Ek het ‘n groot probleem met winkels wat in September al begin om Kersfees te vier, maar aangesien die einde van die September seker die verste is wat ‘n mens kan wees van Valentynsdag, het ek tog besluit om bietjie daaroor te gesels.
Elke feestyd kom met sy eie tierlantyntjies. Paasfees is my gunsteling, want nie net beteken dit paaseiers nie, maar ek verjaar gewoonlik ook in daardie tyd. Verjaarsdae is cool. En paasfees. En Kersfees as hulle dit nie té vroeg begin adverteer nie.
Maar Valentynsdag suck.
Ek dink dis die domste ding ooit uitgevind. Hoekom sal mens ‘n mens ‘n dag wil hê om die liefde te vier as meeste van ons in elk geval nie liefde in ons lewens het nie? Dis mos sommer net simpel. Selfs getroude paartjies sê meestal dat “elke dag veronderstel is om Valentynsdag te wees”. Dis eintlik vir my nog meer belaglik. As nie eers getroude couples dit wil vier nie, wat de joos is die punt?
Dis een van daardie vakansiedae wat deur die winkels gebruik word om bietjie meer geld te maak, so een maal ‘n jaar. Seker maar dieselfde as Kersfees en Paasfees in ‘n wêreld waar daar nie juis meer mense is wat glo in God nie.
Ons kultuur verwag wel dat ons glo in Valentynsdag.
Ek het nog nooit op Valentynsdag ‘n boyfriend gehad nie. Miskien is dit grootliks deel van my probleem met die hele idee. Ek het wel een Valentynsdag wakker geword met ‘n boyfriend, maar dié het toe besluit om my sommer voor my oggend-koffie te fire. Nie dat ek hom blameer nie. Ek dink nog steeds nie ek het so baie van hom gehou nie.
Ek het op universiteit baie oulike jong mans ontmoet, maar daar was vir ‘n ruk lank net een vir my. Eintlik het ek hom lankal geken. Ons het saam as assistente gewerk in die biblioteek vir ekstra bietjie sakgeld.
Dit was eers na die einde van ‘n jaar van so saamwerk dat daar enigiets gebeur het… en dit was toe by ons eindjaar-funksie. Die probleem met lente en liefde en universiteit is dat dit gewoonlik lei na die somer, waar daar gewoonlik ‘n twee na drie maande breek is waar jy nooit die ander persoon sien nie. Dis wat die diversiteit op universiteit so fantasties maak, maar ook so hartbrekend.
Ons was vir ‘n week saam toe hy my die eerste keer gelos het, kort voor die vakansie. Ek het gaan sit en wou nog so half aan die huil gaan toe ek besef dat iets nie lekker was nie. “Het jy my verneuk?” wou ek dadelik weet. Hy het erken dat hy het, en dat hy nie juis ‘n toekoms vir ons sien nie.
Natuurlik moes ek mos toe geweet het, en die hasepad so vinnig en ver moontlik in die ander rigting gekies het, maar ons weet mos almal dat dit nie juis so werk nie.
‘n Paar ure later het hy my amper in trane gebel. Sy bakkie, wat sy gunsteling-besitting was, is gestamp in sy dronkenskap, en al wat hy wou doen was om my terug te hê. Hy het die grootste fout van sy lewe gemaak.
‘n Week later het hy my weer gelos, en ek het hom weer teruggevat. Ek weet nie eintlik hoeveel ander meisies daar was nie, maar ek vermoed dat daar baie meer was as wat ek van geweet het.
Teen die tyd wat die Desember-vakansie aangebreek het, was ons verhouding so half aan-en-af aan die gang.
Toe ek egter twee maande later ‘n dag vroeër by die universiteit aankom, staan sy eks-meisie se kar natuurlik voor sy huis. Toe ek bel het hy gesê dat hulle hele vriende-groep saam gaan visvang het, en dís hoekom haar kar daar was. Sy het later die jaar eers, toe ons altwee oor die simpel man gekom het, vir my die waarheid vertel.
So het e kaangevoeter saam met die man wat my aanhourondvoeter het, tot die 14 Februarie daardie jaar.
Ek het wakker geword, opgewonde dat ek uiteindelik ‘n ou het om Valentynsdag, min wetende dat dit nog net vir ‘n halfuur sou hou.
Ons het daardie dag uiteindelik uitgemaak, vir die laaste keer.
Ek kan regtig nie sê dat ek spyt was nie. Hy het later ‘n ander meisie gehad, wat hy amper ook op Valentynsdag gelos het die volgende jaar, wat hy net so verneuk het, en dan weet sy daarvan.
Hy bel my so een keer ‘n jaar, net om vir my te sê hy is gelukkig. So asof ek omgee.
Valentynsdag suck. En dis alles jou skuld.

Die Donner.