Word deel van die reënboognasie

DIE 2010 Wêreldbeker Sokker-toernooi lê om die draai en die toerismebedryf is besig om gereed te maak vir die massas mense wat binnekort op Suid-Afrika gaan toesak.

Dis opvallend hoeveel mense tans besig is om ’n Europese taal aan te leer, of wat ten minste leer hoe om besoekers te groet en verwelkom, terwyl bitter min meer as twee van hul eie landstale magtig is.

Ons het 11 amptelike landstale. Afhangend van waar jy in die land bly, hoor hy sekere tale meer as ander. Terwyl ek in die Oos-Kaap naby die Transkei gewerk het, het ek ’n kollega gehad wat Xhosa kon praat en my lesse gegee het.

“Mol’weni, kunjani! Ndiphilile, enkosi.” Dit was nog nooit so maklik om rigting te vra in Kayamandi nie: “Ugandibonisa indlela eya isikolo?” (Hoe kom ek by die skool?). Jy sien net tande en hande wat jou in die regte rigting beduie.

Ons leef in ’n land met baie kleure, kulture, rasse en tale, ’n ware reënboognasie waarop ons trots kan wees. Ek ken menige Afrikaners wat nog steeds nie die nuwe volkslied ken nie. Dis jare lank reeds ingestel in die plek van “Uit die blou van onse hemel”, en as jy net daardie deel saamsing, is dit ’n skande.

Andertaliges sukkel-sukkel met die moeilike Afrikaanse woorde, maar sing tog uit volle bors saam. Doen die moeite, leer die woorde, maar leer ook die betekenis daaragter.

Dink net met hoeveel meer trots jy tydens die Wêreld Sokker-toernooi sal kan saamsing. Ek weet verseker, dat wanneer daardie eerste note begin, ek trots my bors sal uitstoot en saam met die reënboognasie sal sing: “Nkosi sekelel’ iAfrika, Maluphakanyisw’ uphondo lwayo!” (Seën­, O Here God, seën Afrika, mag haar glorie hoog gelig word.)

Daar is baie dinge aan die gebeur in ons land, ons provinsie en veral in ons dorp, waarmee ons nie noodwendig saamstem nie, maar ons het ver gereis sedert die dae van apartheid.

Vandag het ons almal die reg op lewe, gelykheid voor die gereg en vryheid van spraak. Is dit nie genoeg om op trots te wees nie?

‘MXit’ die taal en vergeet van spel!

ONTHOU julle die dae van Wielie Walie, Pumpkin P atch en Brakanjan?

Dit was lank, lank terug, toe ek nog ’n kind was. Ons het sekere tye van die dag vasgenael voor die televisie gesit om nie ons gunstelingprogramme mis te loop nie.

Dinge het sedertdien baie verander. Nie net is die kinderprogramme op televisie anders nie, maar die jongspan het vroeg reeds elkeen ’n eie selfoon en toegang tot die internet.

Hulle lê hulle nou eerder en MXit as om opvoedkundige boeke te lees of programme te kyk.

Ek is nogal ’n Facebook-verslaafde. Ná al die kere wat ek al getrek het en al die dorpe waar ek al gebly het, is dit ’n maklike manier om in verbinding te bly met vriende van heinde en verre. Wat my egter van dié webblad irriteer, is die spelling.

Ek wonder soms hoe ’n opgeleide prokureur, rekenmeester of ingenieur sulke afgryslike taal kan gebruik, om nie eers van joernaliste te praat nie!

Hoe doen hulle hul werk as hulle nie kan spel nie? En wat gaan word van die jonger garde word wat nog op skool is, as hulle nou al so verkeerd spel?

Vir wie gaan ’n mens blameer? Die MXit-generasie waar kinders heelweek in kletsgroepe sit en met mekaar kommunikeer in ’n taal wat net hulle verstaan? Die onderwysstelsel wat hulle nie reghelp nie? Of sommer net die feit dat kinders nie wil leer nie?As jy op MXit klets, moet jy so vinnig as moontlik tik en dit lei tot die baie verkorte weergawe van skryf.

