Tolke en die taaldebat

NÁ Vredenheim se Taalberaad, besprekings oor Afrikaans in universiteite, nóg praatjies en nóg konferensies, het die Universiteit van Stellenbosch uiteindelik ingegee en ’n mosie aanvaar om ’n tolkdiens te begin ondersoek.

Ek is natuurlik eensydig as dit by dié kwessie kom.

As ’n oud-Puk het ek langs Zoeloe-, Tswana- en Xhosa-studente in klasse gesit en hulle kon verstaan wat aangaan omdat die tolk deur die gehoorbuis in hul taal gepraat het. Of ten minste in Engels.

Die US het egter vasgesteek die T-opsie – twee tale in een klas, helfte Afrikaans, helfte Engels. Ongelukkig het die klasse dan dikwels oorgeslaan na net Engels en moes die Afrikaanse studente sukkel om by te bly.

Die twee studenteverenigings wat baklei vir Afrikaans, Adam Tas en die Tygerbergers vir die Behoud van Afrikaans (TBAK), het volgehou dat hulle tolkdienste wil hê. Hulle het gesien dit werk elders, en dit sou beteken dat hulle steeds in hul moedertaal onderrig kan ontvang.

Die US se ingenieursfakulteit het die taak in eie hande geneem. Hulle het ’n tolkdiens ingespan en die studente meen dit werk, selfs in ’n gespesialiseerde vakgebied soos ingenieurswese, wat deurtrek is van talle tegniese terme.

Nou het die bestuur van die US-bestuur ook op die wa gespring met die besef dat dit moontlike ’n oplossing vir teenkanting teen die T-opsie kan wees en ’n mosie aanvaar om dit te toets.

By die Vredenheim-beraad het die vise-kanselier van die Noordwes Universiteit, dr. Theuns Eloff, beaam dat die implementering van ’n tolkdiens, soos dié op die Puk, heelwat gaan kos.

Wanneer daar egter gekyk word na die universiteit se jaarlikse uitgawes, beslaan dit slegs ’n fraksie daarvan. En as die sisteem eers in plek is, is die bedryfskoste minimaal.

Ek is baie bly vir die toekomstige Maties. Nou hoef die Xhosa-outjie nie meer voort te sukkel in Afrikaans nie, maar kan die lesing volg in Engels en hopelik later Xhosa, terwyl die Afrikaanse studente steeds trots Afrikaans kan wees. Die bestuur van die US klink nog skepties, maar tyd sal wel leer of die stelsel werklik suksesvol is.

Maar soos ek sê, ek is mos ietwat eensydig.