Begrotings begrotings begrotings

MY begroting het dié maand vir die eerste keer uitgewerk!

Ek is baie opgewonde oor die feit dat pay day gekom het, en ek vir ’n verandering petrol in my kar gehad het en nie op walms gery het soos in vorige maande nie.

Ons maatskappy het met die briljante idee opgekom om ons almal deur sulke finansiële sessies te laat sit om te leer hoe om jou geld beter te bestuur. My ma het my probeer leer van begrotings, maar dié kursus het dit ’n bietjie eenvoudiger gemaak om toe te pas.

Hier is ’n paar wenke van die finansiële ghoeroe, prof. Matthew Lester, van die Rhodes-universiteit.

Hy het aan ons verduidelik hoe om ’n begrotings op te stel. Myne is al lankal gedoen (as ek net daarby kon bly), maar die idee is om dit so eenvoudig moontlik te hou.

Lys jou inkomste (ná al jou aftrekkings gedoen is) en oorkant dit al jou uitgawes. Huur, water en ligte, en aftrekorders.

Dit behoort aan jou ’n idee te gee van hoeveel geld jy dan het om te spandeer. Maak dan seker jy hou by die bedrag. Jy weet dan hoeveel jy het om per dag, of per week, te spandeer, soos om vir jouself sakgeld te gee.

Dit gaan jou dan ook ’n idee gee van hoeveel jy het om te spaar.

Die meeste van ons het skuld, maar jy kan nie verwag om dit alles in een slag af te betaal nie. Begroot eerder beter om dit oor ’n tydperk af te betaal.

Lester het ook vertel hoe beleggings werk en aanbeveel dat ’n mens ’n “Bucket List” moet maak.

Dit is moeilik om te spaar as jy nie ’n doel het nie. Skryf tien dinge neer, soos om ’n motor of ’n huis te koop, of daardie nuwe motorfiets en swembad wat jy wil installeer. Lys hulle in orde van belangrikheid en haal die dinge van die lys af wat jy weet onmoontlik is om te bereik.

Hierna kyk jy na beleggings.

Daar is drie soorte beleggings: konserwatief, middelmatig en aggressief. Vir iets soos ’n deposito vir ’n nuwe kar, sal jy vir drie tot vyf jaar moet spaar. Die risiko is min, en die belegging gaan nie soveel geld trek nie.

Vir beleggingsdoelwitte soos jou kinders se universiteitsgelde, moet jy
sommer vroeg reeds begin spaar, en in ’n meer aggressiewe belegging (van vyf tot vyftien jaar) belê.

Volgens Lester is jou aftrede die belangrikste ding om voor te spaar. Daarvoor moet jy sommer vroeg reeds begin belê. Hoe langer die geld lê, hoe groter is jou belegging.

Ek laat julle met een van sy “waarskuwings”: “Hoe langer jy wag, hoe groter is die probleem wanneer dit aanbreek.”

As boerseuns begin vrou soek

EK hou van boerseuns. Ek hou van hul mentaliteit, die groot bakkies, die breë skouers en die plat-op-die-aarde-houdings.

Dit kan egter nie gesê word van alle boere nie, en dit sluit ook nie alle ander mans uit nie. Maar die rede vir dié stelling is eintlik dat ek onlangs die lys van die nuwe Boer soek ’n Vrou-reeks se seuns gesien het.

Een naam lyk toe al te bekend, en ná ’n bietjie navorsing, kry ek dit jou werklikwaar. Die oulike boerseun wat destyds saam met my op skool was het wraggies vir die program ingeskryf!

Met die eerste reeks het ek dit régtig oorweeg om in te skryf. My boer was gekies, my foto geneem en ek wou met alle mag die ding pos. Tog het iets my daarvan weerhou. Nog nooit was ek só bly oor ’n besluit nie.