Maar wat soms daar voorkom, maak van Grieks ’n lammetjie. So beteken “lmga, ekt nu nt so groot geskrk” beteken “ek lag my (alie) af, ek het nou net so groot geskrik” en “wmj di nwk? ko os ga kye”, “wat maak jy die naweek? kom ons gaan kuier”.

Ek is skaars uit my tienerjare, en ék sukkel! Miskien is die enigste oplossing dat ouers deur die week hul kinders se selfone afneem en hulle ’n goeie boek in die hand stop.

Laat hulle koerante lees, maar ook nie daardie wat in “hul” taal skryf nie. Stel hulle bloot aan óns taal waaroor die stryd so woed. My hart gaan uit na diegene wat by die onderwys betrokke is.

Hoe kry jy kinders om dié slegte gewoontes af te leer? Of moet ons nou maar ons woordeboeke aanpas om woorde soos “leka” en “kye” in te sluit?Of die televisie-programme wat oor die jare heen so verander het die skuld moet kry, of die feit dat tegnologie soveel verbeter het, weet ek nie.

Ek vermoed wel dat daar ’n generasie is wat eendag ons skrywers, prokureurs, onderwysers en ingenieurs moet word, maar wat waarskynlik nooit reg sal kan spel nie.

Bepaal rugby regtig die beste universiteit?

SO kom ek nou die dag deur die Facebook-grapevine op ’n webblad af: UCT se kampuskoerant waar ’n student die Maties persoonlik aanvat oor die Varsity Cup-oorwinning. Die artikel is geskryf deur ’n Ikey-student, Anton Taylor.

In sy rubriek maak hy wilde aannames oor Stellenbosch Universiteit, rugby en die verskil tussen die twee universiteite. Hy sê dat Ikeys beter is omdat hul rugbyspelers nie net daar is vir rugby nie, maar ook studeer en hulle nie soveel fondse vir sport het nie.

Ek is glad nie ’n rugby-fanatikus nie en ondersteun nie eers ’n provinsiale span nie, maar ek het darem ’n deel van die Maties se Varsity Cup-finaal gesien en kan trots erken ek’s ook nou ’n Stellenbosser.

Wat my bekommer oor dié student, is sy Facebook-groep waar hy homself verkiesbaar stel as Studenteraadslid.

Ek hoop dis ’n grap, want tussen sy vereenselwiging met David Hasselhoff, lys hy van sy lewenshoogtepunte. Hulle sluit in: kaalnael by een van die einste rugbywedstryde waaroor hy so aangaan, ses meisies in een aand vat en katskiet op van UCT se bekendste landmerke. My ma trek my stertvelle vir my af. En dit klink asof hy verkies is!

Die Facebook-pennestryd oor Taylor bekommer my verder. Hy is as Ikeys se held verklaar en ’n haatgroep is onder die Maties gestig. Daar pak die twee groepe mekaar sommer kaalvuis aan oor klas, ras en kleur. ’n Paar raak darem die eintlike kwessie aan, maar die Maties word boere genoem, en die Ikeys k-lovers.

Taylor sê in sy skryfstuk: “Ons sien neer op Stellenbosch as die dronk niksnutse van tersiêre onderrig. Ons is moeiliker om by in te kom, ons is akademies sterker, ons is meer divers, vreedsamer en dapperder, ons sal ryker wees, en ten spyte van hulle desperate proklamasies, is ons meisies mooier”. Waar is die bewyse van dié standpunte en wat het dit met rugby te doen? Uiteindelik het Maties vanjaar as oorwinnaars uit die stryd getree.

Taylor se uitsprake wat sê dat hulle eintlik gewen het, dra dus nie veel gewig nie. Miskien is dit volgende jaar hul beurt. Dan kan die Maties weer kla oor hoe dronk al die studente by Ikeys tydens hul wedstryde raak.

Vir die res van die jaar is die Varsity Cup in Stellenbosch. Hulle het hard gewerk daarvoor, dus maak nou maar vrede.

Dis presies hoekom ek liewers nie rugby kyk nie.

‘Toe val Lig’, nie ‘toevallig’ nie

EK en my ma het nie baie goed oor die weg gekom toe ek’n tiener was nie.

Sy het sulke sêgoed gehad wat enige tienermeisie sou opwerk.

