‘n Elegie vir ‘n ouma

Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
IMG_2991

My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.

Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.

Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.

Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.

Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.

Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.

Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.

Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.

Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.

Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.

Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.

Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.

Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!

Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.

En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”

En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”

IMG_2993

Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!

Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

As boerseuns begin vrou soek

EK hou van boerseuns. Ek hou van hul mentaliteit, die groot bakkies, die breë skouers en die plat-op-die-aarde-houdings.

Dit kan egter nie gesê word van alle boere nie, en dit sluit ook nie alle ander mans uit nie. Maar die rede vir dié stelling is eintlik dat ek onlangs die lys van die nuwe Boer soek ’n Vrou-reeks se seuns gesien het.

Een naam lyk toe al te bekend, en ná ’n bietjie navorsing, kry ek dit jou werklikwaar. Die oulike boerseun wat destyds saam met my op skool was het wraggies vir die program ingeskryf!

Met die eerste reeks het ek dit régtig oorweeg om in te skryf. My boer was gekies, my foto geneem en ek wou met alle mag die ding pos. Tog het iets my daarvan weerhou. Nog nooit was ek só bly oor ’n besluit nie.

Die boer wat ek destyds gekies het (ons sal eerder nie name noem nie) het toe heeltemal anders uitgedraai as wat sy oulike video belowe het.En toe begin die skandale. Veral ná die tweede reeks het heelwat stories uit die geraamtekas van dié boere en hul meisies begin klim. (In die Karoo loop stories wyer as wat die pers ooit kan!)

Ek lees nou die dag weer ’n brief van ’n boervrou wat in die Rapport gepubliseer is oor haar lewe op die plaas. Sy vertel van haar ervaringe en dit is duidelik dat die plaaslewe definitief nie so romanties is soos dit in dié program voorgehou word nie.

Dit is ’n harde wêreld waar vroue moet saamwerk om van die besigheid ’n sukses te maak. Jy ruil hoëhakskoene in vir top-boots en kakies, en fancy karre vir ’n plaasbakkie. Die meeste boervrouens moet ’n tweede besigheid bedryf net om die kinders deur skool en universiteit te kry. Van my skoolmaats, ook van die plaas, moes van jongs af reeds naweke help om die vee in die kraal te kry.

Jou kinders is bevoorreg om in die platteland groot te word, maar die skole is soms so ver dat hulle van vroeg reeds kosskool toe moet gaan.

Tog moes ek twee keer kyk na die foto’s van die seuns wat hulself op só ’n manier in die mark plaas. Hulle is nie te sleg om na te kyk nie, hou almal van piekniek en een vlieg selfs ’n helikopter.

Dalk is daar goeie boerseuns daar buite. Ek is net nie seker of hulle op nasionale televisie te vinde is nie.

Enig in sy soort

Ek kry nou die dag ‘n oproep van ‘n ou wat ek in ‘n baie lang tyd nie gesien het nie. Hy was laas week hier vir ‘n konferensie en nooi my toe vir ete.

Ek het nie eers meer sy nommer op my foon gehad nie, so die oproep was nogal ‘n verassing. ‘n Baie goeie een.

So Donderdagaand trek ek mooi aan, maak myself reg vir die herontmoeting. (Dis seker ook hier waar ek moet byvoeg dat ek hom so bietjie verafgod het in die tyd wat ek hom geken het. Hy het kop en skouers bo die ander mans in die klein dorpie waar ons gebly het, uitgestyg.)

Die herontmoeting was nie te sleg nie. Hy lyk natuurlik meer handsome as wat ek onthou en ons ry na die naaste restaurant.

Daar het baie dinge gebeur in die laaste twee of drie jaar. Hy het Joburg toe getrek vir daardie groot nuwe werk, en ek het tussen klein dorpies rondgetrek tot ek hier geland het. Daar was baie stories om te vertel.

Ons het lekker gelag en gesels en besin oor die dinge van ouds en die dinge van nou. Ek het lanklaas so lekker saam met iemand gekuier.

Toe ek huis toe ry daardie aand, besef ek weer hoekom hy vir my so ongelooflik was. Hy is als wat ‘n man moet wees: intelligent, suksesvol, en hy kan lag vir homself. Natuurlik bly hy tienduisend myle weg in die hart van Gauteng.

