Vandag was een van daardie stadiger dae. Ek het heeldag rondgehardloop tussen ‘n simposium wat by die universiteit aangebied is oor gesinsgeweld se die nuutste navorsing in Suid-Afrika en die kantoor waar ek naarstigtelik probeer het om my laaste stories klaar te maak voor deadline.
Dit beteken natuurlik dat ek niks ordentlik kon doen nie, en al die interessante dele van die simposium misgeloop het… ai…
Vandag is die eerste dag van 16 dae se aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Op 25 November elke jaar word dié saak wêreldwyd aangespreek. Konferensies word gehou en idees uitgedink, navorsing word gedeel. En so probeer ons die geveg teen gesinsgeweld veg.
Maar aan die einde van die dag is die skuilings en tronke vol – gebroke vroue en hul kinders moet jarelange hulp kry om net weer normaal te kan leef, dis nou die wat wel oorleef, en die mans dien hul straf agter tralies.
Een van die vroue, Shanaaz Mathews, by die simposium het navorsing gedoen onder 20 mans wat óf hul girlfriends óf hul vroue vermoor het. Sy het met elkeen in die tronk gaan praat oor sy verlede en sy hede, hoe hy voel oor sy ma en sy pa en hoekom hy gedoen het wat hy gedoen het.
Meeste van dié mans, wat strek oor al die rasse-groepe, het voor die dood van hul vroulike helf reeds ‘n rekord vir geweldadige gedrag geopenbaar. Ek wou natuurlik vra hoe de joos hulle uitgelaat kon word. Hulle het ook almal probleme met hul pa’s (meeste in elk geval) wat nie teenwoordig was nie. Van hulle is oorlede, ander het hulle nooit geken nie en ander se pa’s was tuis maar nie regtig teenwoordig nie, of uitermatig geweldadig.
Meeste van hulle beskryf hul ma’s as goeie mense, wat hul slegs gedissiplineer het wanneer hulle verkeerd was. Die hoeveelheid geweld is natuurlik iets waaroor ‘n mens moet wonder. Baie vrouens is self bekend vir hul geweldadigheid.
Aan die einde van die dag is daar ‘n klomp mense daar buite, meeste van hulle getraumatiseer deur hul verlede, wat weer hul kinders traumatiseer. Hul maak hul eie eggenote dood. Die persoon vir wie jy die liefste moet wees.
Dit maak my ongelooflik hartseer. Soos die seun wat sy sussies en sy boetie verkrag het omdat hy kwaad was dat hulle sy pa toegesluit het nadat hy dieselfde gedoen het.
Weet ouers nie wat hulle doen nie? Weet hulle nie dat dit nie net hul eie lewens raak nie? Wanneer geweld só wyd begin uitkring dan moet ‘n mens begin wonder.
Die navorsers hou vol dat vroue wat deur hul mans of boyfriends aangerand word moet aandring op ‘n aborsie. Termination of pregnancy, om dit mooi sag te stel. Mens kon sien hoe van die mense in die gehoor hulself moes inhou om nie te protesteer nie.
Nou vra ek jou, as jy uit só huis kom, en in só huis in trou, wie is die mense buitekant jou omstandighede om te besluit wat die regte keuse is vir jou. Almal wat so hard probeer om aborsie teen te staan het verseker nog nie ‘n gebroke vrou, sonder geld, sonder ‘n man, net met ‘n plastieksakkie in die hand, gesien nie.
Judge jy maar self.
