‘n Pienk apie met arms vol liefde

Ek het nou die dag daaraan gedink dat my lewe in die koshuis nogal gesorg het vir baie stories. Hier is die begin van ‘n paar. 🙂

Ek het meeste van my lewe in ‘n koshuis spandeer. Ek was van Sub A af, toe ek grootskool toe was, in die Hok gewees.

Dit was vreeslik lekker. Dis soortvan om elke aand ’n pajama-party te hê en al jou maatjies was daar.

Daar was agt van ons in Sub A in die koshuis, drie seuns en vyf meisies. Ek is onlangs genooi na een van die girls se troue toe. Meeste van die ander is al getroud. Net die een meisie het heeltemal onder die radar ingegaan. Die ouens bly oraloor die land. Nou die dag in een vasgeloop. Verder hou ons maar kontak op Facebook.

Ek onthou nog presies my eerste dag van skool. Of eerder die koshuis-deel. My ma het nog pouse vir my toebroodjies gebring en vir my gesê sy het iets vir my gelos in my kamer.

Nou die “kamer” waarin ek myself bevind het was nogal groot. Eintlik was dit meer ‘n saal. Al die Sub A’s, Sub B’s en St 1’s het daar geslaap. So om en by twintig van ons. Die saal was bo die studiekamer (probleem) en die vloere was van hout (groter probleem!). Ons het elke aand raasgekry oor ons soos olifante rondgehardloop het!

Die koshuiskatels was sulke ou staalbedjies. Dit was baie maklik om hulle rond te skuif op daai gladde houtvloer.

Die Sub A’s kom altyd ‘n bietjie vroeër uit die skool uit. Dan het ons buite in die modder gespeel tot die ander kinders oor die rugbyveld gestroom het na die Hok toe. Dan het die etensklok gelui en ons het almal in ‘n ry gaan staan om te eet.

Maar dis nie wat ek onthou van daardie eerste dag nie. Ek onthou dat ons almal uit die skool gekom het, nuwe skoolklere nog vars en skooltas nog vol nuwe kryte. Ek kon nie wag om te sien wat my ma vir my gelos het nie, so ons al vyf het saam gehardloop oor die rugbyveld, in by die stegie, op met die trappe en af in die gang. Eeerste regs en dan links in by die saal.

My bed was reg oorkant die deur en ek het met ‘n verskriklike geraas oor die houtvloer genael. Reguit op my bed gespring dat hy eintlik skuins skuif, tot teen die persoon langsaan se bed.

“’n Apie!”

Dit was die begin van my ma se tradisie. Sy het met elke groot skuif wat ek gemaak het, hoërskool, universiteit, vir my ‘n teddie gegee. Dis nogal cool, want ons is vier kinders en dis net mý en haar ding.

Ek het hulle almal nog, maar my pienk apie met sy ope arms waaarop staan “I love you” het ‘n ereplek in my kamer. Hy’s perfek. Sy oop arms hou jou vas as jy alleen voel. En as ek hom so vasdruk onthou ek my ma en daardie eerste dag van skool.

‘Toe val Lig’, nie ‘toevallig’ nie

EK en my ma het nie baie goed oor die weg gekom toe ek’n tiener was nie.

Sy het sulke sêgoed gehad wat enige tienermeisie sou opwerk.

As ek geskree het: “Dis nie fair nie!” het sy altyd rustig geantwoord: “Die lewe is nie fair nie!”

Dis nie eintlik wat ek op daardie stadium wou hoor nie, en dan het ek my altyd vir haar vererg.

Noudat ek terugkyk, weet ek dat die lewe regtig nie altyd regverdig is nie, maar dis haar ander sê-ding wat my altyd sal bybly.
As enigiets toevallig gebeur het, sou sy sê daar is nie ’n ding soos toeval nie. “As jy toevallig opdeel in sy dele, staan daar: toe val Lig.” En Lig het geval.

