In die lig van die Orlando-massaskietery het ek weer aan Jakkals gedink vandag.
As ek depro raak sukkel ek om te skryf. Meestal omdat ek bang is ek maak ander mense ook depressed, en dis eintlik net onnodig, maar tog dink ek dis somtyds nodig om te skryf oor dinge wat pla.
‘n Vriendin van my het my laas week gebel om te sê dat een van ons vriende oorlede is. Dit was eintlik nogal ironies. Ek het daardie selfde dag van hom gepraat. Ons het gepraat oor mense op Facebook en ek het vertel dat hy my as ‘n maatjie afgehaal het.
Seker omdat hy moeg was om te hoor hy moet gesond eet en sy pille drink.
Jy sien, hy was homoseksueel. En MIV positief.
Dis ‘n vreemde ding om ‘n iemand in jou kringe te ontmoet wat deur só iets gaan. Ons dink mos almal dit kan ons nie raak nie.
Ek is nie heeltemal seker hoe hy dit gekry het nie, maar ek weet hy het vir ‘n tyd lank ‘n baie moeilike tyd deurgemaak.
Ek weet nie of julle kan onthou van die Sizzlers Massage Parlour skandaal in die Kaap so paar jaar terug nie. Dit was verskriklik. Ses gay mans is in dié huis in die Kaap geslag. Deur twee homofobiese mans.
Nou my vriend het daar gewerk. Hy het vir my gesê dat hy as ontvangspersoon gewerk het, en die Groot Siekte in ‘n vuil hospitaal opgedoen het. Ek is baie liggelowig genoeg en het hom geglo. Tot ek die waarheid gehoor het.
‘n Week voor die verskriklike voorval by Sizzlers het hy sy pa gebel en gesê dat hy nie meer kan nie. Sy pa het gery en hom kom haal. Hy was op pad na die binneland toe die nuus by hulle uitkom.
Daarna het dinge nie te sleg gegaan nie. Hy het nogal goed gelyk. Oorsee gegaan, hard gewerk en gesond geëet.
Na ses jaar het die siekte egter sy tol begin eis. Hy het een aand vir my vertel dat hy hom nog nie weer by die kliniek laat registreer het sodat hy pille kan kry nie. Ek was de moer in en die volgende gesleep om sy bloed te laat toets, hom te laat weeg en pille te kry.
Dinge het egter afdraand begin gaan. Hy het sieker begin word en ten einde laaste ophou werk en is weer terug huis toe.
Teen die tyd wat hy weg is, was sy wange hol, en sy oë diep in sy oogkaste. Hy kon nie in die aande slaap nie, het bloed gehoes en kon skaars in die dag opstaan.
Na hy ons verlaat het, het ek niks meer gehoor nie. Ek het so nou en dan ‘n boodskap gestuur, maar niks teruggekry nie.
Ek bly self reeds meer as ses maande nie meer in die dorp waar ek hom leer ken het nie, so die telefoonoproep was ‘n skok.
Hy het uiteindelik tou opgegooi. Ek wou nie hoor waaraan hy uiteindelik die lewe verruil het nie. Ek was boos. Ek was kwaad omdat hy nie eens meer probeer lewe het nie. Omdat hy opgegee het en omdat my hart gebreek was oor sy heengane. Ek was kwaad oor hy nie meer met my wou praat nie. En ek was kwaad vir die Groot Siek wat hy nie verdien het nie.
Dis nou al vier dae later. Ek het die naweek ‘n laaste keer sy Facebook besoek. Ek het sy nommer van my foon uitgevee en vir die laaste keer gehuil.
Hy het nou rus. En ek is nog steeds baie hartseer, maar hoe neem jy iemand kwalik as hy doodeenvoudig net nie meer kan nie?
Hy was te jonk vir die straf wat hy gekry het.
RIP Jakkals.

AG dis so hartseer – hierdie aaklige siekte. Ek het ‘n vriend wat ek vermoed dit het, ook gay en te maar na my smaak. Maar hy lyk ok, leef verskriklik gesond. So ek hoop maar vir die beste – hy praat nie.
Ek vind dit so moeilk om regtig totsiens te se. Facebook to ontfriend, nommers uit te vee, email adresse af teh haal. Ek kan nie. Ek weet nie hoekom nie.
Ek het ‘n ou foto van Jakkals gekry. Ek dink nie hy sal omgee as ek dit hier plaas nie. Ek dink nie mens se ooit heeltemal koebaai nie. Dis nou al maande later, en ek kry nog steeds ‘n knop as ek ‘n foto van hom sien. :’)