Die semi-boyfriend het natuurlik ook in die gesprek opgekom en ek het besef ek settle defintief vir tweede beste. Ek maak toe aan myself die belofte dat ek dit nie weer kan doen nie. Semi-boyfriend se moer. Ek soek iemand wat my waardeer vir wie ek is.

So bid ek maar dat hy nie enig in sy soort is nie. Almal verdien iemand wat hul hart vinniger laat klop, hul kan laat lag en ‘n intelligente gesprek kan voer, selfs al is dit oor iets onintelligent.

Ek soek so ‘n man. Een wat my kan laat lag oor myself.

As jou verhouding grondpad raak

So sit ek nou die dag in my favourite bar en nonsense praat, pretty much soos elke dag. Die locals kom en gaan soos altyd, en ek knoop ‘n geselsie aan met ‘n ou wat ek lanklaas gesien het.

Hy vertel my van sy verhouding wat deesdae nie meer teerpad is soos aan die begin nie, en dat dit nou begin grondpad raak het. Vol slaggate!

Ek dog toe by myself, dis darem maar ‘n mooi manier om dit te stel. Aan die begin van elke verhouding loop dinge glad, soos ‘n nasionale pad tussen twee klein dorpies waar daar niks traffic is nie.

Maar dan raak dit moeiliker. Jy kom nader aan ‘n stad en die verkeer raak al hoe meer. ‘n Ongeluk maak dat die pad begin bottelnek en jy sit jou pad verder op ‘n slakkepas. Ek dink dis daai rut wat jy tref nadat jy vir ‘n rukkie in ‘n verhouding was.

Dinge het nou klaar gevorder tot waar dit kan en sukkel om vorentoe te gaan. Nuwe issues klim uit die kaste uit en stop dat ‘n verhouding verder gaan.

Nou gewoonlik kom jy darem deur die traffic en jy kry weer die gladde pad aan die ander kant van die stad. Dinge loop weer goed, en afhangend van jou en jou partner se verwagtinge bereik jy uiteindelik ‘n destinasie.

Maar dis ook nie altyd so nie. Partykeer moet jy eers afdraai op daardie nou plaaspaadjie. Die slaggate en dongas maak dit moeilik om enigsins verder te beweeg en dis dikwels ook waar meeste break-ups gebeur. Die vrot grondpad eis sy tol.

So ek wag maar nog steeds vir daardie man met ‘n moerse 4×4. Mense spot jou mos as jy die stad se paaie aandurf met jou grote bakkie, maar ek dink dis nodig in ‘n verhouding. Die bakkie is nie sodat jy enige plek kan park as jy in die stad ry nie, maar vir daai keer wat jy die grondpad slaan.

Ek soek daardie man op wie ek kan staatmaak. Wat deur die dongas en óm die rotes en deur slote en gate kan ry, totdat ons weer eendag teerpad kry.

Maar soos hulle sê: Life’s a journey, might as well enjoy the ride. Al is dit net vir ‘n kort rukkie.

‘n Nuwe liefde vir Sondae

Sondae was nog altyd een van daardie dae wat jy familie mis, en almal het iets van hul eie om te doen. Veral as jy ver van jou huis is, is Sondae die slegste.
Op Universiteit was dit altyd die ergste. Dan het ek sommer die dag omgeslaap. So nou en dan wasgoed gewas, geloop om middagete te gaan haal by die eetsaal en miskien ‘n vinnige koffie saam met iemand gedoen.
Maar meestal vang die blues jou dan.
In die klein kusdorpie waar ek vir ‘n ruk gewoon het, het ek ‘n vriendin gehad wat nogal Sondae meer draaglik gemaak het. Ons het dan sommer gaan sit en wyn drink om die lang ure voor Maandag om te kry. Dit was ons manier om die week af te sluit, en het gewoonlik veroorsaak dat Maandag sommer nog meer blou begin. Niks soos wingerdgriep om die week te begin nie.
Toe ek onlangs na die Wynland toe trek, het ek ook eers so vae verlange begin ontwikkel elke keer as Sondag aanbreek.
Maar toe ontmoet ek jou.
Nou is Sondae ‘n dag vir musiek, wyn en liefde. ‘n Liefde vir Sondae, of ‘n Sondag-liefde.
My Sondae bestaan nou uit wyn, en goeie musiek en samesyn.