Sondae was nog altyd een van daardie dae wat jy familie mis, en almal het iets van hul eie om te doen. Veral as jy ver van jou huis is, is Sondae die slegste.
Op Universiteit was dit altyd die ergste. Dan het ek sommer die dag omgeslaap. So nou en dan wasgoed gewas, geloop om middagete te gaan haal by die eetsaal en miskien ‘n vinnige koffie saam met iemand gedoen.
Maar meestal vang die blues jou dan.
In die klein kusdorpie waar ek vir ‘n ruk gewoon het, het ek ‘n vriendin gehad wat nogal Sondae meer draaglik gemaak het. Ons het dan sommer gaan sit en wyn drink om die lang ure voor Maandag om te kry. Dit was ons manier om die week af te sluit, en het gewoonlik veroorsaak dat Maandag sommer nog meer blou begin. Niks soos wingerdgriep om die week te begin nie.
Toe ek onlangs na die Wynland toe trek, het ek ook eers so vae verlange begin ontwikkel elke keer as Sondag aanbreek.
Maar toe ontmoet ek jou.
Nou is Sondae ‘n dag vir musiek, wyn en liefde. ‘n Liefde vir Sondae, of ‘n Sondag-liefde.
My Sondae bestaan nou uit wyn, en goeie musiek en samesyn.
Die swartkop baskitaarspeler in die reën
Ek hou baie van musiek. Sommer enige musiek. Van Afrikaanse sokkie-tunes tot so bietjie blues, sagte rock en selfs deesdae so nou en dan ‘n klassieke tune of twee.
Daar is egter een genre music wat ek bietjie sukkel om te sluk. Daai harde, skreeuerige, heavy metal. Wel deesdae noem hulle dit sommer ook alternative rock, wat glad nie vir my sin maak nie. Alternative is té mooi ‘n woord om misbruik te word om daardie tipe musiek te beskryf.
Ek het wel eenkeer ‘n band ontmoet wat nogal probeer het om iets anders te doen. Die jong laaities van die Oos-Kaap het ‘n vreemde mengsel van musiek aanmekaargeslaan. Dit begin gewoonlik met so ‘n bietjie trance, moerse lekker mix en net as jy begin dink jy is eerder in ‘n rave as ‘n rock-konsert, slaan hulle oor na daai naarstigtelike skreeu wat kwaai mense, wat baie van swart hou, altyd na luister.
Hulle was maar ‘n vreemde klomp. Hul voorsanger was bekend daarvoor dat hy nie sommer swart sal aantrek soos die res van die massas mense wat na dié tipe shows toe gaan nie. Sy rooi-en-wit gestreepte hemp is baie maklik om in die pikswart see op te spoor. Hulle dromspeler het ook geweet hoe om daai ding te slaan, selfs al was hy daardie tyd net 16.
Dit was egter hulle baskitaarspeler met die pikswart hare wat my oog gevang het. Ons het daar agter in die VIP area sit en sjampanje drink op die klein dorpie waar die groot fees besig was om plaas te vind, en baie, baie later die aand het ons in die donkerte en die reën staan en vry.
Ek moet darem bysê, met al die oulike musikante wat ek al ontmoet het, was hy die enigste een wat ooit daardie geluk gehad het. Ek het in die tyd daarna hulle weer raakgeloop by ‘n show in die Baai, maar net vinnig gegroet en dit was meer as ‘n jaar later toe hulle toevallig speel in die nuwe kusdorp waar ek toe bly.
Ek kon nie eers meer die kitaarspeler se naam onthou nie, en ek het bietjie geworry oor wat ek gaan sê as ek hom sien. My vrese was toe sommer onnodig, want daar was ‘n nuwe blonde ou wat die baskitaar beman.
Die jong dromspeler het my erken en nog lekker gegiggel oor die aand, lank gelede, in die reën. Dit was eers ná die show, toe ek met die hoofsanger in sy rooi-en-wit strepe gesels, dat ek kon vra wat gebeur het dat hulle ‘n nuwe lid in die groep het.
Ek was stomgeslaan om te hoor: “Maar het jy dan nie geweet nie? Hy’s ses maande terug dood in ‘n motorongeluk.” My enigste attempt om ooit ‘n groupie te word. Lekker rus Tim.
