Dankbaarheid

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Oom Piet se hande

EK is ’n groot aanhanger van klein kroeë.

Daardie plek waar jy instap en jy ken almal langs die kroegtoonbank, van die ou omie wat van 10:00 af in die hoek sit en die lewe bepeins oor ’n glas wyn, tot die jong wulpse groep meisies wat flirt vir ’n drankie en die ou toppies wat toeka se stories sit en vertel.

My gunstelinge is die Ba­thurst­­ Arms in Bathurst in die Oos-Kaap, Skebanga’s in Noordhoek (blykbaar maak hulle die beste pizza in die land), Die Waenhuis in Nieu- Bethesda (waar ek altyd gedurende vakansies gewerk het) en hier in Stellenbosch het ek natuurlik ook ’n bekende watergat. Oe, en Mar Azul in Astonbaai is ook nie te vergeet nie!

Mar Azul op Astonbaai se strand.

Tydens my verblyf in Jeffreysbaai het ek ’n klein plekkie in ’n steeg aan die onderkant van Da Gamastraat leer ken met die naam van Hurdy Gurdy’s (vertaal as draai-orreltjie).

Piet Vermaak, die eienaar en barman, was ook ’n musikant en Vrydae kon jy daar na sy musiekgroep luister.

Daar was ook ’n paar locals wat altyd daar rondgehang het. Kobus werk onder die Khoisan en het allerhande stories oor dié kultuurgroep gehad om te vertel.
Hy was daar met Saartjie Baartman se her-begrafnis en baklei steeds hand en tand teen die ontwikkelaars wat die Khoi se geskiedkundige areas onder strandhuise wil toebou.

Die kaptein maak ook altyd ’n draai wanneer hy aan wal kom, en dan hoor ons van al die drama op see.

Oom Piet het self baie stories om te vertel, van sy werk in die regering en sy jare as barman.

Dit het egter nou alles verander. Ek verneem nou die dag dat Hurdy Gurdy’s verkoop is. Die plek se naam is nou Cheers @ J’Bay.

Piet is bedlêend. Hy wil niemand meer sien nie. Sy jare as rocker het hul tol begin eis en sy lyf is moeg.

Die ergste is dat hy gangreen in albei sy hande opgedoen het. Hulle sal dalk nou afgesit moet word. Daar word nog gewag op ’n tweede opinie.

Swaar is my hart as ek wonder hoe ’n musikant maak sonder sy hande.

Die probleem met matchmaking

Na nog ‘n tyd van stilte, het my Sannie Jammergat oomblik my in die skryfluim gekry.

Ek is deesdae ‘n whizz as dit kom by matchmaking. Ek het nog nooit veel gelees in dié talent van my nie, maar deesdae lyk dit of dinge nogal goed uitwerk vir die partye betrokke, hetsy dit my bedoeling was om hulle bymekaar uit te bring of nie.

Sien, die ding staan so. My sussie date nou my beste mansvriend, en hulle is nou al amper twee maande lank gelukkig saam. Ek het nie regtig Cupid gespeel in daardie geval nie, en het eintlik probeer keer dat ek my maatjie in die proses verloor en was helemal daarteen, maar uiteindelik het hulle bymekaar uitgekom. En dit was ek wat hulle aan mekaar voorgestel het.

Onlangs het ek egter begin fokus op ‘n vriendin wat bietjie uit die ouer garde is. Sy is nou al so lank single, sy sukkel om selfs net met mans te praat, tensy sy ‘n bottel wyn agter die blad het.

So het ek haar nou die dag saamgesleep en ‘n ontmoeting gereel met een van my vriende. Als goed en wel. Hulle like mekaar. Hulle gaan op dates. Hulle bly omtrent bymekaar na ‘n week…

Sien. Daar lê die probleem. Of ten minste een van hulle.

As buitestaander kan ek sien hoe vinnig dinge gevorder het. Té vinnig. Maar dis nie die probleem wat ek het met matchmaking nie.

Die probleem lyk soos volg: hier sit ek, heel rustig, gesels met twee vriende en voor ek my oe kan uitvee is hulle ‘n couple. Ewe skielik is ons nie meer drie mense saam nie, maar daar’s ‘n couple, en ek. Vyfde wiel. Baie uit plek en baie ongemaklik.

Die ander probleem is dan dat die ongemaklikheid beteken ek nooi eerder nie meer myself saam wanneer hulle fun goed gaan doen nie.

Ek soek eerder ander single mense waar ek bietjie kan inpas.

En dan begin die ander probleem kop uitsteek. Kort voor lank gaan hulle op allerhande avonture, en aangesien ek eerder saam my single buddies uithang, word ek nie genooi nie, en kort voor lank is daardie hele vriendekring nie meer myne nie, maar die nuwe girlfriend s’n.

