So het ek die naweek wel nog ‘n stokperdjie aangekweek, of ten minste probeer. Hier is ‘n bietjie oor my week as beeldhouer.
IN die gees van die nuwejaar het ek oor die naweek nóg ’n projek aangepak.
Die idee is om elke week iets nuut te begin, en ná ek die eerste week probeer tuinmaak het (absolute chaos), het ek my hande aan klei geslaan en gekyk wat kom daaruit.
Een ding is verseker; ek het splinternuwe respek vir beelhouers. Beeldhouwerk is hard werk!
Dit hang seker af van die tipe klei wat jy gebruik, maar die sandklei (R7 per kilo) is nou een maal nie baie maklik om te gebruik nie.
Natuurlik moet jy eers opkom met iets om te maak en die beste waarmee my skamele kunssinnigheid kon opkom was ’n mannetjie met ’n slap hoed. (Moet eerder nie vra nie!)
So begin die bene, lyf, arms en kop vorm kry. Die enigste probleem is met dié tipe klei is dat jy seker moet maak al die dele is ordentlik aanmekaar vas. Jy moet elke deeltjie krap met ’n nat stokkie sodat dit aanmekaar plak en sodoende nie uitmekaar val as dit gebak word nie.
Die arms wou nie lekker vorm vat nie en die arme man het heel ongemaklik gelyk waar hy skeef-skeef staan.
Met lam bo-arms en hande het ek die laaste afwerking gedoen, tog te bly dat dit uiteindelik klaar is. My geduld was lánkal op.
Die eindproduk het gelyk soos ’n voëlverskrikker, met ’n flopperige hoed op sy kop. 
Die arms was egter nog steeds ’n probleem, tot my goeie vriendin met die idee opkom om hom ’n vurk in die hand te sit.
Jack (soos hy toe gedoop is) het ’n vurk gekry, en met die hulp van vriendin (’n brons patineur), is Jack se vurk vinnig verander van vlekvrye staal na ’n roeskleurige brons. (Dankie, Janapatina!) Ek het wel my vingers verbrand aan die ongelooflike warm vurk aangesien ek nie besef het hy was al onder die vlamme nie!
En net so het Jack sy ontstaan gehad. Hy moet nou maar wag staan en die goggas en plantetende hasies uit my armsalige tuin hou.
Dalk is dit net wat my tuin nodig gehad het.
Update: Jack het gesneuwel. My vriendin se Sofie het haar bak op Jack laat val. Koploos en armloos. Arme Jack. RIP.
