Die ding van joernalis-wees

DIE probleem met joernalis-wees lê nie in hoe klein ons salarisse is, hoe subjektief die mens is en of die regering ons probeer stilmaak nie.
Die wortel van die probleem lê in wat ons alles wéét.

Joernaliste is bekend daarvoor dat hulle senuwee-ineenstortings kry, té veel rook en drink en hul lywe met té sterk bekers boeretroos straf.

“Elke joernalis het ’n vice. Wat is joune?” het iemand my een keer gevra voor ek nog begin werk het.

Toe ek onlangs oorgeneem het as misdaadverslaggewer is ek uit my gemaksone geruk. Dis lekker om te skryf oor al die goeie dinge wat in die dorp gebeur. Die organisasies en mense wat ’n verskil maak, blommeskoue en musiekblyspele.

Dís egter nie altyd noodwendig nuuswaardig nie. Die mense wil weet van die moord en doodslag, die dinge wat ons stadsvaders en -moeders aanvang en die misdaadsyfer.

Ewe skielik hoor jy van elke gewapende rooftog, elke moord, elke verkragting, elke huisroof. Jy praat met die families wat agterbly en sien die letsels wat misdaad laat, en dis meestal nie die tasbare wat so erg is nie.

Jy weet ook hoe hard die polisie werk om ’n verskil te maak, maar aan die einde van die dag staan jy steeds verstom oor die geweldadigheid van die mens.
Dís hoe ek gevoel het toe ek op skool Lord of the Flies gelees het.

Dis hoe ek steeds voel as ’n grusame fliek handel oor dwelms, moord en verkragting. Die ongemaklikheid wil maar net nie wyk nie.

Maar dis wat die mense móét weet. Hoe weerhou jy iemand daarvan om in gevaarlike areas te loop as hulle nie bewus is van die gevare in daardie area nie.

Hoe keer jy misdadigers aan as die mense nie weet vir wie om na uit te kyk nie?

Die idee is nie om paranoia aan te vuur nie, maar as joernaliste weet ons (meeste van die tyd) als wat aangaan.

Ons ken die feite en hoor die skinder en ons skryf dan slegs die nodigste.
En dan bid jy maar dat volgende week beter nuus kan bring. Dat die volgende week nét goeie nuus gaan bring.