My Antie Kraai

EK lees gisteroggend Valiant Swart se rubriek oor huishulpe.

Hy vertel hoe so iemand deel kan word van jou gesin en die lief en leed kan deel. Toe ek baie klein was, het ek só ’n oppasser gehad. Haar naam was Antie Kraai.

Eintlik was dit Angeline­ Kraai, maar daai lange naam was een te veel vir my kindertong om reg te kry en sy was sommer net my “Antie Kraai”. Haar mense het haar egter al die jare Antie Evelyn genoem en dis ook met dié naam wat sy ’n celebrity geraak het.

Vir die eerste paar jaar van my lewe moes die liewe Antie baie rond hardloop om seker te maak ek en my ouer sussie bly uit die modder en die moeilikheid, terwyl ons nie ons kleiner boetie uitbuit nie.

Sy het gesorg dat ons tande geborsel en hare gekam is. Sy het ons beddens opgemaak en kaste reggepak. Sy het my verskriklik bederf. Sy het altyd gelag as sy vertel hoe ek “my pê” wou hê. My ousus was voor my uit die doeke en ek wou ook soos sy grootmeisie-onderklere dra. Dis steeds een van die dinge wat sy oorvertel wanneer sy my sien.

Haar man, Flip Oliphant, was my pa se voorman, en hy het later begin om vir die munisipaliteit te werk en hulle is van die plaas af weg.

Maar my Antie Kraai was ’n goeie sakevrou, en aangesien Nieu-Bethesda (waar hulle nog steeds woon) die meeste van sy inkomste uit toerisme genereer, het sy die geleentheid aangegryp en ’n restaurant begin.

Vandag is sy bekend vir haar drie-gangmaaltye – tradisioneel met ’n township-invloed. Bobotie, roosterbrood en moerkoffie uit die boonste rakke. Die heerlikste kos bedien in haar eenvoudige huisie in Pienaarsig wat oor die sokkerveld uitkyk. Sy sal ook tydens die maaltyd met jou gesels en heelwat te vertel hê oor haar eie lewe, haar kinders en die gemeenskap.

Menige joernalis het al haar drumpel deurgeloop en seker gemaak haar bekendheid groei.

Ek maak deesdae my eie bed op en pak self my kaste reg, want Antie Kraai het haarself van ’n geliefde huishulp opgewerk na ’n bobaas-kok en vandag is sy famous.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *