Boy en Perdekar en die appel

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

Die Manakwalanners

So land ek nou die dag op ‘n Donderdagaand voor die televisie.

So halfpad deur die aand se kanaal-hop begin die ou-ou reeks Die Manakwalanners te speel.

Dié storie uit vervloë dae het my uit my kinderdae bygebly. Toe die musiek begin speel was ek (soos daai toneel in Rattatouille) terruggevoer na my kinderdae. Die onthou wat jou wegruk uit die koue winter tot die knus leefkamer van die plaas. Die reuk van ma se kos op die Aga-stoof en harde son, stof en die wag vir reën.

Almal onthou daardie een reël wat lui: “Is, myse ma se ok so!”

Dit was die derde episode getiteld “Die Boodskap”. Boerie stuur vir Abraham dorp toe om vir sy girl ‘n boodskap te neem. Hy moet dan die antwoord terugbring. Dit was destyds my gunsteling episode! Die boodskap was drie van daardie lekkergoed met die geskrywe op: “Jy is welkom”, “Nie vanaand nie” en nog een wat ek nie kan onthou nie… was dit “kan ek kom kuier” of “ek is lief vir jou”?

Terwyl die ander karakters voortgaan met die lewe in Namakwaland, speel die liefdesverhaal hom af.

Ná heeldag se wag kom Abraham terug met die boodskap. Kop omlaag vertel hy vir Boerie dat hy die boodskap verloor het. Hy het gestop om water te drink by die dam en die lekker het uit sy sak geval, saam met hom in die water beland.

“Ek het lank gesoek, Boerie, vir die boodskap. Maar die geskrywe het daar in die dam agter gebly. Toe ek die lekker kry was hulle reeds weg, en ek kon die geskryf nêrens in die water opspoor nie…” “Nou sal ek nooit weet nie…” antwoord Boerie.

Toe ek die eerste keer dié episode gesien het, was ek ook lus om verlief te raak. Ek wou ook boodskappies ontvang van ‘n man wat heeldag wag vir die antwoord.

Ongelukkig stuur niemand meer lekkergoed met geskrywe op nie. Hulle stuur SMS’e of add jou op Facebook of stuur ‘n e-pos.

Wat het van daardie ou-wêreldse romanse geword?

Marta en Antonie, my agt-voetige vriende

Ek het onlangs plaas toe getrek.

Net ‘n klipgooi van die midde-dorp af bly ek nou op ‘n klein plasie in ‘n klein plaashuisie (blykbaar die eerste wat opdie R44 tussen Stellenbosch en Somerset Wes gebou was). Die huisie is fantasties, die huur is min en ek het tot ‘n tuin en so aan.

Dis vir my alte lekker om in die ande te sit en kyk hoe die son ondergaan terwyl ek goggas wegjaag. Die eerste paar aande in elk geval, voor die koms van die MONSTER!

Okei, ek oordryf, dit was nie regtig ‘n monster nie, maar die tarantula-like huge big-mother-trucker big-ass harige spinnekop in my badkamer gee my nou al nagmerries! Kinder swat stories oor die tokkelos gehoor het, kry nie sulke nagmerries nie.

Sien ekhet regtig gedink die spinnekoppe gaan buite bly. Ek het ‘n ruk terug ‘n massiewe speel-spinnekop gekoop. Sy naam is Antonie (want hy het nie tone nie). Swart en harig met rooi oë. Ek het hom eintlik net gekoop omdat my suster so groot geskrik in die toy shop dat sy op my begin gil het dat die hele mall kon hoor. Ek het amper gaan lê soos ek lag.

Nou het ek vir Antonie. Sy pote is almal seker so 20cm lank en waar hy in my kame sit, pas hy my op. Dit was die idée in elk geval. Hy moet die spinnekoppe wegjaag.

Die enigste probleem is dat ek vermoed hy nooi al sy buddies om saam met hom te kom party as ek nie daar is nie. Flippen amper so flippen groot soos hy.

So leef ek nou maar met my reënspinnekop in die badkamer. Hy’s nogal ‘n meneer en ek het myself stupid geskrik toe ek hom die eerste keer sien (nie so baie soos die dude wat in die badkamer gestaan het nie… *giggle*)!

So is hy weg in die dag en wanneer ek party aande laat eers tuis kom dan sit hy maar daar en wag, partykeer op die deur, partykeer bo die shower, maar meestal in die hoek, ver weg van my af.

Kyk solank sy my goggas vang en ek weet waar sy is, is ek eintlik oraait met Marta. Sy moet net daar chill sodat ek haar kan dophou uit die hoek van my oog.

Na ‘n wilde aand uit spring ek nou die dag te laat uit die bed, klaar laat. Ek jaag om klaar te maak en somehow die traffic in die Bos in te vermy.

Toe ek klaar geshower het kyk ek eers mooi of Marta nie iewers in ‘n ohek sit nie. Ek sien haar nerens nie, so ek vat versigtig aan die handdoek, besluit om hom maar uit te skud.

Ek gee nog een laat waai toe spring daai mother-f@#$@# harige ding op my hand! Ek skrik so groot ek gly amper in die bad, gee ‘n gil en laat val die handdoek, reg langs waar Marta in ‘n hopie gaan lê het.