My ma is ’n stoere kerkmens. In ons klein NG gemeente het óf sy óf my pa altyd in die kerkraad gedien. Dit het selfs gebeur dat hulle op dieselfde tyd op “diens” was. Dan moes ons vier kinders alleen in die kerkbank sit, vierde ry van voor, en sou sy ons elke nou en dan van ver af aangegluur as ons kriewelrig begin raak het.

Dis ook in haar Christen-wandel waar sy dié stukkie wys­heid geleer het. In Psalm 27:1 staan daar: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”

Dit gebeur soms in almal se lewens dat hulle nie weet watter pad om volgende te kies nie. Die ou gesegde van die regte deure wat oopgaan is nie iets waaraan my ma glo nie. Niks gebeur sommer net per toeval nie.

Sy het my geleer die regte ding gebeur op die regte tyd. Jy ontmoet altyd die regte mense en die regte geleenthede kom na jou toe. Jy hoef nie bang te wees vir die toekoms nie, selfs al lyk dinge asof dit inmekaar begin tuimel. Sy glo vas dat Lig sal val waar dit moet.

As ’n tienermeisie wou ek gehad het dinge moet uitwerk soos ék dit wil hê. In Jakobus 4:13-14 staan daar: “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!”

Dit het my lank geneem om te aanvaar dat dinge nie altyd gaan uitwerk soos ek dit wil hê nie, en ek weet my ma was eintlik reg.
Niks gebeur “toevallig” nie.

My vriendin se pad met kanker

Kanker. Ek lees nou die dag Who Shall I Fear se blog raak.

Die seën van so ‘n ongelooflike blog tussen al die ander Afrikaanse skrywers weggesteek op WordPress. Die gemeenksap tussen al die skrywers is fantasties. Almal lewer kommentaar en help waar hulle kan.

Dalk kan dié storie vir haar en haar familie ook kan help.

Ek het ‘n vriendin wat ek noodgedwonge agter moes laat toe ek weereens trek. Ek en sy het baie tyd op haar stoep spandeer en baie wyn gedrink en so die wêreld se probleme probeer oplos. Ons het meestal daar by haar huis in die marina gekuier, want ons moes ‘n ogie hou oor haar seuntjie en dogtertjie van vyf en drie.

Volgens my is hulle altwee lekker bederf, maar ek praat uit die ondrvinding van ‘n 25-jarige wat self nog baie het om te leer. Dit dink jy in elk geval net totdat jy dié familie se ongelooflike storie hoor.

My vriendin en haar man is al tien jaar getroud. Hulle het binne die eerste twee weke wat hulle mekaar ontmoet het klaar besluit hulle wil die res van hul lewens saam spandeer en so was dit toe ook. Hulle is kort daarna verloof en later getroud.

Hulle altwee hou baie van dieselfde dinge, foto’s neem, die wilde buitelewe en hulle kids, maar haar man is die rustigheid vanself terwyl sy met haar rooi hare ‘n wilde kant het. Tog is hulle perfek vir mekaar.

Hul eersteling, Richard, het ná ‘n ruk die familie gejoin en dinge het goed gegaan.

Tot die noodlot geslaan het. Kort ná sy geboorte is my vriendin gediagnoseer met ovarium kanker. Sy was vir operasies en chemo en het later in remissie ingegaan. Dinge het rustiger begin gaan.

Sy en haar man loop egter een dag deur die mall en sy was toe verskriklik lus vir een of ander tjoklit roomys. Haar man het gestop, na haar gedraai en dadelik vir haar die roomys en ‘n swangerskaptoets gaan koop. Dit was positief.

Dit was ook nog nie die einde nie. Sy was in ‘n toestand. Sy het geglo sy gaan doodgaan, en hier is sy weer swanger, selfs met al die skrape en snye in haar ovarium.

Met haar eerste dokter besoek was die nuus egter baie erger. Die fetus was in haar ovarium-buis vas en moes geaborteer word, anders sou beide sy en die baba dit nie maak nie. Sterk vrou wat sy is het sy die dag haarself reggemaak vir die ergste.

Daar gekom het die onmoontlike egter gebeur. Die fetus het verskuif en was veilig in haar maag, op die regte plek in haar skoot.

Vandag het hulle twee ongelooflike blondekop kindertjies. Abbygail met haar blonde hare is ‘n regte engeltjie. Met albei ouers fotograwe is daar duisende foto’s van hulle.

Die Here werk somtyds op vreemde maniere om ons te toets.

As jou verhouding grondpad raak

So sit ek nou die dag in my favourite bar en nonsense praat, pretty much soos elke dag. Die locals kom en gaan soos altyd, en ek knoop ‘n geselsie aan met ‘n ou wat ek lanklaas gesien het.

Hy vertel my van sy verhouding wat deesdae nie meer teerpad is soos aan die begin nie, en dat dit nou begin grondpad raak het. Vol slaggate!

Ek dog toe by myself, dis darem maar ‘n mooi manier om dit te stel. Aan die begin van elke verhouding loop dinge glad, soos ‘n nasionale pad tussen twee klein dorpies waar daar niks traffic is nie.

Maar dan raak dit moeiliker. Jy kom nader aan ‘n stad en die verkeer raak al hoe meer. ‘n Ongeluk maak dat die pad begin bottelnek en jy sit jou pad verder op ‘n slakkepas. Ek dink dis daai rut wat jy tref nadat jy vir ‘n rukkie in ‘n verhouding was.

Dinge het nou klaar gevorder tot waar dit kan en sukkel om vorentoe te gaan. Nuwe issues klim uit die kaste uit en stop dat ‘n verhouding verder gaan.

Nou gewoonlik kom jy darem deur die traffic en jy kry weer die gladde pad aan die ander kant van die stad. Dinge loop weer goed, en afhangend van jou en jou partner se verwagtinge bereik jy uiteindelik ‘n destinasie.

Maar dis ook nie altyd so nie. Partykeer moet jy eers afdraai op daardie nou plaaspaadjie. Die slaggate en dongas maak dit moeilik om enigsins verder te beweeg en dis dikwels ook waar meeste break-ups gebeur. Die vrot grondpad eis sy tol.

So ek wag maar nog steeds vir daardie man met ‘n moerse 4×4. Mense spot jou mos as jy die stad se paaie aandurf met jou grote bakkie, maar ek dink dis nodig in ‘n verhouding. Die bakkie is nie sodat jy enige plek kan park as jy in die stad ry nie, maar vir daai keer wat jy die grondpad slaan.

Ek soek daardie man op wie ek kan staatmaak. Wat deur die dongas en óm die rotes en deur slote en gate kan ry, totdat ons weer eendag teerpad kry.

Maar soos hulle sê: Life’s a journey, might as well enjoy the ride. Al is dit net vir ‘n kort rukkie.

