As ‘n plaasjapie die stad se paaie aandurf

So sien ek nou die dag ‘n kar met die woorde “If my driving offends you please phone…” en ek dag toe by myself…

Ek is een van daai mense wat baie maklik offended raak deur ander mense se driving. Die probleem begin eintlik met die dat ek leer bestuur het op ‘n plaas in die Karoo. Dáár kan jy sommer aan die regterkant van die pad ry as jy so voel, en net so nou en dan check of daar nie ‘n boer met ‘n groter bakkie besig is om verby te jaag nie.

Dit beteken dat die stad se verkeer die lewe vir jou baie moeilik maak. Jy het nie geduld vir die idioot wat 2km/h ry nie, en raak sommer beduiweld wanneer iemand dit durf waag om verby jou te jaag asof dit húlle pad is.

En dan het jy nie eintlik ‘n idee hóé de joos om eintlik in die stad te ry nie. Daar is te veel bane, karre, padwerke en teer wat ek net eintlik glad nie verstaan nie. Ná ‘n rukkie kom dinge darem bietjie reg, maar eintlik is jy nog steeds daardie plaasjapie wat doodbang is om die blink-stroom karre stad se kant toe binne te vaar nie.

Die lekker ding van met ‘n Oos-Kaap nommerplaat rondry is dat jy gewoonlik kan wegkom met enigiets, selfs verkeerde kant om in ‘n one-way opry. Dit hel p darem so nou en dan, en jy kry darem so nou en dan ‘n amperse smile uit die ander bestuurder se ruit, eerder as die gewone middelvinger uit die venster uit.

Dan tree die ander probleme in. As ondersoekende (of eintlik observerende) joernalis, kom ek baie in kontak met ongelukke wat gebeur. My inbox is op ‘n Maandag vol gruwelstories en dan tel ons maar op hoeveel lewens die paaie nou weer geëis het. (Juis weer ‘n storie in die week!)

Dan raak ek meer paniekerig. As jy eers een keer gesien het hoe stukkend ‘n mens se ly fis nadat ‘n trein hom saam met die bakkie getrap het, dan kry jy nie meer daai hol kol op jou maag nie (of net as dit kort voor middagete is), en elke keer word dit makliker. Jy gebruik jou mag as joernalis om die wêreld te vertel van die gruwelike ongeluk wat nóg ‘n gebroke gesin agtergelaat het. Ek voel eintlik altyd bly as diegene wat die ongeluk veroorsaak het, dood is, want hoe leef jy saam met jouself na so iets?

So dag ek toe by myself, as ‘n plaasjapie wat so wild op die grondpaaie gery het in my jonger dae, koes-koes vir die klippe, dongas, koedoes en boomstompe met die bakkie, of ek dan soveel beter is as die jaagduiwels hier in die stad, daar waar ek alleen deur die vlaktes jaag…?

Maar ek moet vir jou sê: jou driving maak my de moer in as jy nie nét jouself nie, maar honderde mense wat saam met jou die pad gebruik, ook in die gevaar stel.