Toe ek baie jonger was, nog op skool, het ek ‘n vriendin gehad. Sy was al in haar sestigs en ek maar nog ‘n tiener.
Ek het grootgeword in een van die kleinste dorpies in die land, en tussen die skanse wat so ‘n klein gemeenskap jou bied, en die reëls en regulasies van 12 jaar se kosskool, leer jy nie sommer iets besonders van die lewe – voordat dit soms ‘n bietjie te laat is.
Dié vriendin van my het my geleer van die lewe. In plaas daarvan dat ek soos die res van die dorp se kinders Saterdae-middae tennis gespeel het, het ek stories oor die lewe sit en luister, koffie gedrink en skelm gerook op die fraai huisie in die middel van die dorp se stoep.
Daar het ek geleer van Swiss kos, die liefde, avonture in die buiteland, foute wat sy gemaak het en die verskillende loopbane wat sy al gevolg het. Dit het ingesluit ‘n koffie-winkel met live musiek in Kaapstad, ‘n dans en joga-studio, ‘n onderwyser en ‘n refleksoloog. Sy het avonture gehad saam met die rich en famous, die armes en die akademikusse.
Sy het stories vertel oor haar vier huwelike, wat almal weens verskeie redes uitmekaargeval het. Sy het ook vertel van die ander mans wat sy gehad het, hoe sy haar seun grootgemaak het, en hom ondersteun het deur sy donkerste dae. Party dae het sy sit en huil oor die laaste koppie koffie en ander kere het ons gelag terwyl sy nog ‘n dagga-sigaret opsteek.
Sy het my probeer leer om weg te bly van gevaarlike middels, soos koffie en sigarette, maar meestal ook gevaarlike mans. In die jare wat ek daar omgekuier het, het ek ouer en wyser geword. Selfs al kon ek baie van dié avonture nie vir myself deurleef in die kleine dorpie waar ek gewoon het nie. Noudat ek self nader an die stad beweeg het, waar meeste van haar avonture plaasgevind het, dink ek baie aan die lesse wat sy my geleer het. Ek het jare laas met haar gepraat, en partykeer dink ek daaraan om bietjie te bel en te hoor hoe dit gaan.
Maar dan lê die jare tussenin te lank en ver en my eie avonture soos ‘n skaduwee wat ons vriendskap verberg. Miskien is ek bang om te erken dat ek nie al haar raad gevolg het nie, of dat ek self so baie geleer het, dat ek weet dat baie van die lesse wat sy my geleer het, eintlik verkeerd was.
Dis nie dat ek nie haar raad waardeer het nie… Ek glo dit net nie meer blindelings nie…
