Dure diesel vat aan verbruikers

VOLGENDE keer as jy jou voertuig by die vulstasie laat volmaak, kyk eers wat hulle vir diesel vra.

My motor is ’n 1993-petrolmodel met ’n 1300-enjin, dus was die prys van diesel nog nooit iets waaroor ek twee keer gedink het nie. Maar, so vertel iemand my nou die dag, dieselpryse verskil van vulstasie tot vulstasie. En nie net sommer met ’n bietjie nie!

Soos die meeste motorverbruikers, was ek onder die indruk diesel kos oral dieselfde. Toe dit egter tyd was om my motor se petrolvoorraad aan te vul voordat die pryse wéér styg, het ek ’n draai by ’n paar vulstasies gemaak.

Ek het by sewe verskillende stasies in die dorp omgegaan om hul pryse te vergelyk. Die verskil is ongelooflik! Die goedkoopste is by die koöperasie waar jy (voor Woensdag se verhoging) R7,70 per liter betaal het, en ’n ronde R8 per liter ná die verhoging. Tweede in die ry is die ongemaklikste stasie om by in te kom, met ’n verhoogde prys van R8,03 per liter.

Die duurste in die dorp (ek sal liewers nie die stasie noem nie) se dieselprys is R8,52/l ná die verhoging!

“Die petrolprys word gereguleer en die pryse word elke maand in die Staatskoerant gepromulgeer. Die prys van diesel word egter nie gereguleer nie en dus sal jy verskillende pryse kry,” is Cornel van Basten van die Suid-Afrikaanse Petroleum Industrie Assosiasie (SAPIA) se kommentaar oor die wisselende pryse van diesel.

Volgens Van Basten verskil die prys van petrol langs die kus van dié in die binneland, aangesien die vervoerprys daarby ingewerk word. In ’n spesifieke area soos Stellenbosch, word die petrolpryse deur die staat gereguleer. Dieselpryse word egter deur die stasies self vasgestel.

Die meeste mense stop net by die vulstasie, gooi sowat R300 se brandstof in en ry verder. Hulle kyk nie eers twee keer na die prys nie. Baie mense weet nie eers wat petrol nou kos nie (myself ingesluit, totdat ek nou ondersoek gaan instel het).

Almal sukkel nog ná die resessie. As jy jou sak dus ietwat van ’n blaaskans wil gee, maak seker van die prys by die vulstasie waar jy gewoonlik volmaak. 53c per liter kan nogal ’n verskil maak!

Bemagtig jouself

BEMAGTIGING is die in-ding op die oomblik.

Eers was dit BEE (Black Economic Empowerment), maar die B’s het aanhou bykom en nou trek ons al by BBBEE (Broad-based Black Economic Empowerment).

Dis al twintig jaar sedert Madiba sy eerste treë na vryheid gegee het, en 16 jaar dat demokrasie in Suid-Afrika heers, maar gelykheid in die werkplek is nog steeds ’n doring in meeste mense se vlees.

Ek is nie swart nie. Ek is darem ’n vrou, wat seker in my guns tel, maar my Hollandse voorsate het vir my lelie-wit vel gesorg wat kreef-rooi brand net na ’n klein bietjie son.

Ek wil egter nie praat oor kleur nie. Ek dink dis fantasties dat mense van alle rassegroepe nou die kans kry om hul merk in die werkplek te maak.

Ek wil praat oor my week van self-bemagtiging.

Dit klink seker verspot vir ’n dame van net oor die 26 jaar oud, met twee-en-’n-half grade en ’n ordentlike werk, om onbemagtig te voel, maar as jy in ’n nuwe dorp intrek is dinge nie altyd so maklik nie.

Ek het dus vir ’n ruk lank teruggesit en toegelaat dat mense loop soos hulle wil, meeste van die tyd bo-oor my. En ek het baie gehuil. Meeste van die tyd.

En toe maak ek die besluit om op te staan vir myself. Ek het my misbruikers op geldige gronde aangevat, die bitsige mense wat my lewe versuur van my foon af delete en harder gewerk om in my beroep te verbeter.

Ek voel bemagtig deur my eie aksies. Ek dink baie mense sit meestal terug en vermy die konflik wat dalk gaan ontstaan indien hulle vir hulself sou opstaan.

Dis tyd. Sê net nee. Gooi weg jou ou liefdesbriewe wat jou herinner aan daardie mislukte verhouding.

Kla jou baas aan wat hom so aan jou opdring of wat jou sonder rede afgedank het. Sit daardie flerrie wat jou so afkraak in haar plek en staan op vir jouself in die kringe van jy lewe.