Valentynsdag so toe nou nie so vaal

Die week se rubriek… Nie regtig daarvan gehou nie…

DAAR is min mense wat so min van Valentynsdag hou soos ek. Dus doen ek elke jaar my deel vir al die enkellopendes en organiseer ’n anti-Valentynsdag-partytjie.
Dis nie dat ek teen liefde is nie, maar ek is realisties oor die feit dat die ridder op die wit perd heel moontlik nie gaan opdaag nie, en veral nie op Valentynsdag nie.
Dus doen ek my deel as St. Valentine en kry al die enkellopendes bymekaar.
Net miskien gebeur dit dat twee mense wat nog altyd verby mekaar geloop het, dié keer in mekaar vasloop en geluk vind.
Maar vanwaar my renons in dié dag?
Almal het mos maar hul stories van ‘Vaaltyn’. Party vind liefde en ander besluit om te trou. Die meeste mense glo dis alles net ’n geldmaak-storie en baie paar­tjies weier om dit te vier (hoewel die meisies eintlik nog steeds hoop vir ’n massiewe bos rose).
Ek het wel een keer, so vier of vyf jaar terug, ’n ou gehad op Valentynsdag. Ek was baie opgewonde, en gedink ek gaan wakker word met sjokolade en blomme.
Toe nou nie. Hy het juis daardie dag gekies om ons verhouding te beëindig.
En sedertdien drink ek en al my ander single vriende te veel en vier saam ons saam ons alleen-wees. Dié naweek was dit weer sulke tyd.
Op die ou end was daar ’n hele klomp van ons saam vergader in dieselfde kuierplek. In swart geklee het ons saam gekuier, saam gaan swem in die middernagtelike ure en saam-saam ons gedrag berou met ’n massiewe hoofpyn Sondagoggend.
Sondagmiddag het ek my babelaaslyf deur die stort gesleep en na ’n gesellige krieketwedstryd by Van der Stel gaan kyk.
’n Klomp mense wat ek ken het gespeel, en dié wat nie gespeel het nie, het langs die veld in die son gesit en hul span ondersteun.
Dit was seker die lekkerste Valentynsdag ooit. Hope vriende bymekaar, ’n groot braavleisvuur en samesyn.
Selfs al is ek nog steeds op die rak, het die dag vir my nuwe betekenis. En dalk het daardie ridder teen volgende jaar besluit om op te daag!

Trots vrou-alleen

Ek is een van daardie mense wat eerder my alie sal afsukkel as om te vra vir hulp. Kyk, ek verstaan dat dit soms nodig is om ‘n man in te roep as dit regtig nodig is, maar as ek iets self kan doen is ek tog te bly.

Ek is nie eintlik baie goed met verhoudings nie, so ek sukkel sukkel maar so voort op my eis. En as ek dan iets bereik, dán is ek vir jou trots op myself!

So het ek nou die dag al my (bietjie) baie swaar meubels en bokse self uit die bakkie gelaai toe dit by my nuwe woning opdaag. My boetie het sy bakkie vol goed sommer net daar gelos en is met my motor vort kaap toe. Ek moes maar self sien kom klaar. (Ek neem hom natuurlik nie kwalik nie, hy hét onlangs amper ‘n hartaanval op 23 gehad… maar dis ‘n ander storie.)

So het ek gesukkel en gesweet tot ek als binne my huis gekry het. Aangesien ek nie juis regtig baie pakplek het nie, en aangesien ek nie juis baie meubels het nie, het van die bokse maar daar gestaan tot tyd en wyl.

Die naweek is daar egter ‘n special aan by Game op ‘n baie oulike TV-stand. Kyk, ek besef dis nou nie die beste kwaliteit nie, maar dit lyk darem heel modern en daar is plek vir ‘n paar boeke en so aan.

So ry ek met my skedonkie tot by die naaste Game. Ek ken mos nou nie die plek nie en stop toe heel aan die verkeerde kant. Toe die verkoopsman die kas in ‘n waentjie gelaai het, moes ek dit baie versigtig deur die hele mall mission tot by my kar. Min wetende hoe swaar die ding eintlik is.

So staan ek buite my motor, die wind waai als rond en bont, en ek besef ek gaan nie dié ding uitgelaai kry nie, maar ‘n boeremeisie maak ‘n plan.

Mooitjies laat ek die waentjie stadig sykant toe tip, laat gly die moerse doos tot in die boot en verby tot op die platgeslaande seat. Siedaar!

Tuis geland moet ek natuurlik die ding uitlaai en met Hercules-like strength lig ek hom uit en sukkel-sukkel tot in my sitkamer. En toe begin die moeilikheid. Die ding is in 76 stukke! Gelukkig het my pa my ‘n paar houtwerklesse gegee tydens lang Desembervakansies…

Ek kry darem ‘n skroewedraaier in een van die stapels bokse gelabel useful stuff. Natuurlik. So begin ek die stukke een vir een uitsorteer. Die een daar, ander een ander kant. Daardie skroefie hier in en ‘n ander een daar. Uiteindelik staan die ding so half. Tot die pote is aan. Ek’s lekker uitgemergel, en al wat nou nog skort is die deure.

