REEDS tydens my jare op universiteit het ek geleer hoe om te langarm-sokkiedans in Potchefstroom se Impala Hotel.
Sokkie is egter baie anders as al die ander vreemde dans-manoeuvres wat deesdae vir baie ’n nuwe manier van oefen is.
So land ek dié naweek by ’n Salsa-klas. Baie huiwerig wou ek egter eers op die kantlyn sit en kyk hoe die dinge werk, eerder as om kop eerste in die diep water in te spring.
Die ander dansers het dit so maklik laat lyk. Een-twee-drie, vier-vyf-ses-sewe. Die telling is bietjie onverstaanbaar. Daar moet mos meer as sewe stappies wees? Dis omdat jy eintlik op twee van die tellings stilstaan, dus mis jy vier en agt, word daar aan my verduidelik. Drie stappies in vier mates.
Die salsa het sy oorsprong by die Cuban Son (son beteken klank in Spaans), ’n mengsel van Spaanse kitaar en sang, met perkussie uit Afrika. Dit het in die 1930s wêreldwyd beroemdheid verwerf en sedertdien het die salsa ook sy voetspoor reg oor die wêreld gelaat.
Ná ’n gespook word ek uiteindelik geboelie om die vloer te betree en in die hande van ’n gesoute danser, val my voete later nie meer oor mekaar nie. Dit sukkel-sukkel maar nog om die draaie, want om jare se sokkiedans uit jou voete te kry, is nou maar een maal nie maklik nie.
Die ander dansers swaai en draai, hul heupe beweeg al te mooi op die vinnige maat van die musiek terwyl hulle ingewikkelde stappies maklik raakvat. Mens wil eintlik hande begin klap.
Vandag is my agterstewe behoorlik seer. Ek vermoed dat die salsa meer oefening is as wat dit lyk. Die somer is mos hier en dit sal goed wees om so bietjie van die winter se lae af te skud.
So ek sien julle daar volgende Sondag?

Oeg… hierdie tukkie girl het nooit leer langarm nie… Ek kan om die dood nie vasdans nie!