Die Kaptein en die Matroos in ‘n klein kusdorpie
Om by die see te bly is tog te lekker. Die fantastiese strande is enige surfer se droom… maar as jy nie kan surf nie, dan drink jy maar.
Vir ‘n gesoute drinker soos ek vat dit ook nie lank om al die kuierplekke in die dorp te leer ken nie. Selfs in ‘n klein dorpie is daar nogal ‘n wye keuse. Na ‘n maand of wat kry jy ook jou gunsteling uithang-plek of twee.
Dis ook toe so dat ek een aand toevallig deur ‘n ou wat ek een aand deur iemand anders ontmoet het, genooi word na ‘n nuwe plek. Die nuwe plek is eintlik ‘n Ou Plek, een van daai legendariese kuierplekke wat al die rock-sterre besoek wanneer hulle op die oostelike kus kuier. Weggesteek tussen ‘n haarkapper, ‘n tweedehandse winkel en die KFC drive-through, loop die stegie af tot in dié donker pub.
Die eerste kuier daar was maar ‘n bietjie vreemd. As jy nie regtig iemand daar ken nie, dan sukkel dit maar, veral omdat die ou wat ek ken deel van die akkoestiese band is wat daai aand gespeel het.
Later maande het ek darem al ‘n paar vriende gemaak. Dis dán wanneer daardie weggesteekte Ou Plek jou gunsteling plek word. Jy stap in by die deur, dan maak Oom Piet al jou bier vir jou oop. En as jy daardie dag nie geld het vir ‘n tweede nie, dan gee hy sommer een, omdat hy weet jy sal weer daar uitval.
Dis ook waar ek Die Kaptein ontmoet het. Van die beter mense om daar te ken. As jong meisie sal hulle jou teen die skobbejakke beskerm, vir jou al hul ou stories vertel en so nou en dan omkoop met nog ‘n drankie, net om nog ‘n bietjie te sit en luister.
Die Kaptein werk op ‘n tenker-skip en is vir maande aan een nie op land nie. Wanneer hy egter aanland is dit rede vir groot partytjie, vir twee maande, tot hy weer teruggaan see toe. Tydens hulle vaarte oor die wye seë mag hulle nie drink nie en word op elke hawe getoets, dus maak hy gebruik van die tye wat hy tuis is.
Die stories wat hy vertel strek oor baie lande, baie waters en baie onderwerpe. Die vreemde kultuur van die Japanese meisies wat so mooi na hulle kyk as hulle daar aankom, en hoe die matrose die “Dear John” briewe, wat al te veel op die skip land, hanteer.
Een dag het nog ‘n jong man, nadat hy maande laas op land was, weer een van dié briewe gekry. Die Kaptein het die jong man vaderlik ondersteun en toe begin met ‘n inisiatief wat hulle almal bietjie beter te laat voel.
Hy het ‘n groot wêreldkaart op die een kantoor se muur geplak, groot geskryf “Dear Jane” en ‘n koukie langsaan gehang vir hartgebroke soldate om hul diepste gevoelens neer te skryf. Die brief het elke keer as daar nog ‘n hart gebreek was, gegroei en alhoewel Die Kaptein natuurlik die ergste gesensor het vir my jong-meisie ore, kon ek duidelik die gevoel kry.
Dié storie het natuurlik ná aan my hart kom lê. Ek het self my hart verloor op die Matroos wat op ‘n stadium onder dieselfde Kaptein gewerk het. Ná jare het ek egter besef dat dit seker nooit gaan gebeur nie. Hy was altyd op see as ek sy tuisdorp besoek het, en drie jaar later is hy verloof aan iemand anders.
Ek was platgeslaan vir ‘n bietjie, en toe die oproep kom dat ek verskuif word na daardie selfde kusdorpie, het ek eintlik al begin vergeet van hom. Groot was my verbasing toe ek deur die skinder-kringe verneem dat my Matroos ook ‘n “Dear John” ontvang het, slegs maande voordat hy moes trou.
Ek het ongelukkig nie lank genoeg in daardie dorpie gebly om te weet wat die uiteinde sou wees nie, en hy het steeds sy wonde gelek toe hy die laaste keer op land was. So loop die lewe mos maar sy gang.
