Gemmerbier-herinneringe

Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).

Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.

Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.

Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.

Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.

Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!

Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.

Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.

Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.

Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.

Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.

Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)

Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.

Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.

Dalk is vandag my gelukkige dag

Rubriek vir die week:

EK dink vandag is my gelukkige dag.

Ek het my nommers gekies en wag nou in spanning vir die uitslag. Ek is nogal besig, dus vergeet ek altyd om te kyk of ek gewen het, maar dié week is daar miljoene op die spel en ek gaan nie sommer my kans laat verbygaan nie. Yebo Millions!

Teen tien rand, kan ek twaalf nommers kies. Dié keer het ek dit nie aan toeval oorgelaat nie en self my nommers gekies.

Ek gaan myself natuurlik onder die agterent skop as my twee rye nommers saam die totaal opmaak en ek nie ’n miljoenêr wegstap nie.
Hmmm… wat sal ek doen met ’n miljoen? Of in dié geval, R60 miljoen?

Ek dink ek sal die helfte belê, die ander helfte uitgee op my ou motor wat regtig ’n ordentlike diens nodig het.

Ja, ek dink ek sal my skedonkie hou. Ons kom al ’n lang pad saam. Een van daai verwaande mense word wat met miljoene in die bank nog steeds ’n ou kar ry.

Ek sal vir my huis meubels koop. Ek bly al amper ’n maand daar en steeds is my styl ’n bietjie minimalisties. Bloot omdat ek hard moet werk om genoeg sente bymekaar te skraap om nog stukke aan te koop. My bed het darem al opgedaag.

Ek dink ek sal ook ’n bietjie verlof insit en deur die land gaan toer. Dis hoog tyd vir ’n kustoer. Ek vat sommer al my vriende saam. Net omdat ek kan!

Ek sal vir my ma haar huisie by die see aanskaf, en ’n bietjie geld belê vir haar oudag, sodat sy darem gemaklik kan leef wanneer sy en my pa nie meer kan boer nie.

My susters en my boetie kan dalk ’n sent of twee kry, maar nie te veel sodat hulle bederf word nie. Hulle moet darem ook werk vir die lekker in die lewe. Ek sal die pad net vir hulle effe gelykmaak.

En die res van my hopeloos te veel miljoene sal ek belê en leef van die rente. Ek sal my tweede joppie opgee en elke naweek op ’n avontuur gaan.

In spanning wag ek vir die masjien­tjie. Khensani spin en die balle bons op en af, rond en bont, en dan… niks. Wel, so te sê niks. R11 se uitbetaling. Net genoeg om wéér volgende week te speel.

En ek besef ek het in ’n lotery-verslaafde verander. Die Powerball lê nou al op R73 miljoen.

Dalk is dié Vrydag my gelukkige dag.

Herinneringe van ‘n see-vakansie lank gelede

So staan ek gisteraand in my favourite pub en bier bestel toe daar ‘n vreemde man na my kyk en sê: “Hey, jou naam is mos Ella! Van waar af ken ek jou?”

Ek staan so half en kyk na hom, herken sy gesig maar het nie ‘n idee hoe ek hom ken nie. Ek noem die vier dorpe waar ek die laaste paar jare gebly het op, maar hy was nie in een van hulle nie. Noem toe al ons vakansie-plekke op… toe tref dit my!

Ek het tot sy naam onthou. Einde van standerd nege was ons op ‘n familie-vakansie in Hartenbos. Hy en sy familie en vriende het daar gekamp. Hy was oppad Stellenbosch toe om te kom swot. Vreemd hoe ek al die details kon onthou. Tot die vriendin wat saam met hom daar was se naam kon ek onthou. Sy is blykbaar Londen toe en weer terug. Hulle het nou kontak verloor.

Daar in Hartenbos het ons skelm wyn gedrink by die ordentlike sokkie in die speelpark, weggekruip in die bosse by Die Duine waar hy my voorgestel het aan giggelgras. (Ná bietjie te veel Bacardi was ek so siek soos ‘n hond en het daarna nie weer die guts gehad om dit te probeer nie!) Dit was ‘n vreemde aand, en toe iemand begin fluit-fluit aangestap kom het ons vinnig laat spaander, net vir ingeval dit die polisie is. Ons was immers almal te jonk om te drink

Ons het ook in die droë supertube gesit en het blykbaar gevry… Die supertube kon ek onthou, maar dié detail kon ek natuurlik glad nie onthou nie. Volgens hom kon ek glad nie soen nie. Ek was nog so innocent in daardie jare.

So agt jaar later sit ons in ‘n pub en praat oor die dinge van daardie tyd. Al die skelm rook en drink en vry. Weird.

Dit laat my sommer terugverlang na daardie vakansies. Ons het al die jare gekamp. Al ses van ons in ‘n karavaan so by die see. So baie tyd in die water spandeer dat jy in die aand op jou kampbedjie nog steeds die roering van die branders kan voel.

Deesdae moet ek hard spaar vir ‘n vakansie. Dis nou as ek die tyd kan afkry om te kan weggaan.

Ek’s sommer jaloers toe dié kalant vertel hoe hy vir nuwejaar Thailand toe vlieg. Sommer net vir twee weke. Hy het sommer laas week gou sy kaartjie gekoop om saam met vriende wat in Korea werk te gaan kuier. Dan gaan hy Viëtnam toe vlieg vir ‘n week of so.

Ek dink nie ek het die guts om dit te doen nie. Ek het in elk geval tans nie die geld daarvoor nie, maar ek kon altyd soos ‘n ander vriendin ‘n persoonlike lening aangaan en vir my vakansie betaal oor ‘n tydperk. Dit klink so lekker.

Dis dalk nou tyd dat ek my paspoort uitsorteer.