As boerseuns begin vrou soek

EK hou van boerseuns. Ek hou van hul mentaliteit, die groot bakkies, die breë skouers en die plat-op-die-aarde-houdings.

Dit kan egter nie gesê word van alle boere nie, en dit sluit ook nie alle ander mans uit nie. Maar die rede vir dié stelling is eintlik dat ek onlangs die lys van die nuwe Boer soek ’n Vrou-reeks se seuns gesien het.

Een naam lyk toe al te bekend, en ná ’n bietjie navorsing, kry ek dit jou werklikwaar. Die oulike boerseun wat destyds saam met my op skool was het wraggies vir die program ingeskryf!

Met die eerste reeks het ek dit régtig oorweeg om in te skryf. My boer was gekies, my foto geneem en ek wou met alle mag die ding pos. Tog het iets my daarvan weerhou. Nog nooit was ek só bly oor ’n besluit nie.

Die boer wat ek destyds gekies het (ons sal eerder nie name noem nie) het toe heeltemal anders uitgedraai as wat sy oulike video belowe het.En toe begin die skandale. Veral ná die tweede reeks het heelwat stories uit die geraamtekas van dié boere en hul meisies begin klim. (In die Karoo loop stories wyer as wat die pers ooit kan!)

Ek lees nou die dag weer ’n brief van ’n boervrou wat in die Rapport gepubliseer is oor haar lewe op die plaas. Sy vertel van haar ervaringe en dit is duidelik dat die plaaslewe definitief nie so romanties is soos dit in dié program voorgehou word nie.

Dit is ’n harde wêreld waar vroue moet saamwerk om van die besigheid ’n sukses te maak. Jy ruil hoëhakskoene in vir top-boots en kakies, en fancy karre vir ’n plaasbakkie. Die meeste boervrouens moet ’n tweede besigheid bedryf net om die kinders deur skool en universiteit te kry. Van my skoolmaats, ook van die plaas, moes van jongs af reeds naweke help om die vee in die kraal te kry.

Jou kinders is bevoorreg om in die platteland groot te word, maar die skole is soms so ver dat hulle van vroeg reeds kosskool toe moet gaan.

Tog moes ek twee keer kyk na die foto’s van die seuns wat hulself op só ’n manier in die mark plaas. Hulle is nie te sleg om na te kyk nie, hou almal van piekniek en een vlieg selfs ’n helikopter.

Dalk is daar goeie boerseuns daar buite. Ek is net nie seker of hulle op nasionale televisie te vinde is nie.

Sal die regte boere asseblief opstaan?

DIE boere is deesdae omtrent in die nuus.

Eers was dit mynmagnate wat wingerde wil omdolwe om sink en klei uit te haal, en nou wil die regering al die plase vat en nasionaliseer, beginnende met die wildsplase. Ek lees tans PG du Plessis se Fees van die Ongenooides, wat nou ook Dinsdae as ’n TV-reeks op kykNET uitgesaai word.

Die storie handel oor die Anglo-Boereoorlog en hoe ’n uitgebreide Van Wyk-familie die oorlog en konsentrasiekampe oorleef het. Die ouens in die regering wat nou so aan die boere karring, het lanklaas gaan kyk na wat in die geskiedenis gebeur het. Die boere het teen duisende

Rooinekke opgetrek en hulle soveel skade berokken dat die Britte op die ou einde hul vrouens en kinders in kampe moes sit, hul huise moes afbrand en al hul vee moes doodmaak. Nie eens dít kon die boere se veglus stuit nie. Hulle het opgestaan vir dit wat vir hulle belangrik is, en baklei. Tot die dood toe.

Ná die oorlog is hulle terug na hul plase en het deur harde werk weer alles opgebou. Nou, 200 jaar later, is daar sprake van nasionalisering en mynregte wat aan staatsinstansies gegee word.

My pa is self ’n boer en ons plaas is reeds 132 jaar en ses geslagte in die familie. Die boere in ons omgewing het ook entoesiasties grondhervorming probeer aanhelp deur gedeeltes van hul plase aan hul werkers af te staan en hulle met ’n mentorskap-program te help om hul eie boerdery op te bou. Die projek staan egter nou stil omdat die regte amptenare nooit gereageer het op die planne nie.’n Paar boere in dié area het wel die program suksesvol geïmplementeer.

Onlangs, by die Stellenbosse Landbouvereniging is in gesprekke baie aandag gewy aan behuising vir plaaswerkers.

So “veg” die boere voort, ook vir hul mense.

Die vraag wat gevra moet word, is: Sal die regering omsien na die mense wat nou op die plase werk en wat jare reeds vergete gebly het as dit by staatssubsidies vir behuising kom?