Daar is baie stories in ons klein dorpie. Sommige van hulle net ‘n vae herinnering. Vandag het ek aan dié een gedink. Die details nie meer so helder al die jare later nie.
Dié een is van Tannie Elise Pienaar, of net Tannie Lisie, soos ons haar genoem het.
Sy het vir jare en jare op die hoekhuis oorkant die kerk gebly. Sy het met skape in die landerye tussen die huise van die Kapaaisland geboer. Jy kon haar elke dag in haar stok-ou wit bakkie sien ry waar sy elke land se skapies gaan optjek.
Sy het ‘n nuwe bakkie gehad. “Nuut” in die sin van hy het net ‘n paar 100 myl op die klok gehad. Dié blou bakkie het in die garage gestaan vir spesiale geleenthede, soos om Dorp toe te gaan. Ek het wel een keer in die blou bakkie ‘n rit gehad.
Tannie Lisie was ook die orreliste by die kerk.
Sy het ‘n ongelooflike versameling skoene gehad. Elke Sondag het sy ‘n ander kleur gedra. En dit het altyd by haar uitrusting vir die dag gepas.
Dis belangrik om hier te noem dat die hele gemeente eers 5 na 10 minute voor die diens begin daar opdaag. Enigiemand wat van buite die dorp kom, soos die nuwe dominee wat kom preek, het soms met ‘n swaar gemoed toegekyk en benoud begin wonder of enigiemand gaan opdaag, aangesien daar kwart voor géén voertuie in sig is nie. Net Tannie Lisie op haar plek voor die ou kerkorrel.
Maar kort voor die kerktoring se horlosie slaan (dis nou ás my pa daarby uitgekom het om hom op te wen) sien jy bakkies met ‘n stofstreep in die pad afgery kom om voor die deure te parkeer, vinnig te groet en hul gewone sitplekke te gaan inneem.
Jy het altyd geweet Tan’ Lisie is op haar plek, want haar helder skoene sal aan die onderkant van die trap bly staan. ‘n Helder herinnering van pienk en rooi en hemelblou wat waggehou by die voet van die rooi mat wat na bo lei.
Die trappe was te styl vir die skoene met hul hoë hake en sy het ‘n gemaklike paar gehad wat bo gebly het waarmee sy mooi die orrel kon trap. Vader alleen weet hoe sy elke week die stofpad oorgesteek het met dié deftige hofskoene.
Ná afloop van die diens was daar altyd eers tee gedrink in Tannie Lisie se huis oorkant die straat. Al haar “Bekkies” bymekaar. Dit was haar troetelnaam vir ons: “Môre my Bekkie!”.
As kinders van die klein gemeente was dit altyd ons werk om in die donker kombuis die teekanne vol te maak.
Almal het dan in haar sitkamer vol oudhede en klaviere hul koppie geniet, die mans om die ronde tafel, en die vroue in die sitkamerstoele met hul voete op die Persiese mat van regte sy, voor ons weer die koppies moes was.
Daar was net één rede hoekom ons aangehou het om dit te doen. Elkeen wat gehelp het met die tee en opwas, is altyd na die tyd sjokolade gevoer. En daar was áltyd sjokolade in haar spens. Die spens was ‘n geslote deur, af van die eetkamer (waar honderde klein fynighede in die kaste verskuil was en as jy te hard geloop het op die houtvloer het alles geklingel), waar daar ondenkbare lekkerhede verskuil was.
Die skoene aan die onderpunt van die kerk se trappe staan egter lankal nie meer daar nie.
Lank voor Tannie Lisie nie meer op haar eie kon woon in haar kasarm van ‘n huis nie, het die trappe, selfs sonder skoene, net te styl geword.
Vroeër vanjaar het sy finaal haar skoene gelos, al die helder pare, aan die onderkant van die Hemelse trap, voor haar laaste klim tot bo waar sy heel moontlik steeds die al die ou bekende lofliedere speel vir die Engelekore.

Pragtige inskrywing, dankie!
Van die musieklikes wat ek geken het was oom Bill Pieterse seker die snaakste geval. Mynvoorman van ses voet agt duim met die ham groot hande wat ‘n man kon doodslaan wat hom voor die klavier kom sitmaak en dan die wysie aan die top van laasweek se gewildheidsparade speel asof hy dit nog altyd geken het. Hy het vertel dat hy eksta verdien het in sy jongdae deur by danse musiek te maak en dat die prys en beskikbaarheid van bladmusiek hom gedwing het om die gawe te ontwikkel. Hy kon nie verstaan dat “Blou Donou” nie opgevolg word met Hello Dolly nie.