Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

Dankbaarheid op Vrydae

So een Vrydag in ‘n maand gee ons kantoor vir die arm mense kos.

Dis nogal iets om te sien. Die ry van so om en by 90 mense staan skaam-skaam nader. Kleurlinge, wit en swart, almal staan tou by die kiosk waar ons die groente-mengsel saam met gister se brood op ‘n bord vir hulle uitsit.

Vroue kry eerste, dan die mans, en dan kan jy nader staan vir seconds. Soortvan soos in die jare wat ek op kosskool was. (Ek was wel vir al 12 my skooljare in die ‘Hok’!) Die hongerte dwing die mense om hul eer te vergeet en met gebakte hande nader te staan vir ‘n klein ietsie om aan te kou.

On smaak beurte om die pot gelaai met groente huis toe te vat en dit dan op te kook tot in ‘n stew. Almal voel half sleg om dit net so voor te sit, so hulle gooi darem bietjie lekkerte by. Wie sal nou vir mense iets gee wat hulle self nie eet nie?

Ons daag dan op. Swartsakke vol verslane brood en twee potte vol gekookte groente.

Daar word eers geopen met gebed en dan skep ons hompe groente in polisterienbakkies wat die mense in die kantoor gaaf genoeg was om bymekaar te maak. (Ek vergeet altyd!)

Maar so doen ek my deel elke maand. Ek spandeer ‘n halfuur saam met die armste van die arm. Wat nie eers geld het vir ‘n broodjie nie. En jy word dankbaar.

Jy kan nie anders as om jou hart oop te gooi vir dié mensies nie. Hulle sê so mooi dankie vi r die klein beitjei wat hulle kry, veral as daar nog oor is vir ‘n tweede skeppie.

Dit bring ‘n mens weer terug grond toe. Een keer ‘n maand staan ek terug en waardeer ek wat ek het. Selfs al werk ek twee jobs om dit te kry. Ek het ‘n dak oor my kop, kos in my maag, en vriende en familie wat darem so nou en dan sal kan uithelp as dit sukkel.

Ek is geseënd.