Die boer wat ek destyds gekies het (ons sal eerder nie name noem nie) het toe heeltemal anders uitgedraai as wat sy oulike video belowe het.En toe begin die skandale. Veral ná die tweede reeks het heelwat stories uit die geraamtekas van dié boere en hul meisies begin klim. (In die Karoo loop stories wyer as wat die pers ooit kan!)

Ek lees nou die dag weer ’n brief van ’n boervrou wat in die Rapport gepubliseer is oor haar lewe op die plaas. Sy vertel van haar ervaringe en dit is duidelik dat die plaaslewe definitief nie so romanties is soos dit in dié program voorgehou word nie.

Dit is ’n harde wêreld waar vroue moet saamwerk om van die besigheid ’n sukses te maak. Jy ruil hoëhakskoene in vir top-boots en kakies, en fancy karre vir ’n plaasbakkie. Die meeste boervrouens moet ’n tweede besigheid bedryf net om die kinders deur skool en universiteit te kry. Van my skoolmaats, ook van die plaas, moes van jongs af reeds naweke help om die vee in die kraal te kry.

Jou kinders is bevoorreg om in die platteland groot te word, maar die skole is soms so ver dat hulle van vroeg reeds kosskool toe moet gaan.

Tog moes ek twee keer kyk na die foto’s van die seuns wat hulself op só ’n manier in die mark plaas. Hulle is nie te sleg om na te kyk nie, hou almal van piekniek en een vlieg selfs ’n helikopter.

Dalk is daar goeie boerseuns daar buite. Ek is net nie seker of hulle op nasionale televisie te vinde is nie.

Dure diesel vat aan verbruikers

VOLGENDE keer as jy jou voertuig by die vulstasie laat volmaak, kyk eers wat hulle vir diesel vra.

My motor is ’n 1993-petrolmodel met ’n 1300-enjin, dus was die prys van diesel nog nooit iets waaroor ek twee keer gedink het nie. Maar, so vertel iemand my nou die dag, dieselpryse verskil van vulstasie tot vulstasie. En nie net sommer met ’n bietjie nie!

Soos die meeste motorverbruikers, was ek onder die indruk diesel kos oral dieselfde. Toe dit egter tyd was om my motor se petrolvoorraad aan te vul voordat die pryse wéér styg, het ek ’n draai by ’n paar vulstasies gemaak.

Ek het by sewe verskillende stasies in die dorp omgegaan om hul pryse te vergelyk. Die verskil is ongelooflik! Die goedkoopste is by die koöperasie waar jy (voor Woensdag se verhoging) R7,70 per liter betaal het, en ’n ronde R8 per liter ná die verhoging. Tweede in die ry is die ongemaklikste stasie om by in te kom, met ’n verhoogde prys van R8,03 per liter.

Die duurste in die dorp (ek sal liewers nie die stasie noem nie) se dieselprys is R8,52/l ná die verhoging!

“Die petrolprys word gereguleer en die pryse word elke maand in die Staatskoerant gepromulgeer. Die prys van diesel word egter nie gereguleer nie en dus sal jy verskillende pryse kry,” is Cornel van Basten van die Suid-Afrikaanse Petroleum Industrie Assosiasie (SAPIA) se kommentaar oor die wisselende pryse van diesel.

Volgens Van Basten verskil die prys van petrol langs die kus van dié in die binneland, aangesien die vervoerprys daarby ingewerk word. In ’n spesifieke area soos Stellenbosch, word die petrolpryse deur die staat gereguleer. Dieselpryse word egter deur die stasies self vasgestel.

Die meeste mense stop net by die vulstasie, gooi sowat R300 se brandstof in en ry verder. Hulle kyk nie eers twee keer na die prys nie. Baie mense weet nie eers wat petrol nou kos nie (myself ingesluit, totdat ek nou ondersoek gaan instel het).

Almal sukkel nog ná die resessie. As jy jou sak dus ietwat van ’n blaaskans wil gee, maak seker van die prys by die vulstasie waar jy gewoonlik volmaak. 53c per liter kan nogal ’n verskil maak!

