Oom Piet se hande

EK is ’n groot aanhanger van klein kroeë.

Daardie plek waar jy instap en jy ken almal langs die kroegtoonbank, van die ou omie wat van 10:00 af in die hoek sit en die lewe bepeins oor ’n glas wyn, tot die jong wulpse groep meisies wat flirt vir ’n drankie en die ou toppies wat toeka se stories sit en vertel.

My gunstelinge is die Ba­thurst­­ Arms in Bathurst in die Oos-Kaap, Skebanga’s in Noordhoek (blykbaar maak hulle die beste pizza in die land), Die Waenhuis in Nieu- Bethesda (waar ek altyd gedurende vakansies gewerk het) en hier in Stellenbosch het ek natuurlik ook ’n bekende watergat. Oe, en Mar Azul in Astonbaai is ook nie te vergeet nie!

Mar Azul op Astonbaai se strand.

Tydens my verblyf in Jeffreysbaai het ek ’n klein plekkie in ’n steeg aan die onderkant van Da Gamastraat leer ken met die naam van Hurdy Gurdy’s (vertaal as draai-orreltjie).

Piet Vermaak, die eienaar en barman, was ook ’n musikant en Vrydae kon jy daar na sy musiekgroep luister.

Daar was ook ’n paar locals wat altyd daar rondgehang het. Kobus werk onder die Khoisan en het allerhande stories oor dié kultuurgroep gehad om te vertel.
Hy was daar met Saartjie Baartman se her-begrafnis en baklei steeds hand en tand teen die ontwikkelaars wat die Khoi se geskiedkundige areas onder strandhuise wil toebou.

Die kaptein maak ook altyd ’n draai wanneer hy aan wal kom, en dan hoor ons van al die drama op see.

Oom Piet het self baie stories om te vertel, van sy werk in die regering en sy jare as barman.

Dit het egter nou alles verander. Ek verneem nou die dag dat Hurdy Gurdy’s verkoop is. Die plek se naam is nou Cheers @ J’Bay.

Piet is bedlêend. Hy wil niemand meer sien nie. Sy jare as rocker het hul tol begin eis en sy lyf is moeg.

Die ergste is dat hy gangreen in albei sy hande opgedoen het. Hulle sal dalk nou afgesit moet word. Daar word nog gewag op ’n tweede opinie.

Swaar is my hart as ek wonder hoe ’n musikant maak sonder sy hande.

Alwetende barmen, op aandag, met ‘n bottel (en ‘n tissue) in die hand

So staan ek nou die dag op my pos as barlady in een van die oudste pubs in die land. (Goeie manier om ekstra geldjie te maak hier teen die einde van die maand.)

Aan die begin was dit nogal ‘n moeilike aanpassing. Jare is reeds verby vandat ek agter die kroegtoonbank gestaan het, en intussen het ek ‘n baie goeie kliënt van heelwat sulke plekke in heelwat dorpe geword. Waar anders snuffel mens die nuus en die skinder uit?

Die ergste aan die begin was om te onthou om vir die mense hul drankies aan te gee. Jy gooi dit mos nou mooi, vat hul geld, gee hul kleingeld, maar as hulle dan die drankie van die toonbank wil vat, dan raak ek so amper benoud voordat ek besef dis nie myne nie.

Dan is dit natuurlik altyd interessant wat die mense aan die ander kant van die toonbank te sê het. Elke dan en wan vra mense vir my wie ek is, waar ek vandaan kom en hoekom ek daar werk as ek dan nie meer swot nie.

Dis baie snaaks om te sien hoe hulle ewe skielik half stil word wanneer hulle hoor ek werk eintlik by die koerant. (Só moeg vir die kommentaar: “Jis, ons moet nou oppas wat ons sê hoor!”)

Sodra hulle óf vergeet dat ek daar staan, óf vergeet het dat ek eintlik ‘n joernalis is wat pose as barlady óf dat hulle bloot nie besef dat hulle gesprekke heel duidelik gehoor kan word aan die ander kant nie, dit sorg vir ongelooflike vermaak.

Nou die dag staan ek en draught gooi en hoor toevallig hoe die paartjie kort voor die bar sit en gesels. Jy k an sommer sien aan hulle liggaamshouding dat die verhouding nog baie nuut is. Hulle vra vrae oor mekaar en bespreek wat hulle in ‘n verhouding soek. Wel sý praat, hy luister meer.

Hoe later hoe kwater, en toe ek weer by die draught-masjien staan sien ek hoe die girl sommer inlê en die ou langsamerhand begin toegee. Wie sal dan nou nee sê as ‘n oulike meisie met jou flikflooi. Sommer net daar sit die twee toe en vry.

Ek was nog nooit een vir public displays of affection nie, en ek moes maar op my tande byt om nie te vra dat hulle eerder iewers heengaan nie.

Die ergste was dat ek daai situasie al heeltemal te veel beleef het. As jou eerste date in ‘n drinkplek is, moet ek vir jou sê: jammer girl, jy gaan sukkel om hom te hou. Ek dink nie daai dude wil gesels oor wie jy glo die hoof van die huis moet wees terwyl hy nog ‘n shot tequila bestel nie. Ek dink ook nie jy moes daar laaste shot gedrink het nie… dan sou jy dalk gesien het hoe hy bietjie teruggehou het toe jy die eerste keer nader staan vir die soen. Bly eerder weg van ‘n man wat jou so vroeg in die verhouding al paai met ‘n paar drankies. Maak nie saak hóé mooi hy is nie. En wil jy regtig hê jou eerste soen moet in ‘n scruffy bar wees?

Dalk lê die geheim van barman se wysheid juis in hierdie situasie. (Ek het definitief nog nie daai wysheid ontvang nie!) In die eerste plek staan hulle dag-na-dag en kyk hoe elke strooisage afspeel daar reg voor hulle, en verder drink hulle nie soos julle (ons) aan die ander kant nie. Daar staan hulle, doodnugter, en kyk hoe die patrons gekke van hulself (onsself) maak.

En so staan hulle op aandag, gereed vir die dag as die hartseer break-up kom, bottel in die hand, reg om te gooi en te luister, tissue in die hand, terwyl hulle toekyk hoe jy nóg ‘n man wat nie die moeite werd is nie, optel.