Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

‘n Elegie vir ‘n ouma

Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
IMG_2991

My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.

Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.

Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.

Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.

Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.

Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.

Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.

Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.

Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.

Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.

Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.

Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.

Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!

Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.

En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”

En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”

IMG_2993

Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!

My Antie Kraai

EK lees gisteroggend Valiant Swart se rubriek oor huishulpe.

Hy vertel hoe so iemand deel kan word van jou gesin en die lief en leed kan deel. Toe ek baie klein was, het ek só ’n oppasser gehad. Haar naam was Antie Kraai.

Eintlik was dit Angeline­ Kraai, maar daai lange naam was een te veel vir my kindertong om reg te kry en sy was sommer net my “Antie Kraai”. Haar mense het haar egter al die jare Antie Evelyn genoem en dis ook met dié naam wat sy ’n celebrity geraak het.

Vir die eerste paar jaar van my lewe moes die liewe Antie baie rond hardloop om seker te maak ek en my ouer sussie bly uit die modder en die moeilikheid, terwyl ons nie ons kleiner boetie uitbuit nie.

Sy het gesorg dat ons tande geborsel en hare gekam is. Sy het ons beddens opgemaak en kaste reggepak. Sy het my verskriklik bederf. Sy het altyd gelag as sy vertel hoe ek “my pê” wou hê. My ousus was voor my uit die doeke en ek wou ook soos sy grootmeisie-onderklere dra. Dis steeds een van die dinge wat sy oorvertel wanneer sy my sien.

Haar man, Flip Oliphant, was my pa se voorman, en hy het later begin om vir die munisipaliteit te werk en hulle is van die plaas af weg.

Maar my Antie Kraai was ’n goeie sakevrou, en aangesien Nieu-Bethesda (waar hulle nog steeds woon) die meeste van sy inkomste uit toerisme genereer, het sy die geleentheid aangegryp en ’n restaurant begin.

Vandag is sy bekend vir haar drie-gangmaaltye – tradisioneel met ’n township-invloed. Bobotie, roosterbrood en moerkoffie uit die boonste rakke. Die heerlikste kos bedien in haar eenvoudige huisie in Pienaarsig wat oor die sokkerveld uitkyk. Sy sal ook tydens die maaltyd met jou gesels en heelwat te vertel hê oor haar eie lewe, haar kinders en die gemeenskap.

Menige joernalis het al haar drumpel deurgeloop en seker gemaak haar bekendheid groei.

Ek maak deesdae my eie bed op en pak self my kaste reg, want Antie Kraai het haarself van ’n geliefde huishulp opgewerk na ’n bobaas-kok en vandag is sy famous.

Die kinders van die dorpie waar tyd stilstaan

Eendag lank lank gelede was daar ‘n klomp kinders wat op ‘n klein dorpie in die Karoo gebly het.

Hulle het elke Saterdag, wanneer almal terug is van kosskool, bymekaargekom by die Tennisklub. Daar het hulle fietsgery, in die modder gespeel en deur die dorp gejaag met fietse om vrugte te gaan steel. Hulle het gaan skelm swem in die dam op die punt van die dorp en moeg en vuil gestop vir ‘n koeldrank vyfuur die middag.

Die dorpie met sy stofstrate was ‘n veilige hawe vir dié kinders. Hulle het baie skel gekry oor hulle mannewales. Veral as hulel met kieste vol druiwe of rooigevlekte moerbei-hande betrap was.

Hulle was gelukkige kinders. Deel van ‘n dorpie wat min ander mense beleef. Die dorp se mense is almal soos familie, en verjaarsdae, troues en lief en leed is alles gedeel.

Toe die groepie kinders grootword, het heelparty van hulle aanbeweeg en die strate het stil geword. Party het getrou en ver in die land getrek, terwyl ander stad toe is om sukses en rykdom te gaan vind. Ander weer het oorsee gegaan en dáár hulself gaan soek.

Die dorp se mense het uitgevra oor elkeen, wou weet wat hulle doen, hoe hulle vaar op universiteit, of hulle genoeg geldmaak in hul nuwe werk en of daar al liefde op die horison was.

Hulle was gemis in die dorpie waar almal hul familie was.

‘n paar jaar later het een seun teruggekeer. Met vrou en kinders het hy teruggekeer plaas toe, na die stofstrate van sy kinderdae, en die familie wat hom met ope arms terugverwelkom het. Die kalf vetgemaak vir die okkasie.

