Commitment Phobia

Ek wonder party dae of ek die enigste een is wat werklik sukkel om myself aan enigiets te commit, hetsy dit in ‘n verhouding is of nie.

Ek het die week vir die eerste keer besef ek leef in ‘n konstante toestand van wag-vir-iets-beter. Die Engelse statement “a state of flux” is die motto van my lewe.

Vandat ek vroeg in 2007 begin werk het, het ek altyd gewag vir iets beter om te gebeur, ‘n beter salaris en ‘n beter werk, ‘n beter woonstel om te huur, ‘n beter boyfriend, ‘n beter lewe. Ek het geen idee wat van die laaste tien jaar geword het nie! Dis asof ek in ‘n permanente wagkamer gesit het en nie geweet het hoe om die deur oop te maak nie. En dan het dit gewoonlik gebeur dat ‘n deur oopgaan en ek het régtig getrek, na die volgende, beter plek toe. Tot dit nie meer beter was nie en ek weer begin soek het na groener weivelde.

Ek het onlangs begin by ‘n nuwe werk. Dis my droomwerk (of gaan definitief wees!). Ek het onder begin soos ‘n mens maar moet, maar dis ‘n fantastiese geleentheid om te groei en te verbeter en iets van jouself te maak. Vir die eerste keer in my werkende lewe het ek aande en naweke af om te doen net wat ek wil!

Na 8 jaar as joernalis by verskeie plaaslike koerante het ek aan die einde van laasjaar besluit om die handdoek in te gooi. Op die rype ouderdom van 30 het ek huis toe getrek en probeer om myself uit my depressie te red. Ek het begin oefen en ‘n boek(ie) geskryf. Ek het tyd saam met my ouers spandeer en ek het weer begin werk soek. Maar steeds het ek gewag… Uit ‘n tas geleef en die bokse met al my stuff het stof opgegaar.

Verlede maand het ek die Karoo van my skoene afgestof en is terug in die Moederstad. ‘n Maand later het ek besef ek het nog steeds die helfte van my bokse nie uitgepak nie. Ek het besef ek is nog steeds aan die wag vir IETS.

Ek het op ‘n stadium vir vier jaar in dieselfde huis gebly en nooit eers die moeite gedoen om spykers in die mure te kap om net my prente op te hang nie. Ek het steeds gewag. Vir iets. ‘n Teken, ‘n deur om oop te gaan of ‘n verandering wat my gelukkiger sal maak. Dieselfde het gebeur by my volgende woonstel.

Dus het ek besef dis nou tyd om te settle. En daarmee bedoel ek nie dat ek opgegee het op my drome vir ‘n beter lewe en beter werk en beter salaris nie. Dis iets waarna mens MOET streef. Jy moet iets hê om na toe te werk. ‘n Doel.

Een van my gunsteling teksverse is Jakobus 4:13-16:

“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”

Maar ek het dit egter nog altyd verkeerd geïnterpreteer. Die les is dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy sal besluit waarheen jy volgende sal gaan. Hy sal deure oopmaak en jou lei. Ek het egter net gesien dat jy nooit gaan weet hoe lank jy op ‘n plek gaan wees nie, en alhoewel dit waar is, het ek dit geleef. Ek het bly wag vir die oomblik wanneer die Here ‘n volgende deur oopmaak, sonder om die jaar wat ek wel op ‘n sekere plek gehad het, te gebruik het!

So daag ek toe myself hierdie week uit. Ek gaan my bokse uitpak en my kamer rondskuif. Ek gaan vir myself ‘n tuiste skep hier waar ek nou is.

Ek wil aan ‘n oefenprogram commit en dit actually doen. Ek wil nuwe, beter en gesonder gewoontes aanleer. Ek wil wortels skiet. Ek wil spaar en ‘n huis koop. En ‘n kat kry. En dalk ‘n hond. En dan dalk ‘n boyfriend ook.

Ek wil nie meer passief wag en kyk hoe die groen gras aan die ander kant langer word terwyl my eie gras eintlik perfek is nie.

Soos ek sê, stel doelwitte, streef na meer, maar begin jou lewe op die oomblik ook geniet.

Dis regtig nou tyd om te begin lééf!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *