Gemmerbier-herinneringe

Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).

Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.

Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.

Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.

Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.

Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!

Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.

Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.

Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.

Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.

Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.

Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)

Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.

Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.

‘n Bier teen die Karoo koue

WAT gebeur as ’n klomp wynmense van die Wes-Kaap die Oos-Kaapse koue aandurf?

Hier is ’n storie wat my ma my gister vertel.

’n Groep jagters van die Kaap het verlede week daar in ons klein Karoodorpie beland en Saterdag ’n bietjie tyd afgeknyp om die dorp te verken.

Natuurlik is daar heelwat sosiale aktiwiteite om van uit te kies in ’n stofpaddorpie met net ses strate, en hul eerste stop was by die bier-brouery, een van ons trotse besienswaardighede.

Daarna is hulle na die plaaslike watergat (die enigste) om die rugby te gaan kyk. Daar is darem deesdae ’n pool-tafel ook en halftyd blêr 1993 se treffers uit die blikkerige radio.

Saterdae beteken ook dat daar lewe by die tennisklub is, selfs al trek die termometer ver onder vriespunt.

Dis die boere se weeklikse saamtrek en die toergroep het ná afloop van die rugby daarheen gesuiker – net vir een of twee drankies.

Reeds lekker warm na al hul sosiale rondtes, het hulle by die plaaslike restaurant gaan eet, waar ’n Switserse sjef die heerlikste pizzas maak.

Dis ook dáár waar hulle die idee kry om iets buitengewoon te doen.

In ’n dorp soos Nieu-Bethesda is dit moeilik om iets aan te durf wat nog nie reeds gedoen is nie, en toe my pa begin giggel, weet hulle daar is iets aan’t broei.

Jare gelede, tydens ’n kuier by ’n destydse restaurant (die plek se naam was Stokkiesdraai), het my ouers na heelwat wyn besluit hulle gaan die “goue myl” aandurf.

Met net tekkies aan vir die dorings, het hulle om die kerk in die middel van die dorp genael. Gelukkig is daar nie straatligte in die donker Karoo nie!

Die jagters besluit toe om dié aktiwiteit een stap verder te vat, net om ánders te wees.

Twee van die manne het hul klere net daar gelos, en gewapen met ’n hoed – ingeval hulle iemand teëkom – begin hardloop, reg om die kerk (wat drie blokke van hul beginpunt af is).

Wes-Kapenaars laat hulle nie sommer onderkry nie, en om seker te maak dat niemand gou van dié insident nie vergeet nie, het hulle doodluiters die kroeg binnegestap, hoed voor die skaamte, en ’n bier teen die bibberende koue bestel.

As jou verhouding grondpad raak

So sit ek nou die dag in my favourite bar en nonsense praat, pretty much soos elke dag. Die locals kom en gaan soos altyd, en ek knoop ‘n geselsie aan met ‘n ou wat ek lanklaas gesien het.

Hy vertel my van sy verhouding wat deesdae nie meer teerpad is soos aan die begin nie, en dat dit nou begin grondpad raak het. Vol slaggate!

Ek dog toe by myself, dis darem maar ‘n mooi manier om dit te stel. Aan die begin van elke verhouding loop dinge glad, soos ‘n nasionale pad tussen twee klein dorpies waar daar niks traffic is nie.

Maar dan raak dit moeiliker. Jy kom nader aan ‘n stad en die verkeer raak al hoe meer. ‘n Ongeluk maak dat die pad begin bottelnek en jy sit jou pad verder op ‘n slakkepas. Ek dink dis daai rut wat jy tref nadat jy vir ‘n rukkie in ‘n verhouding was.

Dinge het nou klaar gevorder tot waar dit kan en sukkel om vorentoe te gaan. Nuwe issues klim uit die kaste uit en stop dat ‘n verhouding verder gaan.

Nou gewoonlik kom jy darem deur die traffic en jy kry weer die gladde pad aan die ander kant van die stad. Dinge loop weer goed, en afhangend van jou en jou partner se verwagtinge bereik jy uiteindelik ‘n destinasie.

Maar dis ook nie altyd so nie. Partykeer moet jy eers afdraai op daardie nou plaaspaadjie. Die slaggate en dongas maak dit moeilik om enigsins verder te beweeg en dis dikwels ook waar meeste break-ups gebeur. Die vrot grondpad eis sy tol.

So ek wag maar nog steeds vir daardie man met ‘n moerse 4×4. Mense spot jou mos as jy die stad se paaie aandurf met jou grote bakkie, maar ek dink dis nodig in ‘n verhouding. Die bakkie is nie sodat jy enige plek kan park as jy in die stad ry nie, maar vir daai keer wat jy die grondpad slaan.

Ek soek daardie man op wie ek kan staatmaak. Wat deur die dongas en óm die rotes en deur slote en gate kan ry, totdat ons weer eendag teerpad kry.

Maar soos hulle sê: Life’s a journey, might as well enjoy the ride. Al is dit net vir ‘n kort rukkie.

Valentynsdag so toe nou nie so vaal

Die week se rubriek… Nie regtig daarvan gehou nie…

DAAR is min mense wat so min van Valentynsdag hou soos ek. Dus doen ek elke jaar my deel vir al die enkellopendes en organiseer ’n anti-Valentynsdag-partytjie.
Dis nie dat ek teen liefde is nie, maar ek is realisties oor die feit dat die ridder op die wit perd heel moontlik nie gaan opdaag nie, en veral nie op Valentynsdag nie.
Dus doen ek my deel as St. Valentine en kry al die enkellopendes bymekaar.
Net miskien gebeur dit dat twee mense wat nog altyd verby mekaar geloop het, dié keer in mekaar vasloop en geluk vind.
Maar vanwaar my renons in dié dag?
Almal het mos maar hul stories van ‘Vaaltyn’. Party vind liefde en ander besluit om te trou. Die meeste mense glo dis alles net ’n geldmaak-storie en baie paar­tjies weier om dit te vier (hoewel die meisies eintlik nog steeds hoop vir ’n massiewe bos rose).
Ek het wel een keer, so vier of vyf jaar terug, ’n ou gehad op Valentynsdag. Ek was baie opgewonde, en gedink ek gaan wakker word met sjokolade en blomme.
Toe nou nie. Hy het juis daardie dag gekies om ons verhouding te beëindig.
En sedertdien drink ek en al my ander single vriende te veel en vier saam ons saam ons alleen-wees. Dié naweek was dit weer sulke tyd.
Op die ou end was daar ’n hele klomp van ons saam vergader in dieselfde kuierplek. In swart geklee het ons saam gekuier, saam gaan swem in die middernagtelike ure en saam-saam ons gedrag berou met ’n massiewe hoofpyn Sondagoggend.
Sondagmiddag het ek my babelaaslyf deur die stort gesleep en na ’n gesellige krieketwedstryd by Van der Stel gaan kyk.
’n Klomp mense wat ek ken het gespeel, en dié wat nie gespeel het nie, het langs die veld in die son gesit en hul span ondersteun.
Dit was seker die lekkerste Valentynsdag ooit. Hope vriende bymekaar, ’n groot braavleisvuur en samesyn.
Selfs al is ek nog steeds op die rak, het die dag vir my nuwe betekenis. En dalk het daardie ridder teen volgende jaar besluit om op te daag!