maak nie. En dan het dit gewoonlik gebeur dat ‘n deur oopgaan en ek het régtig getrek, na die volgende, beter plek toe. Tot dit nie meer beter was nie en ek weer begin soek het na groener weivelde.

Ek het onlangs begin by ‘n nuwe werk. Dis my droomwerk (of gaan definitief wees!). Ek het onder begin soos ‘n mens maar moet, maar dis ‘n fantastiese geleentheid om te groei en te verbeter en iets van jouself te maak. Vir die eerste keer in my werkende lewe het ek aande en naweke af om te doen net wat ek wil!

Na 8 jaar as joernalis by verskeie plaaslike koerante het ek aan die einde van laasjaar besluit om die handdoek in te gooi. Op die rype ouderdom van 30 het ek huis toe getrek en probeer om myself uit my depressie te red. Ek het begin oefen en ‘n boek(ie) geskryf. Ek het tyd saam met my ouers spandeer en ek het weer begin werk soek. Maar steeds het ek gewag… Uit ‘n tas geleef en die bokse met al my stuff het stof opgegaar.

Verlede maand het ek die Karoo van my skoene afgestof en is terug in die Moederstad. ‘n Maand later het ek besef ek het nog steeds die helfte van my bokse nie uitgepak nie. Ek het besef ek is nog steeds aan die wag vir IETS.

Ek het op ‘n stadium vir vier jaar in dieselfde huis gebly en nooit eers die moeite gedoen om spykers in die mure te kap om net my prente op te hang nie. Ek het steeds gewag. Vir iets. ‘n Teken, ‘n deur om oop te gaan of ‘n verandering wat my gelukkiger sal maak. Dieselfde het gebeur by my volgende woonstel.

Dus het ek besef dis nou tyd om te settle. En daarmee bedoel ek nie dat ek opgegee het op my drome vir ‘n beter lewe en beter werk en beter salaris nie. Dis iets waarna mens MOET streef. Jy moet iets hê om na toe te werk. ‘n Doel.

Een van my gunsteling teksverse is Jakobus 4:13-16:

“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”

Maar ek het dit egter nog altyd verkeerd geïnterpreteer. Die les is dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy sal besluit waarheen jy volgende sal gaan. Hy sal deure oopmaak en jou lei. Ek het egter net gesien dat jy nooit gaan weet hoe lank jy op ‘n plek gaan wees nie, en alhoewel dit waar is, het ek dit geleef. Ek het bly wag vir die oomblik wanneer die Here ‘n volgende deur oopmaak, sonder om die jaar wat ek wel op ‘n sekere plek gehad het, te gebruik het!

So daag ek toe myself hierdie week uit. Ek gaan my bokse uitpak en my kamer rondskuif. Ek gaan vir myself ‘n tuiste skep hier waar ek nou is.

Ek wil aan ‘n oefenprogram commit en dit actually doen. Ek wil nuwe, beter en gesonder gewoontes aanleer. Ek wil wortels skiet. Ek wil spaar en ‘n huis koop. En ‘n kat kry. En dalk ‘n hond. En dan dalk ‘n boyfriend ook.

Ek wil nie meer passief wag en kyk hoe die groen gras aan die ander kant langer word terwyl my eie gras eintlik perfek is nie.

Soos ek sê, stel doelwitte, streef na meer, maar begin jou lewe op die oomblik ook geniet.

Dis regtig nou tyd om te begin lééf!

‘n Bier teen die Karoo koue

WAT gebeur as ’n klomp wynmense van die Wes-Kaap die Oos-Kaapse koue aandurf?

Hier is ’n storie wat my ma my gister vertel.

’n Groep jagters van die Kaap het verlede week daar in ons klein Karoodorpie beland en Saterdag ’n bietjie tyd afgeknyp om die dorp te verken.

Natuurlik is daar heelwat sosiale aktiwiteite om van uit te kies in ’n stofpaddorpie met net ses strate, en hul eerste stop was by die bier-brouery, een van ons trotse besienswaardighede.

Daarna is hulle na die plaaslike watergat (die enigste) om die rugby te gaan kyk. Daar is darem deesdae ’n pool-tafel ook en halftyd blêr 1993 se treffers uit die blikkerige radio.

