Voel dit… nog net tien dae…

DIS maar ’n blou Maandag, blouer as gewoonlik omdat die Blou Bulle jou waarlik die Super 14 gewen het.

Ek was heel mistroostig toe die laaste fluitjie blaas. As iemand wat nie regtig ’n rugby-ondersteuner is nie, het ek die Stormers kliphard aangemoedig en was skoon hees geskree.

Ek hoop nou maar Bafana-Bafana doen iets ongeloofliks by die Fifa 2010 Sokkerwêreldbeker wat vandag net tien dae weg is.

Dis wonderlik hoe die land ewe skielik begin saamstaan. Die Blou Bulle en die sokkeraanhangers in Soweto wat soos wafferse drinkebroers in dieselfde kroeë uithang, die vuvuzelas wat dreun en Blou Bul-makarabas – die handgeverfde hardehoed met die span se kleure en vlae daarop – wat orals te sien was by die rugby-finaal.

Hier in die Kaap word jy ook al hoe meer bewus van ’n gees van samesyn. Ek verdwaal Vrydag vir die hoeveelste keer in die stad, maar met Google Maps op my foon, probeer ek weer op die regte pad kom.

Ek is nog besig om my karige navigasie-kennis toe te pas, toe ek iemand hier by my hoor skree: “Ayoba Sisi, it’s Ayoba time!”

In ’n taxi langsaan hang ’n man by die venster uit. Dis net wit tande in die vriendelike swart gesig wat breed glimlag, terwyl hy na my foon beduie. Dit was onmoontlik om nie terug te glimlag nie.

Soos die taxi in volle vaart wegtrek, skree die man al waaiende, hand teen sy oor: “Don’t call me, I will call you!”

Miskien gaan die sokker regtig ’n verskil maak in die land. Rassisme en vooropgestelde idees oor die verskille in kulture kan afgebreek word deur mense uit alle oorde wat almal ’n Suid-Afrikaanse vlag aan hul voertuig hang en ’n Bafana-trui op Vrydae dra.

2010 gaan dalk nie so ’n groot impak hê soos baie mense gehoop het nie. Dit gaan nie armoede uitroei nie. Dit sal verbygaan en Suid-Afrika sal terugkeer na sy gewone ritme, soos Stellenbosch ná die Karnaval: bietjie verweer, maar steeds aan die gang.

Dalk sal ons almal ietwat meer verdraagsaam aan die anderkant uitstap wanneer ons as één geel en groen massa opgestaan en “Laduuuumaaa” geskree het!

Bepaal rugby regtig die beste universiteit?

SO kom ek nou die dag deur die Facebook-grapevine op ’n webblad af: UCT se kampuskoerant waar ’n student die Maties persoonlik aanvat oor die Varsity Cup-oorwinning. Die artikel is geskryf deur ’n Ikey-student, Anton Taylor.

In sy rubriek maak hy wilde aannames oor Stellenbosch Universiteit, rugby en die verskil tussen die twee universiteite. Hy sê dat Ikeys beter is omdat hul rugbyspelers nie net daar is vir rugby nie, maar ook studeer en hulle nie soveel fondse vir sport het nie.

Ek is glad nie ’n rugby-fanatikus nie en ondersteun nie eers ’n provinsiale span nie, maar ek het darem ’n deel van die Maties se Varsity Cup-finaal gesien en kan trots erken ek’s ook nou ’n Stellenbosser.

Wat my bekommer oor dié student, is sy Facebook-groep waar hy homself verkiesbaar stel as Studenteraadslid.

Ek hoop dis ’n grap, want tussen sy vereenselwiging met David Hasselhoff, lys hy van sy lewenshoogtepunte. Hulle sluit in: kaalnael by een van die einste rugbywedstryde waaroor hy so aangaan, ses meisies in een aand vat en katskiet op van UCT se bekendste landmerke. My ma trek my stertvelle vir my af. En dit klink asof hy verkies is!

Die Facebook-pennestryd oor Taylor bekommer my verder. Hy is as Ikeys se held verklaar en ’n haatgroep is onder die Maties gestig. Daar pak die twee groepe mekaar sommer kaalvuis aan oor klas, ras en kleur. ’n Paar raak darem die eintlike kwessie aan, maar die Maties word boere genoem, en die Ikeys k-lovers.

Taylor sê in sy skryfstuk: “Ons sien neer op Stellenbosch as die dronk niksnutse van tersiêre onderrig. Ons is moeiliker om by in te kom, ons is akademies sterker, ons is meer divers, vreedsamer en dapperder, ons sal ryker wees, en ten spyte van hulle desperate proklamasies, is ons meisies mooier”. Waar is die bewyse van dié standpunte en wat het dit met rugby te doen? Uiteindelik het Maties vanjaar as oorwinnaars uit die stryd getree.

Taylor se uitsprake wat sê dat hulle eintlik gewen het, dra dus nie veel gewig nie. Miskien is dit volgende jaar hul beurt. Dan kan die Maties weer kla oor hoe dronk al die studente by Ikeys tydens hul wedstryde raak.

Vir die res van die jaar is die Varsity Cup in Stellenbosch. Hulle het hard gewerk daarvoor, dus maak nou maar vrede.

Dis presies hoekom ek liewers nie rugby kyk nie.