Word deel van die reënboognasie

DIE 2010 Wêreldbeker Sokker-toernooi lê om die draai en die toerismebedryf is besig om gereed te maak vir die massas mense wat binnekort op Suid-Afrika gaan toesak.

Dis opvallend hoeveel mense tans besig is om ’n Europese taal aan te leer, of wat ten minste leer hoe om besoekers te groet en verwelkom, terwyl bitter min meer as twee van hul eie landstale magtig is.

Ons het 11 amptelike landstale. Afhangend van waar jy in die land bly, hoor hy sekere tale meer as ander. Terwyl ek in die Oos-Kaap naby die Transkei gewerk het, het ek ’n kollega gehad wat Xhosa kon praat en my lesse gegee het.

“Mol’weni, kunjani! Ndiphilile, enkosi.” Dit was nog nooit so maklik om rigting te vra in Kayamandi nie: “Ugandibonisa indlela eya isikolo?” (Hoe kom ek by die skool?). Jy sien net tande en hande wat jou in die regte rigting beduie.

Ons leef in ’n land met baie kleure, kulture, rasse en tale, ’n ware reënboognasie waarop ons trots kan wees. Ek ken menige Afrikaners wat nog steeds nie die nuwe volkslied ken nie. Dis jare lank reeds ingestel in die plek van “Uit die blou van onse hemel”, en as jy net daardie deel saamsing, is dit ’n skande.

Andertaliges sukkel-sukkel met die moeilike Afrikaanse woorde, maar sing tog uit volle bors saam. Doen die moeite, leer die woorde, maar leer ook die betekenis daaragter.

Dink net met hoeveel meer trots jy tydens die Wêreld Sokker-toernooi sal kan saamsing. Ek weet verseker, dat wanneer daardie eerste note begin, ek trots my bors sal uitstoot en saam met die reënboognasie sal sing: “Nkosi sekelel’ iAfrika, Maluphakanyisw’ uphondo lwayo!” (Seën­, O Here God, seën Afrika, mag haar glorie hoog gelig word.)

Daar is baie dinge aan die gebeur in ons land, ons provinsie en veral in ons dorp, waarmee ons nie noodwendig saamstem nie, maar ons het ver gereis sedert die dae van apartheid.

Vandag het ons almal die reg op lewe, gelykheid voor die gereg en vryheid van spraak. Is dit nie genoeg om op trots te wees nie?