As ek geskree het: “Dis nie fair nie!” het sy altyd rustig geantwoord: “Die lewe is nie fair nie!”

Dis nie eintlik wat ek op daardie stadium wou hoor nie, en dan het ek my altyd vir haar vererg.

Noudat ek terugkyk, weet ek dat die lewe regtig nie altyd regverdig is nie, maar dis haar ander sê-ding wat my altyd sal bybly.
As enigiets toevallig gebeur het, sou sy sê daar is nie ’n ding soos toeval nie. “As jy toevallig opdeel in sy dele, staan daar: toe val Lig.” En Lig het geval.

My ma is ’n stoere kerkmens. In ons klein NG gemeente het óf sy óf my pa altyd in die kerkraad gedien. Dit het selfs gebeur dat hulle op dieselfde tyd op “diens” was. Dan moes ons vier kinders alleen in die kerkbank sit, vierde ry van voor, en sou sy ons elke nou en dan van ver af aangegluur as ons kriewelrig begin raak het.

Dis ook in haar Christen-wandel waar sy dié stukkie wys­heid geleer het. In Psalm 27:1 staan daar: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Dit gebeur soms in almal se lewens dat hulle nie weet watter pad om volgende te kies nie. Die ou gesegde van die regte deure wat oopgaan is nie iets waaraan my ma glo nie. Niks gebeur sommer net per toeval nie.

Sy het my geleer die regte ding gebeur op die regte tyd. Jy ontmoet altyd die regte mense en die regte geleenthede kom na jou toe. Jy hoef nie bang te wees vir die toekoms nie, selfs al lyk dinge asof dit inmekaar begin tuimel. Sy glo vas dat Lig sal val waar dit moet.

As ’n tienermeisie wou ek gehad het dinge moet uitwerk soos ék dit wil hê. In Jakobus 4:13-14 staan daar: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!”

Dit het my lank geneem om te aanvaar dat dinge nie altyd gaan uitwerk soos ek dit wil hê nie, en ek weet my ma was eintlik reg.
Niks gebeur “toevallig” nie.

Valentynsdag so toe nou nie so vaal

Die week se rubriek… Nie regtig daarvan gehou nie…

DAAR is min mense wat so min van Valentynsdag hou soos ek. Dus doen ek elke jaar my deel vir al die enkellopendes en organiseer ’n anti-Valentynsdag-partytjie.
Dis nie dat ek teen liefde is nie, maar ek is realisties oor die feit dat die ridder op die wit perd heel moontlik nie gaan opdaag nie, en veral nie op Valentynsdag nie.
Dus doen ek my deel as St. Valentine en kry al die enkellopendes bymekaar.
Net miskien gebeur dit dat twee mense wat nog altyd verby mekaar geloop het, dié keer in mekaar vasloop en geluk vind.
Maar vanwaar my renons in dié dag?
Almal het mos maar hul stories van ‘Vaaltyn’. Party vind liefde en ander besluit om te trou. Die meeste mense glo dis alles net ’n geldmaak-storie en baie paar­tjies weier om dit te vier (hoewel die meisies eintlik nog steeds hoop vir ’n massiewe bos rose).
Ek het wel een keer, so vier of vyf jaar terug, ’n ou gehad op Valentynsdag. Ek was baie opgewonde, en gedink ek gaan wakker word met sjokolade en blomme.
Toe nou nie. Hy het juis daardie dag gekies om ons verhouding te beëindig.
En sedertdien drink ek en al my ander single vriende te veel en vier saam ons saam ons alleen-wees. Dié naweek was dit weer sulke tyd.
Op die ou end was daar ’n hele klomp van ons saam vergader in dieselfde kuierplek. In swart geklee het ons saam gekuier, saam gaan swem in die middernagtelike ure en saam-saam ons gedrag berou met ’n massiewe hoofpyn Sondagoggend.
Sondagmiddag het ek my babelaaslyf deur die stort gesleep en na ’n gesellige krieketwedstryd by Van der Stel gaan kyk.
’n Klomp mense wat ek ken het gespeel, en dié wat nie gespeel het nie, het langs die veld in die son gesit en hul span ondersteun.
Dit was seker die lekkerste Valentynsdag ooit. Hope vriende bymekaar, ’n groot braavleisvuur en samesyn.
Selfs al is ek nog steeds op die rak, het die dag vir my nuwe betekenis. En dalk het daardie ridder teen volgende jaar besluit om op te daag!

