Anglo-frikaans: so verkrag ons ons eie taal

Blykbaar is dit eintlik maklik om te skryf.

Só sê een van my vriende nou die dag vir my. Blykbaar kan enigiemand met ‘n klein bietjie agtergrond in Afrikaans dit doen. Soos dié blog. Ek kan woorde soos cool, flippen, weird en hectic tussendeur gebruik. Sommer so terloops, asof dit nie eintlik uit ‘n ander taal uit kom nie.

So praat ons almal mos maar ‘n aanmekaargeflansde taal. Spoeg en plak so hier en daar ‘n word uit Engels, so nou en dan ‘n Franse een, en elke dan en wan een in Duits. Ná ‘n rukkie kom ons nie eers meer agter dis nie Afrikaans wat ons praat nie, en die Anglo-frikaans kry al hoe meer vorm.

Daar diep in die Groot Karoo praat veral die Engelse boere so deurmekaar. ‘n Ongelooflike deurmekaarspul. Ons bure se seun het na ‘n kwartaal oppad plaas toe sy rapport vir sy ma gegee. Onderaan het gestaan: “Joseph mixes his languages a lot.” Sy ma draai toe sommer net daar in haar stoel om te raas: “Jo, you mustn’t talk so deumekaar, man!” En sy is ‘n onderwyser!

Ek moet sê, behalwe vir die Afrikaans-Nederlands dosente wat ek ken, is die enigste ander mense wat regtig Afrikaans kan praat, die mense van die Paarl. Ek is nog steeds nie seker hoekom nie, maar hulle almal praat so mooi. Van “my woning” en “ons gaan ‘n maaltyd geniet”. Dis asof Afrikaans nooit daar uitgesterf het nie.

Daar is die permanente geveg aan die gang tussen die regering en die tersiêre akademiese instansies wat die taal betref. Tog is daar slegs ‘n kleine deeltjie van die alumni wat Afrikaans as ‘n vak loop en dus regtig die taal waardeer. Die res praat die mengelmoes Afrikaans wat almal so goed ken. “Awhê brother, hoe lykit, man?” Ek meen, wie sê nou eintlik “Goeie more, mejuffrou”. Niemand praat meer so nie.

Ek het ‘n groot probleem met hoe van die koerante deesdae skryf. Veral die wat gemik is op tieners. Ek meen, hoe de joos moet hulle die taal ordentlik aanleer as koerante dieselfde horibale taalgebruik toon as wat die mense daar buite praat? Is die idee nie juis om hulle reg te leer nie? Ek glo in elk geval tieners wat koerant-lees wil dit graag doen, en jy hoef hulle nie te trek met slang-deurdrenkte taal nie.

Kry ‘n blog. Skryf na jou hartewens al die Engelse byvoeglike naamwoorde wat jy kan. Maar hou dit tog net uit die media uit.

Hou op om ons taal te verkrag en dan te huil oor jy nie kan klasloop in jou moedertaal nie. Waar is jou trots dan?

6 Replies to “Anglo-frikaans: so verkrag ons ons eie taal”

  1. Is waar … wat jy sê, maar hoe moet Moeder Holland na 300 jaar se Nederland bashing voel … hulle noem ons taal mos kombuis nederlands … dalk moet ons almal in ingels klas loop … dalk sal ons kinders beter kans hê in die buite wêreld ..

  2. As ek die lees dink ek aan hoe die “mxit” van vandag ons kinders se vermoë om te kan spel beduiwel. Ek klets gereeld op ‘n mIrc kanaal en is n admin daar, daar kan jy dit duidelik sien.

  3. Nou is daar ook ‘n verskil aan Afrikaans praat – en Afrikaans praat! Hier in die Noord Kaap is dit bitter duidelik. Ek dink net nie die gebore NK’s kom dit agter nie. ‘n Motorhuis is hier bekend as ‘n waenhuis, ‘n Ventertjie of sleepwa, as wa. Die erf ‘n ‘n jaart. ‘n Mens sê nie vir iemand om asseblief te gaan sit nie, dis ‘loop sit daar’. En elke liewe sin wat jy praat eindig jy met ‘hoor jy?’ Dit vat nogal ‘n tydjie om hieraan gewoond te raak!

  4. Hartjie! hoe het afrikaans ontstaan? dis ‘n jong taal en dit moet evolve of uitsterf soos wat met die dinos gebeur het. If you get my drift.

  5. Verwar mense nie soms suiwer taal en snobtaal nie? Ek dink “woning” is dalk snob vir “huis”, en “maaltyd geniet” is seker De Kat vir “eet”.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *