Die probleem begin wanneer jy iets wat vir jou so lekker is, ‘n lewe van maak.
Dit beteken dat jy ure sit en doen wat jy eintlik net wou doen om besig te bly in jou tussentyd. Later verswelg dit jou so dat jy glad nie meer by die ander lekker dinge uitkom nie – jy kan nie meer boeklees, of simple chick flieks kyk, of rustig saam met vriende sit en bier drink of net heeldag lê en slaap nie.
Die problem met jou stokperdjie verruil vir ‘n salaris is dat jy nooit weer net kan sit en skryf omdat jy net wil nie, maar omdat jy moet. Jy skryf oor onbenullighede en irritasies en klagtes, oor moord en doodslag en noodlottige ongelukke en verloor jou siel in ‘n diep donker put van politieke bakleiery.
Aan die einde van die dag probeer jy woorde aanmekaarsit wat nie regtig meer kreatief klink nie, want die skrywe oor die lewe het dit alles uit jou getap. Moeg, honger en vol bloederige beelde sit jy en staar na die wit skerm voor jou en al die feite van die verlede maak jou skrywende siel dood sodat jy leeg bly.
Ek dink dis dieselfde vir kunstenaars wat hul canvas en kwasse wegsit om grafiese ontwerp te begin doen, vir fotograwe wat die mooi verruil vir die lelike lewe daarbuite, vir die akademikus wat opeindig in ‘n kantoor, omring deur papierwerk en die sportster wat na nóg ‘n besering sy tekkies moet ophang en ander, jonger en beter kinders moet leer wat hy lankal weet.
Ek dink jy verloor ‘n bietjie van jouself as jy die ding wat jou kreatiwiteit aan die gang gehou het, verpand om te oorleef.
Maar dan is daar die ander kant van die saak moet dit seker ook gese word dat as dit ie was vir die werk wat jou siel doodmaak nie, sou daar ‘n ander werk gewees het wat ‘n mens minder geniet en wat meer sielsdodend is.
Hoe kies ‘n mens dan tussen die lesser van die twee evils?