Dis jou reg. En niemand anders gaan dit vir jou doen nie.
Ek dare jou.

Sal die regte boere asseblief opstaan?

DIE boere is deesdae omtrent in die nuus.

Eers was dit mynmagnate wat wingerde wil omdolwe om sink en klei uit te haal, en nou wil die regering al die plase vat en nasionaliseer, beginnende met die wildsplase. Ek lees tans PG du Plessis se Fees van die Ongenooides, wat nou ook Dinsdae as ’n TV-reeks op kykNET uitgesaai word.

Die storie handel oor die Anglo-Boereoorlog en hoe ’n uitgebreide Van Wyk-familie die oorlog en konsentrasiekampe oorleef het. Die ouens in die regering wat nou so aan die boere karring, het lanklaas gaan kyk na wat in die geskiedenis gebeur het. Die boere het teen duisende

Rooinekke opgetrek en hulle soveel skade berokken dat die Britte op die ou einde hul vrouens en kinders in kampe moes sit, hul huise moes afbrand en al hul vee moes doodmaak. Nie eens dít kon die boere se veglus stuit nie. Hulle het opgestaan vir dit wat vir hulle belangrik is, en baklei. Tot die dood toe.

Ná die oorlog is hulle terug na hul plase en het deur harde werk weer alles opgebou. Nou, 200 jaar later, is daar sprake van nasionalisering en mynregte wat aan staatsinstansies gegee word.

My pa is self ’n boer en ons plaas is reeds 132 jaar en ses geslagte in die familie. Die boere in ons omgewing het ook entoesiasties grondhervorming probeer aanhelp deur gedeeltes van hul plase aan hul werkers af te staan en hulle met ’n mentorskap-program te help om hul eie boerdery op te bou. Die projek staan egter nou stil omdat die regte amptenare nooit gereageer het op die planne nie.’n Paar boere in dié area het wel die program suksesvol geïmplementeer.

Onlangs, by die Stellenbosse Landbouvereniging is in gesprekke baie aandag gewy aan behuising vir plaaswerkers.

So “veg” die boere voort, ook vir hul mense.

Die vraag wat gevra moet word, is: Sal die regering omsien na die mense wat nou op die plase werk en wat jare reeds vergete gebly het as dit by staatssubsidies vir behuising kom?

Word deel van die reënboognasie

DIE 2010 Wêreldbeker Sokker-toernooi lê om die draai en die toerismebedryf is besig om gereed te maak vir die massas mense wat binnekort op Suid-Afrika gaan toesak.

Dis opvallend hoeveel mense tans besig is om ’n Europese taal aan te leer, of wat ten minste leer hoe om besoekers te groet en verwelkom, terwyl bitter min meer as twee van hul eie landstale magtig is.

Ons het 11 amptelike landstale. Afhangend van waar jy in die land bly, hoor hy sekere tale meer as ander. Terwyl ek in die Oos-Kaap naby die Transkei gewerk het, het ek ’n kollega gehad wat Xhosa kon praat en my lesse gegee het.

“Mol’weni, kunjani! Ndiphilile, enkosi.” Dit was nog nooit so maklik om rigting te vra in Kayamandi nie: “Ugandibonisa indlela eya isikolo?” (Hoe kom ek by die skool?). Jy sien net tande en hande wat jou in die regte rigting beduie.

Ons leef in ’n land met baie kleure, kulture, rasse en tale, ’n ware reënboognasie waarop ons trots kan wees. Ek ken menige Afrikaners wat nog steeds nie die nuwe volkslied ken nie. Dis jare lank reeds ingestel in die plek van “Uit die blou van onse hemel”, en as jy net daardie deel saamsing, is dit ’n skande.

Andertaliges sukkel-sukkel met die moeilike Afrikaanse woorde, maar sing tog uit volle bors saam. Doen die moeite, leer die woorde, maar leer ook die betekenis daaragter.

Dink net met hoeveel meer trots jy tydens die Wêreld Sokker-toernooi sal kan saamsing. Ek weet verseker, dat wanneer daardie eerste note begin, ek trots my bors sal uitstoot en saam met die reënboognasie sal sing: “Nkosi sekelel’ iAfrika, Maluphakanyisw’ uphondo lwayo!” (Seën­, O Here God, seën Afrika, mag haar glorie hoog gelig word.)

Daar is baie dinge aan die gebeur in ons land, ons provinsie en veral in ons dorp, waarmee ons nie noodwendig saamstem nie, maar ons het ver gereis sedert die dae van apartheid.

Vandag het ons almal die reg op lewe, gelykheid voor die gereg en vryheid van spraak. Is dit nie genoeg om op trots te wees nie?

