Laas week se rubriek:
REEDS tien minute laat, op pad na my klas, en my petrolliggie begin flits. My irritasievlak skiet sommer ook die rooi in.
Ek het net gister my laaste einde-van-die-maand-R50 in die tenk gegooi en gehoop ek gaan dit maak tot pay day toe. Een of ander idioot het reg voor die klas met sy blink nuwe motor só geparkeer dat hy oor drie plekke staan.
Ek kan ook nie waag om naby die rooi streep te stop nie. Die spietkops is heeltemal te kwaai deesdae.
Ek ry mompelend nóg ’n draai om die blok, en ná die derde keer, besluit ek om maar agter die stadsaal te gaan parkeer. Ten minste is dáár ’n gaatjie oop. Die kwaai tannie wat die parkeermeters dophou, gluur my aan en ek draf maar gou na die naaste winkel om kleingeld vir die parkeermeter te maak.
Vyftien minute laat. ’n Jong lat in ’n afslaan-kap BMW Z3 tref my amper toe ek die pad oorsteek, en ek raak van voor af die hoenders in. Kleingeld in die hand, wonder ek wat ouers dink wanneer hulle vir ’n 18-jarige ’n Z3 present gee.
My ouers is nou nie welaf nie, en ek het self ’n motor aan die einde van my eerste jaar gekry (let wel, einde!), maar dit was ’n regte ou skedonk wat al baie jare op die pad was.
Die parkeermasjientjie sluk my R5-munt in en sê ek het net ’n uur voordat ek terug moet wees. My klas is twee ure lank, dus hoop ek maar vir die beste. As die tweede oudste dorp in Suid-Afrika, dateer Stellenbosch uit ’n era voordat motorkarre die Suid-Afrikaanse paaie vol geloop het.
Toe Simon van der Stel in 1679 hier aangeland het, het hy erwe toegeken sonder om die hedendaagse uitbreiding van die dorp in ag te neem, wat nog te sê van die duisende studente wat hulself hier kom tuismaak vir ’n paar jaar. Die nou strate is eerder geskik vir die dae toe perdekarre die dorp deurkruis het.
Uiteindelik besef ek dat ek eerder my motor by die kantoor moes gelos het. Dan kon ek die paar blokke na my klas te voet aangepak het.
Dit sou ook heelwat gouer geneem het. ’n Halfuur laat strompel ek met my swaar rugsak tot by die klas.
Net om te ontdek die blink motor is weg en drie parkeerruimtes is beskikbaar rég voor die deur!

My jinne, hoekom het ek jou nognie raakgelees nie!!!
Waar is jou header se foto geneem?
Sjoe dis weird. Kyk nou net na jou skaap-foto… Ek het laas week my site bietjie opgepimp so dit lyk nou baie nicer. Die foto is in Nieu Bethesda geneem. Die berg is die agtergrond is Kompasberg, die hoogste alleenstaande piek in die Oos-Kaap. 🙂
Ek wou nog byvoeg: ek haat Stellenbosch vandat woonstelle oral opgerig word. En elke woonstel het 2 of meer inwoners, en elkeen het ‘n kar…
Die dorp is netnie meer wat hy was voor die oorlog nie.
Ja, en ons strate is ontwerp vir perdekarre. En ‘n skroppende hen en haar kuikens. En kabbelings in die waterstroom (nie GEBREEKTE GLAS nie). En mense wat uitvra oor mekaar se welstand.
Ja, Stellenbosch se parkering is altyd ‘n frustrasie. Ek parkeer sommer daai oortreders se bestuurder-deur toe as hulle so skeef staan. Dan neem ek maar die registrasie nommer- mens weet nooit watter tipe ou skraap jou motor uit woede nie.