So much vir vriende. Ek het dit nou al sien gebeur. Dieselfde met my sus toe sy en die vriende begin uitgaan het. Ewe skielik word hulle saam na ‘n braai toe genooi waarvan ek nie eers weet nie, gaan kyk hulle rugby op Nuweland en gaan drink wyn op een of ander fantastiese fees.

Ek dink eintlik dís erger as om die vyfde wiel te wees.

Om ‘n alleen-wiel te wees. Nie eers ‘n spaarwiel nie. Net alleen.

Vergifnis

Hierdie skrywe word opgedra aan iemand wat tot onlangs my beste vriendin was:

Ek verstaan nie die duiwels wat jou jaag nie. Ek verstaan nie hoekom jy soveel shots inpak dat jy later nie meer weet wat die waarheid is en wat nie.

Ek besef dat jou werk jou meestal by die kroeg hou, maar ek wens jy kon sien wat ek sien waar ek langs jou staan. Daai drankies en daai shots vat nie seer weg nie. Dit dryf net die duiwels dieper in daai donker leegte weg.

Ek besef ek moes nooit probeer het om julle verhouding beter te maak nie. Ek moes buite bly en jou slegs ondersteun waar ek kan en ek is jammer dat ek nie meer daar is vir jou nie.

Ek is jammer ek het jou nie gesê van “daai ding” nie. Ek is jammer dat jy later by my moes hoor. Ek is jammer dat jy nou meer spoke het om saam te lewe.

Ek weet dis wat jou gedryf het tot daardie jaloerse oomblik daardie aand. Wat jou dinge laat sê het wat jy glad nie bedoel het nie. Wat jou gedryf het tot die punt wat jy my te lyf wou gaan. En my in die openbaar beskuldig het.

Jy ken my. Ek het nog nooit enige neiging gehad om jou man af te vry nie. Ek was net jou vriendin, en vir hom ook. Hy was besig om vir my jammer te sê vir sy eie optrede toe jou tiradie begin. Ek vermoed hy het my eintlik net verdra omdat ek geweet het van “daai ding”.

Die eerste keer toe jy na my kyk met daardie woede in jou oë, het ek bang geraak vir die mens wat ek eintlik glad nie ken nie en dis hoekom ek die volgende ontmoeting vermy. Ek is bang jy begin my weer verskree, weer aankla waar die hele wêreld kan hoor en my weereens te lyf gaan.

Ek het dit nie verdien nie.

Ek vergewe jou vir die seermaak en die vernedering wat ek moes deurmaak. Ek verstaan nie hoekom jy maande se vriendskap sommer net kon weggooi nie, maar ek verstaan hoe moeilik dit is om te sê jammer.

Dit raak ons mos nie

In die lig van die Orlando-massaskietery het ek weer aan Jakkals gedink vandag. 

As ek depro raak sukkel ek om te skryf. Meestal omdat ek bang is ek maak ander mense ook depressed, en dis eintlik net onnodig, maar tog dink ek dis somtyds nodig om te skryf oor dinge wat pla.

‘n Vriendin van my het my laas week gebel om te sê dat een van ons vriende oorlede is. Dit was eintlik nogal ironies. Ek het daardie selfde dag van hom gepraat. Ons het gepraat oor mense op Facebook en ek het vertel dat hy my as ‘n maatjie afgehaal het.

Seker omdat hy moeg was om te hoor hy moet gesond eet en sy pille drink.

Jy sien, hy was homoseksueel. En MIV positief.

Dis ‘n vreemde ding om ‘n iemand in jou kringe te ontmoet wat deur só iets gaan. Ons dink mos almal dit kan ons nie raak nie.

Ek is nie heeltemal seker hoe hy dit gekry het nie, maar ek weet hy het vir ‘n tyd lank ‘n baie moeilike tyd deurgemaak.

Ek weet nie of julle kan onthou van die Sizzlers Massage Parlour skandaal in die Kaap so paar jaar terug nie. Dit was verskriklik. Ses gay mans is in dié huis in die Kaap geslag. Deur twee homofobiese mans.

Nou my vriend het daar gewerk. Hy het vir my gesê dat hy as ontvangspersoon gewerk het, en die Groot Siekte in ‘n vuil hospitaal opgedoen het. Ek is baie liggelowig genoeg en het hom geglo. Tot ek die waarheid gehoor het.

‘n Week voor die verskriklike voorval by Sizzlers het hy sy pa gebel en gesê dat hy nie meer kan nie. Sy pa het gery en hom kom haal. Hy was op pad na die binneland toe die nuus by hulle uitkom.

Daarna het dinge nie te sleg gegaan nie. Hy het nogal goed gelyk. Oorsee gegaan, hard gewerk en gesond geëet.

Na ses jaar het die siekte egter sy tol begin eis. Hy het een aand vir my vertel dat hy hom nog nie weer by die kliniek laat registreer het sodat hy pille kan kry nie. Ek was de moer in en die volgende gesleep om sy bloed te laat toets, hom te laat weeg en pille te kry.