My hand-gamaakte kas... okei, hy was eintlik net spoeg en plak, maar nog steeds!

Die ingewikkelde deure moet nog gehang word en ek sien nie dadelik kans vir daai snaakse contraptions wat seker maak die goed bly toe nie. Ek gaan sit eers vir ‘n uu rlank en die 7de Laan Omnibus kyk. Almal het ‘n ruskans nodig.

Toe die nuus begin raak ek verveeld en my hande begin jeuk om my projekkie klaar te maak. Die een deur is nog okay om aan te sit. Die binnekant van my hande is toe lankal deur van 300 skroewe indraai. Die ander een is bietjie meer van ‘n probleem want toe moet ek met my dom linkerkant indraai en ‘n paar vloekoorde later het ek darem die knippe half op plek… Eers bietjie skeef, so dit moes weer gedoen word.

Ná ‘n hele middag se sukkel staan hy. Ek pak sommer ‘n paar dose uit en omdat ek so opgewonde is. Dit lyk fantasties. Bietjie meer huislik.

En ek het dit sélf gedoen. Ai, maar dis lekker om vrou-alleen iets reg te kry!

Dalk is vandag my gelukkige dag

Rubriek vir die week:

EK dink vandag is my gelukkige dag.

Ek het my nommers gekies en wag nou in spanning vir die uitslag. Ek is nogal besig, dus vergeet ek altyd om te kyk of ek gewen het, maar dié week is daar miljoene op die spel en ek gaan nie sommer my kans laat verbygaan nie. Yebo Millions!

Teen tien rand, kan ek twaalf nommers kies. Dié keer het ek dit nie aan toeval oorgelaat nie en self my nommers gekies.

Ek gaan myself natuurlik onder die agterent skop as my twee rye nommers saam die totaal opmaak en ek nie ’n miljoenêr wegstap nie.
Hmmm… wat sal ek doen met ’n miljoen? Of in dié geval, R60 miljoen?

Ek dink ek sal die helfte belê, die ander helfte uitgee op my ou motor wat regtig ’n ordentlike diens nodig het.

Ja, ek dink ek sal my skedonkie hou. Ons kom al ’n lang pad saam. Een van daai verwaande mense word wat met miljoene in die bank nog steeds ’n ou kar ry.

Ek sal vir my huis meubels koop. Ek bly al amper ’n maand daar en steeds is my styl ’n bietjie minimalisties. Bloot omdat ek hard moet werk om genoeg sente bymekaar te skraap om nog stukke aan te koop. My bed het darem al opgedaag.

Ek dink ek sal ook ’n bietjie verlof insit en deur die land gaan toer. Dis hoog tyd vir ’n kustoer. Ek vat sommer al my vriende saam. Net omdat ek kan!

Ek sal vir my ma haar huisie by die see aanskaf, en ’n bietjie geld belê vir haar oudag, sodat sy darem gemaklik kan leef wanneer sy en my pa nie meer kan boer nie.

My susters en my boetie kan dalk ’n sent of twee kry, maar nie te veel sodat hulle bederf word nie. Hulle moet darem ook werk vir die lekker in die lewe. Ek sal die pad net vir hulle effe gelykmaak.

En die res van my hopeloos te veel miljoene sal ek belê en leef van die rente. Ek sal my tweede joppie opgee en elke naweek op ’n avontuur gaan.

In spanning wag ek vir die masjien­tjie. Khensani spin en die balle bons op en af, rond en bont, en dan… niks. Wel, so te sê niks. R11 se uitbetaling. Net genoeg om wéér volgende week te speel.

