Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!