Sal die regte boere asseblief opstaan?

DIE boere is deesdae omtrent in die nuus.

Eers was dit mynmagnate wat wingerde wil omdolwe om sink en klei uit te haal, en nou wil die regering al die plase vat en nasionaliseer, beginnende met die wildsplase. Ek lees tans PG du Plessis se Fees van die Ongenooides, wat nou ook Dinsdae as ’n TV-reeks op kykNET uitgesaai word.

Die storie handel oor die Anglo-Boereoorlog en hoe ’n uitgebreide Van Wyk-familie die oorlog en konsentrasiekampe oorleef het. Die ouens in die regering wat nou so aan die boere karring, het lanklaas gaan kyk na wat in die geskiedenis gebeur het. Die boere het teen duisende

Rooinekke opgetrek en hulle soveel skade berokken dat die Britte op die ou einde hul vrouens en kinders in kampe moes sit, hul huise moes afbrand en al hul vee moes doodmaak. Nie eens dít kon die boere se veglus stuit nie. Hulle het opgestaan vir dit wat vir hulle belangrik is, en baklei. Tot die dood toe.

Ná die oorlog is hulle terug na hul plase en het deur harde werk weer alles opgebou. Nou, 200 jaar later, is daar sprake van nasionalisering en mynregte wat aan staatsinstansies gegee word.

My pa is self ’n boer en ons plaas is reeds 132 jaar en ses geslagte in die familie. Die boere in ons omgewing het ook entoesiasties grondhervorming probeer aanhelp deur gedeeltes van hul plase aan hul werkers af te staan en hulle met ’n mentorskap-program te help om hul eie boerdery op te bou. Die projek staan egter nou stil omdat die regte amptenare nooit gereageer het op die planne nie.’n Paar boere in dié area het wel die program suksesvol geïmplementeer.

Onlangs, by die Stellenbosse Landbouvereniging is in gesprekke baie aandag gewy aan behuising vir plaaswerkers.

So “veg” die boere voort, ook vir hul mense.

Die vraag wat gevra moet word, is: Sal die regering omsien na die mense wat nou op die plase werk en wat jare reeds vergete gebly het as dit by staatssubsidies vir behuising kom?

‘MXit’ die taal en vergeet van spel!

ONTHOU julle die dae van Wielie Walie, Pumpkin P atch en Brakanjan?

Dit was lank, lank terug, toe ek nog ’n kind was. Ons het sekere tye van die dag vasgenael voor die televisie gesit om nie ons gunstelingprogramme mis te loop nie.

Dinge het sedertdien baie verander. Nie net is die kinderprogramme op televisie anders nie, maar die jongspan het vroeg reeds elkeen ’n eie selfoon en toegang tot die internet.

Hulle lê hulle nou eerder en MXit as om opvoedkundige boeke te lees of programme te kyk.

Ek is nogal ’n Facebook-verslaafde. Ná al die kere wat ek al getrek het en al die dorpe waar ek al gebly het, is dit ’n maklike manier om in verbinding te bly met vriende van heinde en verre. Wat my egter van dié webblad irriteer, is die spelling.

Ek wonder soms hoe ’n opgeleide prokureur, rekenmeester of ingenieur sulke afgryslike taal kan gebruik, om nie eers van joernaliste te praat nie!

Hoe doen hulle hul werk as hulle nie kan spel nie? En wat gaan word van die jonger garde word wat nog op skool is, as hulle nou al so verkeerd spel?

Vir wie gaan ’n mens blameer? Die MXit-generasie waar kinders heelweek in kletsgroepe sit en met mekaar kommunikeer in ’n taal wat net hulle verstaan? Die onderwysstelsel wat hulle nie reghelp nie? Of sommer net die feit dat kinders nie wil leer nie?As jy op MXit klets, moet jy so vinnig as moontlik tik en dit lei tot die baie verkorte weergawe van skryf.

