HOOP is ’n vreemde ding.
Daar is baie dinge wat ’n mens hoop vir die lewe gee. Die man wat jou laaste R100-noot langs jou motor optel en dan wonderbaarlik aan jou terugbesorg. Die karwag wat jou bel om te sê hy het jou gesteelde beursie opgetel. Die polisie en die regstelsel wanneer hulle ’n berugte skelm aankeer, en dié man beland uiteindelik agter tralies.
En die munisipaliteit wanneer hulle iets doen wat ’n hele gemeenskap se lewensomstandighede verbeter.
Ek het die laaste ruk die geleentheid gehad om ’n paar mense wat régtig ’n verskil maak, te ontmoet. Eers in Kayamandi, waar ’n groep mense uit Sone N begin het om hul eie strate skoon te maak.
As jy tussen al die vervalle laslappie-huisies geloop het, sal jy nou eensklaps die verskil sien. Die huisies staan so styf teen mekaar dat voertuie nie daar kan deur nie. Riool stroom gewoonlik in die strate af deur die massas rommel wat niemand skoonmaak nie.
Sedert van die inwoners nou wel opruim en eienaarskap van hul eie gebied neem, begin al hul bure saamwerk. Kinders wat rommel strooi, word gou geskel en dink twee keer voor hulle dit weer doen. Die bure maak nou self hul voortuine skoon en rommel word in swartsakke geberg.
In Cloetesville weer, het ’n groep mense begin tuinmaak om die berge rommel wat langs die pad gegooi word, stop te sit. Uit hul eie sakke en met hul eie hande het hulle begin om tuine te maak waar daar eens rommelhope was.
Dít is wat ’n mens hoop gee vir ons land. Die hartseer saak is dat die rommelhope gewoonlik net ’n entjie aanskuif. Maar die ouens wat eienaarskap neem en hul bes doen om ’n verskil te maak, is ons land se redding.
Die jongspan sien hoedat hul ooms, neefs en tannies werk om hul eie omstandighede te verbeter. Hulle sien hoe dit is om skoon strate en netjiese tuine te hê, eerder as rommel wat die plek vol waai.
Dis ’n les wat nie op enige ander plek as jou eie gemeenskap geleer kan word nie.
Apatie het nog nooit iemand iets in die sak gebring nie. Wat doen jy om ’n verskil te maak?