Dinge het egter afdraand begin gaan. Hy het sieker begin word en ten einde laaste ophou werk en is weer terug huis toe.

Teen die tyd wat hy weg is, was sy wange hol, en sy oë diep in sy oogkaste. Hy kon nie in die aande slaap nie, het bloed gehoes en kon skaars in die dag opstaan.

Na hy ons verlaat het, het ek niks meer gehoor nie. Ek het so nou en dan ‘n boodskap gestuur, maar niks teruggekry nie.

Ek bly self reeds meer as ses maande nie meer in die dorp waar ek hom leer ken het nie, so die telefoonoproep was ‘n skok.

Hy het uiteindelik tou opgegooi. Ek wou nie hoor waaraan hy uiteindelik die lewe verruil het nie. Ek was boos. Ek was kwaad omdat hy nie eens meer probeer lewe het nie. Omdat hy opgegee het en omdat my hart gebreek was oor sy heengane. Ek was kwaad oor hy nie meer met my wou praat nie. En ek was kwaad vir die Groot Siek wat hy nie verdien het nie.

Dis nou al vier dae later. Ek het die naweek ‘n laaste keer sy Facebook besoek. Ek het sy nommer van my foon uitgevee en vir die laaste keer gehuil.

Hy het nou rus. En ek is nog steeds baie hartseer, maar hoe neem jy iemand kwalik as hy doodeenvoudig net nie meer kan nie?

Hy was te jonk vir die straf wat hy gekry het.

RIP Jakkals.

Algemene kennis oor die algemeen

Almal wil mos maar aan ‘n groep behoort.

Ek was nog nooit goed met inpas nie. In my jonger dae was ek bietjie weird, en hier waar ek deeseae in die studentedorp bly, is ek weer heeltemal te normaal… al die ander mense is weird. Ek het tot begin rook en drink op dieselfde dag op die jonge ouderdom van 15. mens sou kon dink dat jy na ‘n ruk jou les leer en wegbeweeg van die dinge van ‘n kind (dis nou die inpas, sowel as die rook), maar aan die einde van die dag soek jy nog steeds aanvaarding.

Iemand het nou die dag vir my gesê hy dink ek is soos ‘n verkleurmannetjie… ek pas aan by die situasie waarin ek my bevind. Ek is ‘n geek tussen die ander computer boffins, ‘n akademikus in daai kringe, ‘n regte Afrikaner as die Bokke speel en die ordentlike kerkgaande meisie as jy die eerste keer die ouers ontmoet.

Die probleem is natuurlik dat ek nie eintlik een van hierdie dinge is nie… of is ek dan juis almal van hulle? ‘n Mengelsmoes van invloede en kennis wat my toegerus het vir so te sê enige gesprek… solank dit natuurlik nie beteken ek moet die voetwerk van een of ander rugby ou bespreek nie. (Ek kan egter wél uitbrei oor sy spiere!)

Ek het vroeg al die kuns vervolmaak om te máák of jy weet waarvan mense praat.

Die kosskool waar ek vir twaalf jaar was, met al sy streng reëls en regulasies, het ons baie geleer van die lewe… maar seks en mans en dinge was nou nie juis iets wat enige van die naïewe girls iets van geweet het nie, of openlik bespreek het nie…

‘n Vriendin het iewers in die laerskool ons verlaat om na ‘n buurdorp se skool te gaan en het in standerd 6 teruggekeer na ons. Sy het ook teruggekom met ‘n magdom kennis oor die lewe en hoe dinge nou eintlik werk in daardie departement.

Ek was altyd bekend as die rebel en dus moes ek mos nou ook weet van sulke dinge.

Maar eintlik was ek meer naïef as meeste van die ander girls. Ek het eers laat in standers 5 uitgevind van dinge soos pms en period pains, maar toe dié girl haar kennis met ons gedeel het, het almal nader geskuifel om te hoor. Ek het natuurlik ook nader gesit, ore gespits, saamgestem en kopgeknik op die regte plekke… so asof ek mos wéét van sulke goed.

Maar dis hoe ek geleer het. Totdat iemand dit goedgedink het om al my onskuldigheid te steel… maar dis ‘n ander storie.

Langsamerhand het ek koning geword van bietjies inligting versamel. Ek weet bietjie van die wetenskap, die politiek, vermaak, klein bietjie sport en so ‘n paar random feite wat nie eintlik iets beteken nie. Ek kan dus in enige gesprek inloop en darem ‘n vraag vra wat lei tot die volgende bespreking.

Ek wonder hoe dit mense se persepsie van my sou beïnvloed, as hulle geweet het dat ek eintlik net weet wat hulle weet… en dat ek juis by allerdaagse mense alles wat ek weet, leer.