Maar wat soms daar voorkom, maak van Grieks ’n lammetjie. So beteken “lmga, ekt nu nt so groot geskrk” beteken “ek lag my (alie) af, ek het nou net so groot geskrik” en “wmj di nwk? ko os ga kye”, “wat maak jy die naweek? kom ons gaan kuier”.

Ek is skaars uit my tienerjare, en ék sukkel! Miskien is die enigste oplossing dat ouers deur die week hul kinders se selfone afneem en hulle ’n goeie boek in die hand stop.

Laat hulle koerante lees, maar ook nie daardie wat in “hul” taal skryf nie. Stel hulle bloot aan óns taal waaroor die stryd so woed. My hart gaan uit na diegene wat by die onderwys betrokke is.

Hoe kry jy kinders om dié slegte gewoontes af te leer? Of moet ons nou maar ons woordeboeke aanpas om woorde soos “leka” en “kye” in te sluit?Of die televisie-programme wat oor die jare heen so verander het die skuld moet kry, of die feit dat tegnologie soveel verbeter het, weet ek nie.

Ek vermoed wel dat daar ’n generasie is wat eendag ons skrywers, prokureurs, onderwysers en ingenieurs moet word, maar wat waarskynlik nooit reg sal kan spel nie.

Bepaal rugby regtig die beste universiteit?

SO kom ek nou die dag deur die Facebook-grapevine op ’n webblad af: UCT se kampuskoerant waar ’n student die Maties persoonlik aanvat oor die Varsity Cup-oorwinning. Die artikel is geskryf deur ’n Ikey-student, Anton Taylor.

In sy rubriek maak hy wilde aannames oor Stellenbosch Universiteit, rugby en die verskil tussen die twee universiteite. Hy sê dat Ikeys beter is omdat hul rugbyspelers nie net daar is vir rugby nie, maar ook studeer en hulle nie soveel fondse vir sport het nie.

Ek is glad nie ’n rugby-fanatikus nie en ondersteun nie eers ’n provinsiale span nie, maar ek het darem ’n deel van die Maties se Varsity Cup-finaal gesien en kan trots erken ek’s ook nou ’n Stellenbosser.

Wat my bekommer oor dié student, is sy Facebook-groep waar hy homself verkiesbaar stel as Studenteraadslid.

Ek hoop dis ’n grap, want tussen sy vereenselwiging met David Hasselhoff, lys hy van sy lewenshoogtepunte. Hulle sluit in: kaalnael by een van die einste rugbywedstryde waaroor hy so aangaan, ses meisies in een aand vat en katskiet op van UCT se bekendste landmerke. My ma trek my stertvelle vir my af. En dit klink asof hy verkies is!

Die Facebook-pennestryd oor Taylor bekommer my verder. Hy is as Ikeys se held verklaar en ’n haatgroep is onder die Maties gestig. Daar pak die twee groepe mekaar sommer kaalvuis aan oor klas, ras en kleur. ’n Paar raak darem die eintlike kwessie aan, maar die Maties word boere genoem, en die Ikeys k-lovers.

Taylor sê in sy skryfstuk: “Ons sien neer op Stellenbosch as die dronk niksnutse van tersiêre onderrig. Ons is moeiliker om by in te kom, ons is akademies sterker, ons is meer divers, vreedsamer en dapperder, ons sal ryker wees, en ten spyte van hulle desperate proklamasies, is ons meisies mooier”. Waar is die bewyse van dié standpunte en wat het dit met rugby te doen? Uiteindelik het Maties vanjaar as oorwinnaars uit die stryd getree.

Taylor se uitsprake wat sê dat hulle eintlik gewen het, dra dus nie veel gewig nie. Miskien is dit volgende jaar hul beurt. Dan kan die Maties weer kla oor hoe dronk al die studente by Ikeys tydens hul wedstryde raak.

Vir die res van die jaar is die Varsity Cup in Stellenbosch. Hulle het hard gewerk daarvoor, dus maak nou maar vrede.

Dis presies hoekom ek liewers nie rugby kyk nie.