EK en my ma het nie baie goed oor die weg gekom toe ek’n tiener was nie.
Sy het sulke sêgoed gehad wat enige tienermeisie sou opwerk.
As ek geskree het: “Dis nie fair nie!” het sy altyd rustig geantwoord: “Die lewe is nie fair nie!”
Dis nie eintlik wat ek op daardie stadium wou hoor nie, en dan het ek my altyd vir haar vererg.
Noudat ek terugkyk, weet ek dat die lewe regtig nie altyd regverdig is nie, maar dis haar ander sê-ding wat my altyd sal bybly.
As enigiets toevallig gebeur het, sou sy sê daar is nie ’n ding soos toeval nie. “As jy toevallig opdeel in sy dele, staan daar: toe val Lig.” En Lig het geval.
My ma is ’n stoere kerkmens. In ons klein NG gemeente het óf sy óf my pa altyd in die kerkraad gedien. Dit het selfs gebeur dat hulle op dieselfde tyd op “diens” was. Dan moes ons vier kinders alleen in die kerkbank sit, vierde ry van voor, en sou sy ons elke nou en dan van ver af aangegluur as ons kriewelrig begin raak het.
Dis ook in haar Christen-wandel waar sy dié stukkie wysheid geleer het. In Psalm 27:1 staan daar: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”
Dit gebeur soms in almal se lewens dat hulle nie weet watter pad om volgende te kies nie. Die ou gesegde van die regte deure wat oopgaan is nie iets waaraan my ma glo nie. Niks gebeur sommer net per toeval nie.
Sy het my geleer die regte ding gebeur op die regte tyd. Jy ontmoet altyd die regte mense en die regte geleenthede kom na jou toe. Jy hoef nie bang te wees vir die toekoms nie, selfs al lyk dinge asof dit inmekaar begin tuimel. Sy glo vas dat Lig sal val waar dit moet.
As ’n tienermeisie wou ek gehad het dinge moet uitwerk soos ék dit wil hê. In Jakobus 4:13-14 staan daar: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!”
Dit het my lank geneem om te aanvaar dat dinge nie altyd gaan uitwerk soos ek dit wil hê nie, en ek weet my ma was eintlik reg.
Niks gebeur “toevallig” nie.