En ek besef ek het in ’n lotery-verslaafde verander. Die Powerball lê nou al op R73 miljoen.

Dalk is dié Vrydag my gelukkige dag.

Daai suinige Duitsers

Ek werk myself deesdae in my peetjie in om bietjie ekstra geld te verdien. Dis niks nuut nie, ek doen dit nou al vir die laaste vyf maande, maar ek dink die lang ure raak nou vir my te veel.

Gewoonlik sit ek net een aand ‘n week in by die bar waar ek werk. Dis lekker werk en die geld is gewoonlik genoeg om darem die volgende aand mee te kuier, so ek is heel happy. Laas week het ek egter drie shifts ingesit en dis waar die f-op gekom het.

Ek het Woensdagaand gewerk. Lekker geld gemaak, maar het eers 03:45 die deur agter ons toegetrek en toe is ek vodde. 08:30 was ek egter by die kantoor en reg vir die dag. Later daardie dag het ek verneem ek moet voormalige president FW gaan aanhoor daardie aand. My moeë lyf het ek vol koffie gepomp en die vergadering deurgesit.

Die volgende dag, Vrydag, was ek weer op kantoor, 16:00 deur die traffic huis toe en reggemaak vir my ander jop. Kort na 18:00 in die bar ingestap. 04:00 daar weg om verder te gaan kuier in die enigste plek wat nog oop was… ai…

Volgende oggend weer op my diens vir my day job en 11:00 gaan foto’s neem by ‘n konferensie. 16:00 weer begin werk in die bar.

Nou die harde ure is nie eintlik wat my pla nie. Die geldjies wat ek Woensdag gemaak het, het ‘n lekker shopping spree beteken, maar ek was Saterdagaand van vroeg tot laat op diens – en dit vir ‘n Duitse partytjie!

Nou ek is nou nie rassisties, klassisties of kulturalisties nie (okay, nee ek jok, ek is klassisties), maar die vader alleen weet, daar blerrie Duitsers is suinig.

So het ons ‘n moerse special aan. Baie brannewyn vir baie goedkoop. Ek hardloop die hele aand agter klomp Duitsers uit die Suid-Wes (nie eers van Duitsland nie) wat net wil hê, hê, hê!!!

Teen die einde van die aand is ek uit stock uit. Niks meer brandewyn, vodka of cane nie. Die Tafel Lager is op en die Windhoek ook amper, maar die party gaan aan. Die dronk Duitsers hang oor my bar smeek vir nog drank. Ek ignoreer hulle maar later.

Nadat ek stock getel en afgekas het, tel ek my paar munte wat ek vir tips gekry het. Nou gewoonlik doen jy nogal oraait in daai bar. Veral met ‘n besige aand soos Saterdag, so ek was sommer lus en quit toe ek klaar getel het.

R110.

Ek hou offisieel nie meer van Duitsers nie.

Eerstejaars en hul blink karre

Laas week se rubriek:

REEDS tien minute laat, op pad na my klas, en my petrolliggie begin flits. My irritasievlak skiet sommer ook die rooi in.

Ek het net gister my laaste einde-van-die-maand-R50 in die tenk gegooi en gehoop ek gaan dit maak tot pay day toe. Een of ander idioot het reg voor die klas met sy blink nuwe motor só geparkeer dat hy oor drie plekke staan.

Ek kan ook nie waag om naby die rooi streep te stop nie. Die spietkops is heeltemal te kwaai deesdae.

Ek ry mompelend nóg ’n draai om die blok, en ná die derde keer, besluit ek om maar agter die stadsaal te gaan parkeer. Ten minste is dáár ’n gaatjie oop. Die kwaai tannie wat die parkeermeters dophou, gluur my aan en ek draf maar gou na die naaste winkel om kleingeld vir die parkeermeter te maak.

