Kosmaak voor my ma se Aga

EK het nog altyd ’n sagte plekkie vir resepteboeke gehad.

Dié liefde het in my kinderdae ontstaan, waar ek saam met my ma in haar warm plaaskombuis, voor die Aga-stoof, deur resepteboeke sit en blaai het op soek na ’n nuwe poeding of bredie om uit te toets.

Saam het ons gebak en brou, koekies gebak en die buurvrou se nuwe disse probeer. Van jongs af het ons geleer hoe om regte plaasgeregte en maklike eetgoed voor te berei.

Dit het ook dikwels gebeur dat moeder vinnig moes inspring wanneer iets nie heeltemal volgens plan verloop nie!

Dis dalk juis die Aga, die reuk van beskuit wat uitdroog in die oond en die warmte teen die Karoo-koue wat my liefde vir nuwe resepte aangewakker het.

Sondae was dit tyd vir gekookte kos. Bruingebraaide lamsboud in die oond met roosmaryn, wat die huis soos ’n grênd restaurant laat ruik. Blinkbruin gebraaide aartappels en soet malvapoeding vir nagereg.Toe ek destyds universiteit toe is, was Sondae altyd die ergste. My ouers was te ver, terwyl die res van die kampus verdwyn het vir die naweek.

Dus het ek weer begin om op Sondae te kook, ’n tradisie wat ek steeds probeer volhou – al is dit steeds met ’n piepklein stofie. Met my Karoo-kookboek onder die blad probeer ek nuwe disse, oondgebakte hoender (in ’n miniatuur oondjie en ’n tweeplaat-stoof) en ingewikkelde crême brulee (natuurlik nie die beste idee as jy nie strooisuiker het nie!) en hope knoffel wat die huis deurtrek. Dit was natuurlik baie meer pret om te kook in ’n huis waar jy weet iemand ánders gaan, ná jy koekmeel die hele vloer vol gemors het, tjoef-tjaf die vloer weer laat blink.

Ek en my ma e-pos nog steeds nuwe resepte heen-en-weer, maar die internet is nou eenmaal nie soveel pret soos die Kook-en-Geniet nie!Maar deesdae, wanneer ek genoeg gekook het vir ’n hele weermag en dan die helfte moet vries, mis ek steeds Sondae by die huis, my ma se rye resepteboeke en veral die warm Aga waar jy jou winterhande kon warm maak ná ’n dag in die koue.

Ek mis haar raad met alles van hoofdisse tot nagereg, sop en koekies, en ’n yskas wat altyd die nodige bestanddele het!

‘n Pienk apie met arms vol liefde

Ek het nou die dag daaraan gedink dat my lewe in die koshuis nogal gesorg het vir baie stories. Hier is die begin van ‘n paar. 🙂

Ek het meeste van my lewe in ‘n koshuis spandeer. Ek was van Sub A af, toe ek grootskool toe was, in die Hok gewees.

Dit was vreeslik lekker. Dis soortvan om elke aand ’n pajama-party te hê en al jou maatjies was daar.

Daar was agt van ons in Sub A in die koshuis, drie seuns en vyf meisies. Ek is onlangs genooi na een van die girls se troue toe. Meeste van die ander is al getroud. Net die een meisie het heeltemal onder die radar ingegaan. Die ouens bly oraloor die land. Nou die dag in een vasgeloop. Verder hou ons maar kontak op Facebook.

Ek onthou nog presies my eerste dag van skool. Of eerder die koshuis-deel. My ma het nog pouse vir my toebroodjies gebring en vir my gesê sy het iets vir my gelos in my kamer.

Nou die “kamer” waarin ek myself bevind het was nogal groot. Eintlik was dit meer ‘n saal. Al die Sub A’s, Sub B’s en St 1’s het daar geslaap. So om en by twintig van ons. Die saal was bo die studiekamer (probleem) en die vloere was van hout (groter probleem!). Ons het elke aand raasgekry oor ons soos olifante rondgehardloop het!

