Voel dit… nog net tien dae…

DIS maar ’n blou Maandag, blouer as gewoonlik omdat die Blou Bulle jou waarlik die Super 14 gewen het.

Ek was heel mistroostig toe die laaste fluitjie blaas. As iemand wat nie regtig ’n rugby-ondersteuner is nie, het ek die Stormers kliphard aangemoedig en was skoon hees geskree.

Ek hoop nou maar Bafana-Bafana doen iets ongeloofliks by die Fifa 2010 Sokkerwêreldbeker wat vandag net tien dae weg is.

Dis wonderlik hoe die land ewe skielik begin saamstaan. Die Blou Bulle en die sokkeraanhangers in Soweto wat soos wafferse drinkebroers in dieselfde kroeë uithang, die vuvuzelas wat dreun en Blou Bul-makarabas – die handgeverfde hardehoed met die span se kleure en vlae daarop – wat orals te sien was by die rugby-finaal.

Hier in die Kaap word jy ook al hoe meer bewus van ’n gees van samesyn. Ek verdwaal Vrydag vir die hoeveelste keer in die stad, maar met Google Maps op my foon, probeer ek weer op die regte pad kom.

Ek is nog besig om my karige navigasie-kennis toe te pas, toe ek iemand hier by my hoor skree: “Ayoba Sisi, it’s Ayoba time!”

In ’n taxi langsaan hang ’n man by die venster uit. Dis net wit tande in die vriendelike swart gesig wat breed glimlag, terwyl hy na my foon beduie. Dit was onmoontlik om nie terug te glimlag nie.

Soos die taxi in volle vaart wegtrek, skree die man al waaiende, hand teen sy oor: “Don’t call me, I will call you!”

Miskien gaan die sokker regtig ’n verskil maak in die land. Rassisme en vooropgestelde idees oor die verskille in kulture kan afgebreek word deur mense uit alle oorde wat almal ’n Suid-Afrikaanse vlag aan hul voertuig hang en ’n Bafana-trui op Vrydae dra.

2010 gaan dalk nie so ’n groot impak hê soos baie mense gehoop het nie. Dit gaan nie armoede uitroei nie. Dit sal verbygaan en Suid-Afrika sal terugkeer na sy gewone ritme, soos Stellenbosch ná die Karnaval: bietjie verweer, maar steeds aan die gang.

Dalk sal ons almal ietwat meer verdraagsaam aan die anderkant uitstap wanneer ons as één geel en groen massa opgestaan en “Laduuuumaaa” geskree het!