Dalk is vandag my gelukkige dag

Rubriek vir die week:

EK dink vandag is my gelukkige dag.

Ek het my nommers gekies en wag nou in spanning vir die uitslag. Ek is nogal besig, dus vergeet ek altyd om te kyk of ek gewen het, maar dié week is daar miljoene op die spel en ek gaan nie sommer my kans laat verbygaan nie. Yebo Millions!

Teen tien rand, kan ek twaalf nommers kies. Dié keer het ek dit nie aan toeval oorgelaat nie en self my nommers gekies.

Ek gaan myself natuurlik onder die agterent skop as my twee rye nommers saam die totaal opmaak en ek nie ’n miljoenêr wegstap nie.
Hmmm… wat sal ek doen met ’n miljoen? Of in dié geval, R60 miljoen?

Ek dink ek sal die helfte belê, die ander helfte uitgee op my ou motor wat regtig ’n ordentlike diens nodig het.

Ja, ek dink ek sal my skedonkie hou. Ons kom al ’n lang pad saam. Een van daai verwaande mense word wat met miljoene in die bank nog steeds ’n ou kar ry.

Ek sal vir my huis meubels koop. Ek bly al amper ’n maand daar en steeds is my styl ’n bietjie minimalisties. Bloot omdat ek hard moet werk om genoeg sente bymekaar te skraap om nog stukke aan te koop. My bed het darem al opgedaag.

Ek dink ek sal ook ’n bietjie verlof insit en deur die land gaan toer. Dis hoog tyd vir ’n kustoer. Ek vat sommer al my vriende saam. Net omdat ek kan!

Ek sal vir my ma haar huisie by die see aanskaf, en ’n bietjie geld belê vir haar oudag, sodat sy darem gemaklik kan leef wanneer sy en my pa nie meer kan boer nie.

My susters en my boetie kan dalk ’n sent of twee kry, maar nie te veel sodat hulle bederf word nie. Hulle moet darem ook werk vir die lekker in die lewe. Ek sal die pad net vir hulle effe gelykmaak.

En die res van my hopeloos te veel miljoene sal ek belê en leef van die rente. Ek sal my tweede joppie opgee en elke naweek op ’n avontuur gaan.

In spanning wag ek vir die masjien­tjie. Khensani spin en die balle bons op en af, rond en bont, en dan… niks. Wel, so te sê niks. R11 se uitbetaling. Net genoeg om wéér volgende week te speel.

En ek besef ek het in ’n lotery-verslaafde verander. Die Powerball lê nou al op R73 miljoen.

Dalk is dié Vrydag my gelukkige dag.

Eerstejaars en hul blink karre

Laas week se rubriek:

REEDS tien minute laat, op pad na my klas, en my petrolliggie begin flits. My irritasievlak skiet sommer ook die rooi in.

Ek het net gister my laaste einde-van-die-maand-R50 in die tenk gegooi en gehoop ek gaan dit maak tot pay day toe. Een of ander idioot het reg voor die klas met sy blink nuwe motor só geparkeer dat hy oor drie plekke staan.

Ek kan ook nie waag om naby die rooi streep te stop nie. Die spietkops is heeltemal te kwaai deesdae.

Ek ry mompelend nóg ’n draai om die blok, en ná die derde keer, besluit ek om maar agter die stadsaal te gaan parkeer. Ten minste is dáár ’n gaatjie oop. Die kwaai tannie wat die parkeermeters dophou, gluur my aan en ek draf maar gou na die naaste winkel om kleingeld vir die parkeermeter te maak.

Vyftien minute laat. ’n Jong lat in ’n afslaan-kap BMW Z3 tref my amper toe ek die pad oorsteek, en ek raak van voor af die hoenders in. Kleingeld in die hand, wonder ek wat ouers dink wanneer hulle vir ’n 18-jarige ’n Z3 present gee.

My ouers is nou nie welaf nie, en ek het self ’n motor aan die einde van my eerste jaar gekry (let wel, einde!), maar dit was ’n regte ou skedonk wat al baie jare op die pad was.

