Slaapvrate en drake

As kind het ek ‘n gunstelingstorieboek gehad. 

Die boek, Slaapvraat en Leander, het gegaan oor ‘n seuntjie wat nie kon slaap in die aande nie. Die Slaapvraat het dan by hom kom kuier, saam met hom die donker verken en taai jam-toebroodjies gemaak. Hulle het saam na die streep miere gekyk wat in die spens toesak.

Slaapvraat (“kleiner as ‘n beer maar groter as ‘n kat”) sou dan onder sy kop kom lê, soos ‘n sagte kussing, tot Leander aan die slaap kon raak. Mens dink dis eintlik sy verbeelding, maar een oggend kry sy ma twee lang hare op sy kopkussing, nes dié van die slaapvraat.

(Die boek is in 1987 deur Johan de Waal uitgebring. Ek het wel ‘n kopie probeer opspoor, en selfs met Johan gepraat, maar dit is nie meer in druk nie.)

Die gedeelte wat my altyd bybly is waar Slaapvraat ‘n monster (of was dit ‘n draak?) uit Leander se drome oprol en in die gang af laat verdwyn.

Noudat ek oud en groot is, is ons nie meer veronderstel om drake en monsters te hê nie. Sodra jy in jou eie huis intrek, jou eie huur betaal en jou eie kar afbetaal, moet mens seker makliker slaap in die aande. Of so voel dit.

Ek het, soos almal seker maar, nog steeds my drake wat in die nag kom pla.

Gisteraand het ek gedroom van my Ma. Sy was my Slaapvraat. Toe ek in die middel van die nag wakker word, geworried soos altyd oor dinge wat eintlik buite jou beheer is, was sy daar.

Sy het die monsters in my kop opgerol en in die gang af laat verdwyn. Toe het sy by my kom lê, en soos die slaapvraat, sag onder my kop rus kom bring.

Ek sweer ek kon haar vanoggend in my kussing ruik.