Dalk is vandag my gelukkige dag

Rubriek vir die week:

EK dink vandag is my gelukkige dag.

Ek het my nommers gekies en wag nou in spanning vir die uitslag. Ek is nogal besig, dus vergeet ek altyd om te kyk of ek gewen het, maar dié week is daar miljoene op die spel en ek gaan nie sommer my kans laat verbygaan nie. Yebo Millions!

Teen tien rand, kan ek twaalf nommers kies. Dié keer het ek dit nie aan toeval oorgelaat nie en self my nommers gekies.

Ek gaan myself natuurlik onder die agterent skop as my twee rye nommers saam die totaal opmaak en ek nie ’n miljoenêr wegstap nie.
Hmmm… wat sal ek doen met ’n miljoen? Of in dié geval, R60 miljoen?

Ek dink ek sal die helfte belê, die ander helfte uitgee op my ou motor wat regtig ’n ordentlike diens nodig het.

Ja, ek dink ek sal my skedonkie hou. Ons kom al ’n lang pad saam. Een van daai verwaande mense word wat met miljoene in die bank nog steeds ’n ou kar ry.

Ek sal vir my huis meubels koop. Ek bly al amper ’n maand daar en steeds is my styl ’n bietjie minimalisties. Bloot omdat ek hard moet werk om genoeg sente bymekaar te skraap om nog stukke aan te koop. My bed het darem al opgedaag.

Ek dink ek sal ook ’n bietjie verlof insit en deur die land gaan toer. Dis hoog tyd vir ’n kustoer. Ek vat sommer al my vriende saam. Net omdat ek kan!

Ek sal vir my ma haar huisie by die see aanskaf, en ’n bietjie geld belê vir haar oudag, sodat sy darem gemaklik kan leef wanneer sy en my pa nie meer kan boer nie.

My susters en my boetie kan dalk ’n sent of twee kry, maar nie te veel sodat hulle bederf word nie. Hulle moet darem ook werk vir die lekker in die lewe. Ek sal die pad net vir hulle effe gelykmaak.

En die res van my hopeloos te veel miljoene sal ek belê en leef van die rente. Ek sal my tweede joppie opgee en elke naweek op ’n avontuur gaan.

In spanning wag ek vir die masjien­tjie. Khensani spin en die balle bons op en af, rond en bont, en dan… niks. Wel, so te sê niks. R11 se uitbetaling. Net genoeg om wéér volgende week te speel.

En ek besef ek het in ’n lotery-verslaafde verander. Die Powerball lê nou al op R73 miljoen.

Dalk is dié Vrydag my gelukkige dag.