Nog een het sy pad huis toe gevind, en hulle kinders het in die strate begin modderpoele bou.

Stadig maar seker het kinders se gelag weer in die strate begin klingel en dis asof die strate weer begin lewe het.

Die kinders van ouds het hul speletjies en stoute stories vir die jongspan vertel en die nuwe generasie het oorgevat.

Baie van die kinders bly steeds in die stede en ver van die klein dorpie, maar die gelukkige handjie-vol wat kon terugkeer huis toe maak seker dat die tradisie aanhou in die dorpie waar tyd stilstaan en vriende nog altyd deel van die familie word.

Die wit man en die Khoisan

Bruingebrand, soos die Kalahari se woestyne, die wit man wat baklei vir die Khoisan se mense. Vol stories oor die geskiedenis van dié stamme wat eintlik lankal vergete is.

Hy is een van die eerste wit mans om ingelyf te word by die Khoisan as een van hulle. Nadat hy sy nasate gaan opsoek het, het hy geleer dat sy stammoeder in Suid-Afrika ‘n Khoisan van die Kaap was. Daar waar hy nou in die Oos-Kaap woon, veg hy nou vir die erfenis van dié mensies.

Hy vertel van hul waardes, hul geskiedenis, hul geloof en hul tradisies. Hy vertel hoe die toordokters sekere dinge net weet, en hoe die mense glo dat die geeste by sekere poele loop. Hy vertel van die groep mense wat uitgelaat word uit die kleurryke kombinasie van mense in die land.

Die Khoisan het nog altyd aan die kortste ent getrek. Hulle is nie wit óf swart genoeg om regtig aan een kant van die draad te staan nie, en alhoewel hulle in die apartheids-era ook gemarginaliseer was, trek hulle vandag steeds aan die kortste ent.

Dit het dié groep mense nou aangespoor om te begin veg vir wat aan hulle behoort. Die stukke grond waar dele van hul geskiedenis weggesteek lê word nou tot in ‘n mate beskerm en dis waar die wit man met die stories inkom, as die woordvoerder vir die Gamtkwa Khoisan stam.

Een van die belangrikste stories is natuurlik dié van Saartjie Baartman (1789 – 29 December 1815). ‘n Paar jaar terug is Sarah Baartman se oorblyfsels teruggebring na Suid-Afrika en sy is ter ruste gelê naby haar geboorteplek in die Oos-Kaap, maar die verhaal wat dit vooruitloop is ‘n hartseer een.

Saartjie was ‘n weeskind. Haar ouers is vermoor in ‘n kommando-aanval, en sy het ‘n slaaf geword aan een van die boere wat in die area gebly het se huise.

Haar vreemde voorkoms, die groot boude en oormatige geslagsdele, het haar eienaar se broer die idee gegee om haar oorsee te stuur met die belofte dat sy ryk sou word. In 1810 het sy vertrek na Londen, op die ouderdom van 21, en tentoongestel aan die publiek sodat hulle haar vreemde voorkoms kon bewonder. Sy was later gedoop as die “Hottentot Venus”, maar vir alle doeleindes was sy ‘n frats en ‘n grap wat soos ‘n kreatier in ‘n dieretuin uitgestal is.

‘n Tyd daarna is sy verkoop aan ‘n Fransman. In Frankryk moes sy weer haarself uitstal sodat mense haar vreemde voorkoms kon aanskou.

Toe dit vir die Franse afgesaag raak, het sy hewig begin drink en haarself onderhou deur prostitusie. Sy is op die ouderdom van 25 dood in Frankryk. Ná haar dood is haar oorblyfsels, selfs haar gepreserveerde geslagsdele, uitgestal in die Musée de l’Homme in Parys, maar is later verwyder. ‘n Namaaksel van die oorblywenis is egter nog vir twee jaar later uitgestal.

Ná die val van apartheid in Suid-Afrika het die nuwe ANC prsident, Nelson Mandela, aangedring dat haar oorblyfsels teruggestuur word na haar tuisland. Na vele onderhandelinge het Frankryk ingegee en op 9 August 2002 on Vergaderingskop, net buite Hankey in die Oos-Kaap, neergelê.

Dit was die eerste Khoisan begrafnis waar die wit man betrokke was. Sedertdien het hy drie ander geraamtes uit die pad van die stootskrapers gered en op veilige plekke laat begrawe.