Vyftien minute laat. ’n Jong lat in ’n afslaan-kap BMW Z3 tref my amper toe ek die pad oorsteek, en ek raak van voor af die hoenders in. Kleingeld in die hand, wonder ek wat ouers dink wanneer hulle vir ’n 18-jarige ’n Z3 present gee.

My ouers is nou nie welaf nie, en ek het self ’n motor aan die einde van my eerste jaar gekry (let wel, einde!), maar dit was ’n regte ou skedonk wat al baie jare op die pad was.

Die parkeermasjientjie sluk my R5-munt in en sê ek het net ’n uur voordat ek terug moet wees. My klas is twee ure lank, dus hoop ek maar vir die beste. As die tweede oudste dorp in Suid-Afrika, dateer Stellenbosch uit ’n era voordat motorkarre die Suid-Afrikaanse paaie vol geloop het.

Toe Simon van der Stel in 1679 hier aangeland het, het hy erwe toegeken sonder om die hedendaagse uitbreiding van die dorp in ag te neem, wat nog te sê van die duisende studente wat hulself hier kom tuismaak vir ’n paar jaar. Die nou strate is eerder geskik vir die dae toe perdekarre die dorp deurkruis het.

Uiteindelik besef ek dat ek eerder my motor by die kantoor moes gelos het. Dan kon ek die paar blokke na my klas te voet aangepak het.

Dit sou ook heelwat gouer geneem het. ’n Halfuur laat strompel ek met my swaar rugsak tot by die klas.

Net om te ontdek die blink motor is weg en drie parkeerruimtes is beskikbaar rég voor die deur!

Die kinders van die dorpie waar tyd stilstaan

Eendag lank lank gelede was daar ‘n klomp kinders wat op ‘n klein dorpie in die Karoo gebly het.

Hulle het elke Saterdag, wanneer almal terug is van kosskool, bymekaargekom by die Tennisklub. Daar het hulle fietsgery, in die modder gespeel en deur die dorp gejaag met fietse om vrugte te gaan steel. Hulle het gaan skelm swem in die dam op die punt van die dorp en moeg en vuil gestop vir ‘n koeldrank vyfuur die middag.

Die dorpie met sy stofstrate was ‘n veilige hawe vir dié kinders. Hulle het baie skel gekry oor hulle mannewales. Veral as hulel met kieste vol druiwe of rooigevlekte moerbei-hande betrap was.

Hulle was gelukkige kinders. Deel van ‘n dorpie wat min ander mense beleef. Die dorp se mense is almal soos familie, en verjaarsdae, troues en lief en leed is alles gedeel.

Toe die groepie kinders grootword, het heelparty van hulle aanbeweeg en die strate het stil geword. Party het getrou en ver in die land getrek, terwyl ander stad toe is om sukses en rykdom te gaan vind. Ander weer het oorsee gegaan en dáár hulself gaan soek.

Die dorp se mense het uitgevra oor elkeen, wou weet wat hulle doen, hoe hulle vaar op universiteit, of hulle genoeg geldmaak in hul nuwe werk en of daar al liefde op die horison was.

Hulle was gemis in die dorpie waar almal hul familie was.

‘n paar jaar later het een seun teruggekeer. Met vrou en kinders het hy teruggekeer plaas toe, na die stofstrate van sy kinderdae, en die familie wat hom met ope arms terugverwelkom het. Die kalf vetgemaak vir die okkasie.

Nog een het sy pad huis toe gevind, en hulle kinders het in die strate begin modderpoele bou.

Stadig maar seker het kinders se gelag weer in die strate begin klingel en dis asof die strate weer begin lewe het.

Die kinders van ouds het hul speletjies en stoute stories vir die jongspan vertel en die nuwe generasie het oorgevat.

Baie van die kinders bly steeds in die stede en ver van die klein dorpie, maar die gelukkige handjie-vol wat kon terugkeer huis toe maak seker dat die tradisie aanhou in die dorpie waar tyd stilstaan en vriende nog altyd deel van die familie word.