Die parkeermasjientjie sluk my R5-munt in en sê ek het net ’n uur voordat ek terug moet wees. My klas is twee ure lank, dus hoop ek maar vir die beste. As die tweede oudste dorp in Suid-Afrika, dateer Stellenbosch uit ’n era voordat motorkarre die Suid-Afrikaanse paaie vol geloop het.

Toe Simon van der Stel in 1679 hier aangeland het, het hy erwe toegeken sonder om die hedendaagse uitbreiding van die dorp in ag te neem, wat nog te sê van die duisende studente wat hulself hier kom tuismaak vir ’n paar jaar. Die nou strate is eerder geskik vir die dae toe perdekarre die dorp deurkruis het.

Uiteindelik besef ek dat ek eerder my motor by die kantoor moes gelos het. Dan kon ek die paar blokke na my klas te voet aangepak het.

Dit sou ook heelwat gouer geneem het. ’n Halfuur laat strompel ek met my swaar rugsak tot by die klas.

Net om te ontdek die blink motor is weg en drie parkeerruimtes is beskikbaar rég voor die deur!

Om te werk en veral nie te werk nie

Ek het ‘n nuwe rubriek in die koerant, so ek dog ek post dit sommer hier ook.

DIT is nie altyd maklik om by ’n gemeenskapskoerant te werk nie. Jy moet op ’n duisend plekke op dieselfde tyd wees, en is ook dikwels die oorstuk vir elkeen in die dorp wat wil moan en groan.
Verlede week was dit weer die verkeersdepartement wat onder inwoners se kwaai tonge deurgeloop het.
’n Inwoner van die dorp het laat weet hoe lui die verkeersmanne is. Hulle sit byvoorbeeld heeltemal te lank by die BP in Dorpstraat en koffie drink.
Gelukkig het ek toe nou die aand ’n kamera byderhand en vang toe mooi die beampte waar hy lekker sit en koffie drink. Skandalig.
Kort ná ek die skelm kiekie geneem het, skop my gewete egter in. Dit was reeds halfses die aand. Almal sit rustig en bier drink by die kroeg oorkant die straat, en hier neem ek steelfoto’s van die arme bloubaadjie wat net ’n koffie wil drink ná die lang dag.
As belastingbetalers se sakke geraak word, is dit belangrik dat daar nie leeggelê word nie, maar wanneer die amptenare die dag regtig werk, dan is die spreekwoordelike vet óók in die vuur.
Die volgende dag stroom hoogs ontstelde oproepe vanuit alle oorde in. “Hoe durf die verkeersmanne vir al die pa’s en ma’s wat hul eerstejaars kom aflaai, beboet? Hulle weet mos nie waar om te parkeer nie! Bel dadelik die verkeersdepartement en sê hulle moet stop!”
Victoria- en Ryneveldstraat sal uitgelos word wanneer registrasie plaasvind, is ’n verkeersbeampte se reaksie op dié parkeringspaniek. “Motors wat ander karre vasparkeer, sal wel beboet word,” maan sy tog.
Die Stellenbosch Verkeersdepartement het onlangs ’n splinternuwe bussie gekry, ’n kantoor op wiele, wat dit moontlik maak vir motoriste om sommer langs die pad hul boetes te betaal. Padblokkades tydens die feesseisoen het ook gesorg dat daar nie een ernstige ongeluk was nie.
Kort ná die parkeringskonsternasie, kom ’n oproep deur. Blykbaar het die verkeersouens wraggies ’n padblokkade buite die dorp opgestel wat die verkeer iets verskrikliks ophou! “Hoe durf hulle dit doen as al die eerstejaars probeer om by die koshuis in te boek!” word daar oor die foon gekla.
Nou wat moet die arme beamptes dan doen? Hulle hou ons paaie veilig, sover moontlik, hulle hou dronkbestuurders en maniakke van die paaie af, maar wanneer hulle stop vir koffie, is die gort behoorlik gaar.
Die belastingbetalers is soms baie vinnig om te kla wanneer daar nie gewerk word nie, solank die werk nie beteken hulle word self deur daardie werk uitgevang nie.