As ‘n boeremeisie uit die Groot Karoo is dit eintlik nogal sad om te erken dat ek eers leer dans het toe ek op die Puk geland het.
Nogal snaaks, die Potchefstroom se Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (of die PU vir Coke, Hamburgers en Onrus of wat jy dit ookal wil doop) se naam het nou verander, maar dis nog steeds bekend as die plek waar dans ‘n no-no is, want dit kan dalk lei tot seks.
Ek was nog altyd mal oor lang mans en ek het eenkeer daar in die Impala Hotel ingewals in my te-kort rokkie en in ‘n lang man vasgekyk. Hy het my sommer net daar leer dans. Stappie vir stappie, al om die draaie.
Die lang man het vir ‘n fantastiese, kort liefdesverhouding gesorg, maar daardie danslesse kom nog steeds handig te pas.
Noudat ek in die Matieland bly is daar nogal heelwat plekke wat dié tipe vermaak verskaf. Regte Afrikaanse tunes met die regte beat waar jy tog te lekker kan gooi. Maak nie saak hoe neerhalend jy van daai songs se eentonige beats en horibale lirieke praat nie, maar as hulle begin speel in ‘n plek waar daar ‘n dansvloer is, dan skop jy jou skoene uit en begin skoffel.
So staan ek nou die dag weer in ‘n klub waar die massas in die rondte draai. Ná jare se oefening is dit nou maklik om die regte ritme en dansmaat te kry en dan draai ek tog te lekker saam, maar as jy daar op die kantlyn staan (en weer soos die lelike eendjie op skool voel wat niemand mee wil dans nie) dan verbaas ek my oor hoe die mense verskil.
Jy sien hoe die laaang girl en die kort dude sukkel-sukkel draai, want sy arm tref elke keer haar teen die voorkop en maak haar deurmekaargeswaaide hare nog ‘n bietjie meer soos ‘n kraaines lyk. Die vet girl sweet so op die maat van die musiek, die maer ingenieur kan glad nie by die musiek hou nie en die rugby-speler kom weg daarmee om met ‘n PT-broek die girls te verlei want hy weet hoe om jou reg vas te hou.
Ek het nog altyd gedink ‘n man vry soos hy dans. Daar is mos nou natuurlik probleme in dié teorie (of eerder assumption). Baie mense het mos nooit geleer nie, maar ek het nog altyd gedink dat as ‘n man jou vasgryp en met mening jou in ‘n rigting begin stuur, dat hy jou só van jou voete af sal soen ook. (Ek was al een keer verkeerd bewys deur ‘n Engelse seun wat baie goed kon dans.)
Selfs al is my teorie net 90% akkuraat voel ek nog steeds dieselfde oor een ding – ‘n man moet nou maar eenmaal kan dans om ‘n man in my oë te wees.

Daar is NIKS so sexy soos n man wat ordentlik kan dans nie. Dit en n man met mooi hande! Ek is sy dienswillige slaaf 😆
Ek stem saam oor die hande! Ek hoop al die mans let dit ook op!