Bewerig het ek uitgeklim, nat spore gelos en ‘n ander handdoek gegryp, nog steeds aan’t bewe werk toe gery.

Marta is nog steeds in my badkamer. Sy kyk vir my as ek daar inloop, partykeer met voorvoete orent.

Ek dink ons weet altwee dat dit eintlik net ‘n groot skrik was.

‘n Miljoenêr in ‘n blink kar

Ek is eintlik maar ‘n gewone plaasmeisie. Ek het di tnou die dag weer besef. Ek hou van die gewone dinge in die lewe: bier, vriende, pop-musiek en groot bakkies.
So vind ek myself nou die dag helemal buite my gewone boer-seun-rugbyspeler-met-‘n-bakkie liga, die gewone man waarvoor ek val.

Die man, lyk dalk soos ‘n rugbyspeler, maar hy ry met ‘n slinkse gladde luiperd-rige motor (wat ek natuurlik eers na die tyd uitgevind het) en sy kamer is so groot soos my hele huis (het ek ook na die tyd uitgevind).

Hy was great. Hom by ‘n werksfunksie ontmoet, en tussen al die mammas en skreeuende kinders het ek gedink sy hoog-swanger vrou is seker ook daar rond. Hoekom anders sal ‘n man bydra tot ‘n fonds wat arm kinders help?

Toe nou nie. Hy het net genoeg geld om dit te doen. Nogal cool het ek gedink.

Maar toe ek in die groot kamer op die king-sized bed sit en kyk wat om my aangaan het ek ‘n escape route begin soek. Ek was heeltemal geïntimideer.

Nie omdat ek voel ek is nie ‘n ryk man werd nie, maar meestal omdat ek dit nie regtig wil hê nie. As jou kamer so groot is dat selfs ‘n king-sized bed klein lyk, is dit vir my net onnodig.

Gee my dan eerder ‘n plaashuisie met ‘n eenvoudige tuin wat nie elke dag ‘n landscape artist nodig het nie. Gee my ‘n groot bakkie en die wete dat ek nooit gaan voel asof ek in iemand se paleis oortree nie.

As ‘n plaasjapie die stad se paaie aandurf

So sien ek nou die dag ‘n kar met die woorde “If my driving offends you please phone…” en ek dag toe by myself…

Ek is een van daai mense wat baie maklik offended raak deur ander mense se driving. Die probleem begin eintlik met die dat ek leer bestuur het op ‘n plaas in die Karoo. Dáár kan jy sommer aan die regterkant van die pad ry as jy so voel, en net so nou en dan check of daar nie ‘n boer met ‘n groter bakkie besig is om verby te jaag nie.

Dit beteken dat die stad se verkeer die lewe vir jou baie moeilik maak. Jy het nie geduld vir die idioot wat 2km/h ry nie, en raak sommer beduiweld wanneer iemand dit durf waag om verby jou te jaag asof dit húlle pad is.

En dan het jy nie eintlik ‘n idee hóé de joos om eintlik in die stad te ry nie. Daar is te veel bane, karre, padwerke en teer wat ek net eintlik glad nie verstaan nie. Ná ‘n rukkie kom dinge darem bietjie reg, maar eintlik is jy nog steeds daardie plaasjapie wat doodbang is om die blink-stroom karre stad se kant toe binne te vaar nie.

Die lekker ding van met ‘n Oos-Kaap nommerplaat rondry is dat jy gewoonlik kan wegkom met enigiets, selfs verkeerde kant om in ‘n one-way opry. Dit hel p darem so nou en dan, en jy kry darem so nou en dan ‘n amperse smile uit die ander bestuurder se ruit, eerder as die gewone middelvinger uit die venster uit.

Dan tree die ander probleme in. As ondersoekende (of eintlik observerende) joernalis, kom ek baie in kontak met ongelukke wat gebeur. My inbox is op ‘n Maandag vol gruwelstories en dan tel ons maar op hoeveel lewens die paaie nou weer geëis het. (Juis weer ‘n storie in die week!)

Dan raak ek meer paniekerig. As jy eers een keer gesien het hoe stukkend ‘n mens se ly fis nadat ‘n trein hom saam met die bakkie getrap het, dan kry jy nie meer daai hol kol op jou maag nie (of net as dit kort voor middagete is), en elke keer word dit makliker. Jy gebruik jou mag as joernalis om die wêreld te vertel van die gruwelike ongeluk wat nóg ‘n gebroke gesin agtergelaat het. Ek voel eintlik altyd bly as diegene wat die ongeluk veroorsaak het, dood is, want hoe leef jy saam met jouself na so iets?

So dag ek toe by myself, as ‘n plaasjapie wat so wild op die grondpaaie gery het in my jonger dae, koes-koes vir die klippe, dongas, koedoes en boomstompe met die bakkie, of ek dan soveel beter is as die jaagduiwels hier in die stad, daar waar ek alleen deur die vlaktes jaag…?

Maar ek moet vir jou sê: jou driving maak my de moer in as jy nie nét jouself nie, maar honderde mense wat saam met jou die pad gebruik, ook in die gevaar stel.