In een van my favourite pubs, in een van my favourite klein dorpies is daar ‘n barman.
John werk al vir baie jare in die hotel-bedryf en ná ‘n onderonsie met sy baas het hy toe getrek na die kleine dorpie met die groot dors. Met sy ondervinding was dit maklik om werk in die local pub los te slaan, en dis waar ek hom gekry het, agt jaar nadat hy soontoe getrek het.
Ek het hom die eerste keer ontmoet toe ek hom moes gaan interview om ‘n profiel te skryf. Dis nou al bietjie lank terug so ek kan glad nie regtig onthou wat hy alles vertel het nie, maar hy was ‘n bekende digter in die area en dus was ‘n storie in orde.
Ek het drie-uur daardie middag in die klein pub ingeloop en nie weer voor die volgende oggend vieruur gewaai nie. Ek moes eers wag vir die band wat daardie aand moes speel. Die twee lang-haar manne wat daar opgedaag het, elk met ‘n kitaar in die hand, ‘n didgeridoo en ‘n drom en het ‘n lekker mengsel van jazz en Bob Dylan gespeel. Die res van die dorp se mense het stadig maar seker die pub gevul, tot daar later ‘n rookwolk binne die plek gehang het.
Nog dromme is uitgeruk en die skare het begin join. Een ou het ‘n fluit uitgehaal en saam begin speel. Almal was deel van dié band. Die kitare is uitgeruil en ander mense het tunes gespeel wat die band self nie kon nie.
Vieruur daardie oggend het ek my massiewe bar tab betaal en die 15km huis toe gery. Gelukkig het ek darem nie self bestuur nie.
Die volgende dag was ek terug. Gelukkig is daar ‘n backpackers bó die pub. En ek het nie regtig weer gewaai nie, nie voordat ek 200km verder langs die kus afgetrek het nie. Ek kon net weer een keer gaan kuier, kort voor ek nog 1000km verder langs die kus afbeweeg het.
Daar is baie mense van daardie dorpie wat ek goed onthou en so dan en wan regtig baie mis, maar die persoon wat ek seker die meeste mis is John, agter die bar. Hy was altyd vol stories van sy avonture en so nou en dan sou hy sy ou kitaar wat agter die bar gelê het vir ingeval iemand ‘n tune wou speel, self optel en die hartseer song wat hy vir sy partner (wat hom later gelos het vir ‘n vrou) geskryf het sing.
Ek is nou gelukkig genoeg om in ‘n area te bly waar daar elke aand ‘n ander band optree. Dis fantasties om soveel verskeidenheid van musiek te kan beleef.
Maar ek mis daardie klein dorpie en John, die barman, se sad tune op sy stok-ou kitaar.

Nog ‘n skat wat jy in die sand van die lewe ontdek het terwyl jy daarin gedelf het. Daar is baie skatte. Jys nog jonk en kan nog lank grawe.