Die koshuiskatels was sulke ou staalbedjies. Dit was baie maklik om hulle rond te skuif op daai gladde houtvloer.

Die Sub A’s kom altyd ‘n bietjie vroeër uit die skool uit. Dan het ons buite in die modder gespeel tot die ander kinders oor die rugbyveld gestroom het na die Hok toe. Dan het die etensklok gelui en ons het almal in ‘n ry gaan staan om te eet.

Maar dis nie wat ek onthou van daardie eerste dag nie. Ek onthou dat ons almal uit die skool gekom het, nuwe skoolklere nog vars en skooltas nog vol nuwe kryte. Ek kon nie wag om te sien wat my ma vir my gelos het nie, so ons al vyf het saam gehardloop oor die rugbyveld, in by die stegie, op met die trappe en af in die gang. Eeerste regs en dan links in by die saal.

My bed was reg oorkant die deur en ek het met ‘n verskriklike geraas oor die houtvloer genael. Reguit op my bed gespring dat hy eintlik skuins skuif, tot teen die persoon langsaan se bed.

“’n Apie!”

Dit was die begin van my ma se tradisie. Sy het met elke groot skuif wat ek gemaak het, hoërskool, universiteit, vir my ‘n teddie gegee. Dis nogal cool, want ons is vier kinders en dis net mý en haar ding.

Ek het hulle almal nog, maar my pienk apie met sy ope arms waaarop staan “I love you” het ‘n ereplek in my kamer. Hy’s perfek. Sy oop arms hou jou vas as jy alleen voel. En as ek hom so vasdruk onthou ek my ma en daardie eerste dag van skool.

‘Toe val Lig’, nie ‘toevallig’ nie

EK en my ma het nie baie goed oor die weg gekom toe ek’n tiener was nie.

Sy het sulke sêgoed gehad wat enige tienermeisie sou opwerk.

As ek geskree het: “Dis nie fair nie!” het sy altyd rustig geantwoord: “Die lewe is nie fair nie!”

Dis nie eintlik wat ek op daardie stadium wou hoor nie, en dan het ek my altyd vir haar vererg.

Noudat ek terugkyk, weet ek dat die lewe regtig nie altyd regverdig is nie, maar dis haar ander sê-ding wat my altyd sal bybly.
As enigiets toevallig gebeur het, sou sy sê daar is nie ’n ding soos toeval nie. “As jy toevallig opdeel in sy dele, staan daar: toe val Lig.” En Lig het geval.

My ma is ’n stoere kerkmens. In ons klein NG gemeente het óf sy óf my pa altyd in die kerkraad gedien. Dit het selfs gebeur dat hulle op dieselfde tyd op “diens” was. Dan moes ons vier kinders alleen in die kerkbank sit, vierde ry van voor, en sou sy ons elke nou en dan van ver af aangegluur as ons kriewelrig begin raak het.

Dis ook in haar Christen-wandel waar sy dié stukkie wys­heid geleer het. In Psalm 27:1 staan daar: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Dit gebeur soms in almal se lewens dat hulle nie weet watter pad om volgende te kies nie. Die ou gesegde van die regte deure wat oopgaan is nie iets waaraan my ma glo nie. Niks gebeur sommer net per toeval nie.

Sy het my geleer die regte ding gebeur op die regte tyd. Jy ontmoet altyd die regte mense en die regte geleenthede kom na jou toe. Jy hoef nie bang te wees vir die toekoms nie, selfs al lyk dinge asof dit inmekaar begin tuimel. Sy glo vas dat Lig sal val waar dit moet.

As ’n tienermeisie wou ek gehad het dinge moet uitwerk soos ék dit wil hê. In Jakobus 4:13-14 staan daar: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!”

Dit het my lank geneem om te aanvaar dat dinge nie altyd gaan uitwerk soos ek dit wil hê nie, en ek weet my ma was eintlik reg.
Niks gebeur “toevallig” nie.