HOOP is ’n vreemde ding.
Daar is baie dinge wat ’n mens hoop vir die lewe gee. Die man wat jou laaste R100-noot langs jou motor optel en dan wonderbaarlik aan jou terugbesorg. Die karwag wat jou bel om te sê hy het jou gesteelde beursie opgetel. Die polisie en die regstelsel wanneer hulle ’n berugte skelm aankeer, en dié man beland uiteindelik agter tralies.
En die munisipaliteit wanneer hulle iets doen wat ’n hele gemeenskap se lewensomstandighede verbeter.
Ek het die laaste ruk die geleentheid gehad om ’n paar mense wat régtig ’n verskil maak, te ontmoet. Eers in Kayamandi, waar ’n groep mense uit Sone N begin het om hul eie strate skoon te maak.
As jy tussen al die vervalle laslappie-huisies geloop het, sal jy nou eensklaps die verskil sien. Die huisies staan so styf teen mekaar dat voertuie nie daar kan deur nie. Riool stroom gewoonlik in die strate af deur die massas rommel wat niemand skoonmaak nie.
Sedert van die inwoners nou wel opruim en eienaarskap van hul eie gebied neem, begin al hul bure saamwerk. Kinders wat rommel strooi, word gou geskel en dink twee keer voor hulle dit weer doen. Die bure maak nou self hul voortuine skoon en rommel word in swartsakke geberg.
In Cloetesville weer, het ’n groep mense begin tuinmaak om die berge rommel wat langs die pad gegooi word, stop te sit. Uit hul eie sakke en met hul eie hande het hulle begin om tuine te maak waar daar eens rommelhope was.
Dít is wat ’n mens hoop gee vir ons land. Die hartseer saak is dat die rommelhope gewoonlik net ’n entjie aanskuif. Maar die ouens wat eienaarskap neem en hul bes doen om ’n verskil te maak, is ons land se redding.
Die jongspan sien hoedat hul ooms, neefs en tannies werk om hul eie omstandighede te verbeter. Hulle sien hoe dit is om skoon strate en netjiese tuine te hê, eerder as rommel wat die plek vol waai.
Dis ’n les wat nie op enige ander plek as jou eie gemeenskap geleer kan word nie.
Apatie het nog nooit iemand iets in die sak gebring nie. Wat doen jy om ’n verskil te maak?

Liewe Ella!
Soms maak ons ‘n verskil waar ons dit nie eers besef nie. Ek is betrokke by klein lyfies in die swembad vir die afgelope 21 jr en wil glo dat ek ‘n verskil in hulle lewens maak. Jy kan dit wel meet aan terugvoering. Ouers wat sê dat kinders my namaak by die huis, self hulle poppe probeer leer swem, die feit dat hulle graag wil kom… Seker omdat ek al die jare ook voor die seisoen begin, langs die swembad gaan sit en bid: Here, dankie vir my gawe. Help my om ‘n verskil te maak in my oë, wanneer ek na hulle kyk, in my stem, my stemtoon en my woorde en in my aanraking, my hande. En dan vertrou ek…
Ek gee nie om wat sê wie of wat dink wie nie – ek GLO nog steeds dat hier meer goeie, gewone, ordentlike mense in ons land is as nie. Mense wat ook net elke dag in vrede wil leef en hul kinders wil sien grootword. Dis DAARDIE mense wat sal moet opstaan en standpunt inneem teen die verwoesters.
Hoendervleis-stuf.
Ten minste is daar van hulle wat besef dat die regering NIE gaan “provide” nie en ten minste gebruik hulle common sense om te besef hulle moet begin skoonmaak want niks gaan van “bo af” kom nie. Die regering gaan net meer agteruit gaan, want hulle gaan besef die mense is maar tevrede om SELF te doen en SELF te “voorsien” en dus gaan hulle nog MEER he om vir hulself mee te verryk. Mense aanvaar dinge gelate en doen uit hul eie, dis wat hulle natuurlik wil he. Dan hoef hulle mos nie te voorsien nie, want almal is “tevrede” en doen en werk saam waar hul bly. ‘n Goue trofee vir daardie mense wat so uitspring en als self doen. Dit moet onder die regering se aandag kom. Kla niemand nie en doen self, dink almal alles gaan goed en almal is “happy-go-lucky” en karring die munisipaliteite aan soos hulle doen. Goed vir hulle wat dit doen – maar wat doen die regering van hul kant af?
Dit maak ‘n groot verskil wanner mense uit die privaat sektor hande vat en nie net die minder bevoorregtes finansieel ‘n hupstoot gee nie, maar ook om hulle skills te leer. Sodra jy weet hoe om ‘n verskil te maak, kan dit gesustain word.
Sien dit in hoe MES die innerstad van Hillbrow benader ook.
Dis wonderlike nuus. Dis hoe dit eintlik nog altyd moes wees. Maar vir te lank het mense net ontvang, en noudat die gewers minder is, moet ons maar uitspring.
Ek hoop jou dorp hou so aan! Ek hoop die gemeenskappe kry die regte blootstelling wat ook as aansporing sal dien.