‘n Bier teen die Karoo koue

WAT gebeur as ’n klomp wynmense van die Wes-Kaap die Oos-Kaapse koue aandurf?

Hier is ’n storie wat my ma my gister vertel.

’n Groep jagters van die Kaap het verlede week daar in ons klein Karoodorpie beland en Saterdag ’n bietjie tyd afgeknyp om die dorp te verken.

Natuurlik is daar heelwat sosiale aktiwiteite om van uit te kies in ’n stofpaddorpie met net ses strate, en hul eerste stop was by die bier-brouery, een van ons trotse besienswaardighede.

Daarna is hulle na die plaaslike watergat (die enigste) om die rugby te gaan kyk. Daar is darem deesdae ’n pool-tafel ook en halftyd blêr 1993 se treffers uit die blikkerige radio.

Saterdae beteken ook dat daar lewe by die tennisklub is, selfs al trek die termometer ver onder vriespunt.

Dis die boere se weeklikse saamtrek en die toergroep het ná afloop van die rugby daarheen gesuiker – net vir een of twee drankies.

Reeds lekker warm na al hul sosiale rondtes, het hulle by die plaaslike restaurant gaan eet, waar ’n Switserse sjef die heerlikste pizzas maak.

Dis ook dáár waar hulle die idee kry om iets buitengewoon te doen.

In ’n dorp soos Nieu-Bethesda is dit moeilik om iets aan te durf wat nog nie reeds gedoen is nie, en toe my pa begin giggel, weet hulle daar is iets aan’t broei.

Jare gelede, tydens ’n kuier by ’n destydse restaurant (die plek se naam was Stokkiesdraai), het my ouers na heelwat wyn besluit hulle gaan die “goue myl” aandurf.

Met net tekkies aan vir die dorings, het hulle om die kerk in die middel van die dorp genael. Gelukkig is daar nie straatligte in die donker Karoo nie!

Die jagters besluit toe om dié aktiwiteit een stap verder te vat, net om ánders te wees.

Twee van die manne het hul klere net daar gelos, en gewapen met ’n hoed – ingeval hulle iemand teëkom – begin hardloop, reg om die kerk (wat drie blokke van hul beginpunt af is).

Wes-Kapenaars laat hulle nie sommer onderkry nie, en om seker te maak dat niemand gou van dié insident nie vergeet nie, het hulle doodluiters die kroeg binnegestap, hoed voor die skaamte, en ’n bier teen die bibberende koue bestel.