Om sy arm het hy vier armbande. Dit is vir elkeen van die beendere wat hy ter ruste gelê het. Die armbande is gemaak uit ‘n tipe riet wat sag en maklik om jou arm vou, en wanneer dit droog word hard word. ‘n Khoisan tradisie wat hy volhou ter ere van die mense.

Vandag is daar ‘n hele groep mense wat betrokke raak by die beweging. Hulle leer weer die klik-klak taal van die ou-tyd aan, doen die danse wat diere na-aap, lees die werke van die mense wat in daardie tyd geleef het, en baklei vir die grond waar hul erfenis ‘n merk gemaak het.

Sterk staan die wit man, met die bruigebrande vel, tussen die mense. Sý mense.

Kleindorpie families

Die voordeel, of nadeel, van een van die kleinste dorpies in die land af kom is dat jy grootword met die hele dorp as jou familie. Jarre nadat jy die huis verlaat het, weet almal nog altyd van jou graad, wat jy óf gekry het óf nie, jou nuwe boyfriend, jou nuwe werk en jou nuwe stokperdjie.

Dis asof die mense in die klein gemeenskap waaruit ek kom nog altyd gereed staan om te luister oor ‘n brokkie van een van “hulle” kinders. Dit beteken ook dat jy hulle almal te nooi indien jy die dag 21 word, vir jou 30ste, 40ste en 50ste verjaarsdag, maar veral as jy die dag besluit om te trou.

Trou is groot in ons gemeenskap. Daar word tussen jou en die man (of vrou, maar daar is nie baie seuns uit ons area nie) se vriende mooi gekies wie genooi moet word, want die familie word gelys, maar eers nadat die hele distrik klaar by tafels ingedeel is.

Dit is natuurlik ook waar vaqn die nuwe mense wat in die dorp intrek.

Ek bly reeds om-en-by sewe jaar nie meer by die huis nie. Toe ek nog op varsity was, het ek darem vakansies in die enigste pub op die dorp gewaiter vir ekstra sakgeld. In daai dae het ek natuurlik alles van almal geweet, want selfs al was jy nie ‘n gereelde besoeker aan die pub nie, was daar nogal heelwat ander mense wat jóú ken en dus sommer jou stories oorvertel vir jou part.

Ná universiteit het ek na die eerste klein kusdorpie getrek, en ek het nooit weer regtig tyd gehad om maande by die huis te spandeer nie. Selfs ‘n naweek was partykeer baie gevra, en dan was dit gewoonlik oor die vakansietye wat jy in elk geval net op die plaas bly saam met die familie.

Na drie jaar van werk het daar baie nuwe mense ingetrek in my tuisdorpie. Baie van hulle is sommer weer vort ook. En dis dié wat vir my nogal vreemd is.

My ma bel my so een keer ‘n week en dan vertel sy my die skindernuus wat loop in die dorp. My arme moeder het natuurlik vier kinders en ek dink partykeer sy vergeet vir wie sy wat vertel het, en dus kom van die nuus maar so deur my siblings eers by my uit. Nuwe intrekkers, liefdeskandale, dood en verjaarsdae. Dis alles waaroor daar gesels word, maar deesdae klink al die name vir my nie so bekend nie.

Van hulle ken ek van altyd die stories hoor, maar baie is maar steeds onbekend. Tog praat my ma nog steeds van hulle asof hulle jare-lange familie is, en ek gesels maar saam, so asof ek eintlik weet wie is wie.

Die ergste vir my is natuurlik om na al die jare in die verre terug te keer huis toe, die tennis klub, wat die sosiale samekomsplek op Saterdae is, te betree, en van alle kante af aangekyk te word as ‘n vreemdeling.

So wanneer jy die ou bekendes op die ry af begin soen-groet, dan sal die nuwe, vreemde, locals begin besef jy is eintlik een van die verlore skape, en stadig begin opwarm en jou weer insluit in die gemeenskap.

Dit was nog altyd vir my sleg. Dis asof ek familie het wat ek nog nooit ontmoet het nie, al klaar van vervreemd geraak het.

Tóg is dit die mense wat jy graag by troue sal wil hê, wat tot laat die tafelwyn sal sit en drink saam jou pa, saam die dansbaan sal aandurf en nuwe moves uit die verte leer en juis sal onthou van jou groot dag.