Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).
Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.
Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.
Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.
Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.
Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!
Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.
Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.
Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.
Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.
Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.
Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)
Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.
Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.