Saterdae beteken ook dat daar lewe by die tennisklub is, selfs al trek die termometer ver onder vriespunt.

Dis die boere se weeklikse saamtrek en die toergroep het ná afloop van die rugby daarheen gesuiker – net vir een of twee drankies.

Reeds lekker warm na al hul sosiale rondtes, het hulle by die plaaslike restaurant gaan eet, waar ’n Switserse sjef die heerlikste pizzas maak.

Dis ook dáár waar hulle die idee kry om iets buitengewoon te doen.

In ’n dorp soos Nieu-Bethesda is dit moeilik om iets aan te durf wat nog nie reeds gedoen is nie, en toe my pa begin giggel, weet hulle daar is iets aan’t broei.

Jare gelede, tydens ’n kuier by ’n destydse restaurant (die plek se naam was Stokkiesdraai), het my ouers na heelwat wyn besluit hulle gaan die “goue myl” aandurf.

Met net tekkies aan vir die dorings, het hulle om die kerk in die middel van die dorp genael. Gelukkig is daar nie straatligte in die donker Karoo nie!

Die jagters besluit toe om dié aktiwiteit een stap verder te vat, net om ánders te wees.

Twee van die manne het hul klere net daar gelos, en gewapen met ’n hoed – ingeval hulle iemand teëkom – begin hardloop, reg om die kerk (wat drie blokke van hul beginpunt af is).

Wes-Kapenaars laat hulle nie sommer onderkry nie, en om seker te maak dat niemand gou van dié insident nie vergeet nie, het hulle doodluiters die kroeg binnegestap, hoed voor die skaamte, en ’n bier teen die bibberende koue bestel.

Die kinders van die dorpie waar tyd stilstaan

Eendag lank lank gelede was daar ‘n klomp kinders wat op ‘n klein dorpie in die Karoo gebly het.

Hulle het elke Saterdag, wanneer almal terug is van kosskool, bymekaargekom by die Tennisklub. Daar het hulle fietsgery, in die modder gespeel en deur die dorp gejaag met fietse om vrugte te gaan steel. Hulle het gaan skelm swem in die dam op die punt van die dorp en moeg en vuil gestop vir ‘n koeldrank vyfuur die middag.

Die dorpie met sy stofstrate was ‘n veilige hawe vir dié kinders. Hulle het baie skel gekry oor hulle mannewales. Veral as hulel met kieste vol druiwe of rooigevlekte moerbei-hande betrap was.

Hulle was gelukkige kinders. Deel van ‘n dorpie wat min ander mense beleef. Die dorp se mense is almal soos familie, en verjaarsdae, troues en lief en leed is alles gedeel.

Toe die groepie kinders grootword, het heelparty van hulle aanbeweeg en die strate het stil geword. Party het getrou en ver in die land getrek, terwyl ander stad toe is om sukses en rykdom te gaan vind. Ander weer het oorsee gegaan en dáár hulself gaan soek.

Die dorp se mense het uitgevra oor elkeen, wou weet wat hulle doen, hoe hulle vaar op universiteit, of hulle genoeg geldmaak in hul nuwe werk en of daar al liefde op die horison was.

Hulle was gemis in die dorpie waar almal hul familie was.

‘n paar jaar later het een seun teruggekeer. Met vrou en kinders het hy teruggekeer plaas toe, na die stofstrate van sy kinderdae, en die familie wat hom met ope arms terugverwelkom het. Die kalf vetgemaak vir die okkasie.

Nog een het sy pad huis toe gevind, en hulle kinders het in die strate begin modderpoele bou.

Stadig maar seker het kinders se gelag weer in die strate begin klingel en dis asof die strate weer begin lewe het.

Die kinders van ouds het hul speletjies en stoute stories vir die jongspan vertel en die nuwe generasie het oorgevat.

Baie van die kinders bly steeds in die stede en ver van die klein dorpie, maar die gelukkige handjie-vol wat kon terugkeer huis toe maak seker dat die tradisie aanhou in die dorpie waar tyd stilstaan en vriende nog altyd deel van die familie word.