‘MXit’ die taal en vergeet van spel!

ONTHOU julle die dae van Wielie Walie, Pumpkin P atch en Brakanjan?

Dit was lank, lank terug, toe ek nog ’n kind was. Ons het sekere tye van die dag vasgenael voor die televisie gesit om nie ons gunstelingprogramme mis te loop nie.

Dinge het sedertdien baie verander. Nie net is die kinderprogramme op televisie anders nie, maar die jongspan het vroeg reeds elkeen ’n eie selfoon en toegang tot die internet.

Hulle lê hulle nou eerder en MXit as om opvoedkundige boeke te lees of programme te kyk.

Ek is nogal ’n Facebook-verslaafde. Ná al die kere wat ek al getrek het en al die dorpe waar ek al gebly het, is dit ’n maklike manier om in verbinding te bly met vriende van heinde en verre. Wat my egter van dié webblad irriteer, is die spelling.

Ek wonder soms hoe ’n opgeleide prokureur, rekenmeester of ingenieur sulke afgryslike taal kan gebruik, om nie eers van joernaliste te praat nie!

Hoe doen hulle hul werk as hulle nie kan spel nie? En wat gaan word van die jonger garde word wat nog op skool is, as hulle nou al so verkeerd spel?

Vir wie gaan ’n mens blameer? Die MXit-generasie waar kinders heelweek in kletsgroepe sit en met mekaar kommunikeer in ’n taal wat net hulle verstaan? Die onderwysstelsel wat hulle nie reghelp nie? Of sommer net die feit dat kinders nie wil leer nie?As jy op MXit klets, moet jy so vinnig as moontlik tik en dit lei tot die baie verkorte weergawe van skryf.

Maar wat soms daar voorkom, maak van Grieks ’n lammetjie. So beteken “lmga, ekt nu nt so groot geskrk” beteken “ek lag my (alie) af, ek het nou net so groot geskrik” en “wmj di nwk? ko os ga kye”, “wat maak jy die naweek? kom ons gaan kuier”.

Ek is skaars uit my tienerjare, en ék sukkel! Miskien is die enigste oplossing dat ouers deur die week hul kinders se selfone afneem en hulle ’n goeie boek in die hand stop.

Laat hulle koerante lees, maar ook nie daardie wat in “hul” taal skryf nie. Stel hulle bloot aan óns taal waaroor die stryd so woed. My hart gaan uit na diegene wat by die onderwys betrokke is.

Hoe kry jy kinders om dié slegte gewoontes af te leer? Of moet ons nou maar ons woordeboeke aanpas om woorde soos “leka” en “kye” in te sluit?Of die televisie-programme wat oor die jare heen so verander het die skuld moet kry, of die feit dat tegnologie soveel verbeter het, weet ek nie.

Ek vermoed wel dat daar ’n generasie is wat eendag ons skrywers, prokureurs, onderwysers en ingenieurs moet word, maar wat waarskynlik nooit reg sal kan spel nie.

Bepaal rugby regtig die beste universiteit?

SO kom ek nou die dag deur die Facebook-grapevine op ’n webblad af: UCT se kampuskoerant waar ’n student die Maties persoonlik aanvat oor die Varsity Cup-oorwinning. Die artikel is geskryf deur ’n Ikey-student, Anton Taylor.

In sy rubriek maak hy wilde aannames oor Stellenbosch Universiteit, rugby en die verskil tussen die twee universiteite. Hy sê dat Ikeys beter is omdat hul rugbyspelers nie net daar is vir rugby nie, maar ook studeer en hulle nie soveel fondse vir sport het nie.

Ek is glad nie ’n rugby-fanatikus nie en ondersteun nie eers ’n provinsiale span nie, maar ek het darem ’n deel van die Maties se Varsity Cup-finaal gesien en kan trots erken ek’s ook nou ’n Stellenbosser.

Wat my bekommer oor dié student, is sy Facebook-groep waar hy homself verkiesbaar stel as Studenteraadslid.

Ek hoop dis ’n grap, want tussen sy vereenselwiging met David Hasselhoff, lys hy van sy lewenshoogtepunte. Hulle sluit in: kaalnael by een van die einste rugbywedstryde waaroor hy so aangaan, ses meisies in een aand vat en katskiet op van UCT se bekendste landmerke. My ma trek my stertvelle vir my af. En dit klink asof hy verkies is!

Die Facebook-pennestryd oor Taylor bekommer my verder. Hy is as Ikeys se held verklaar en ’n haatgroep is onder die Maties gestig. Daar pak die twee groepe mekaar sommer kaalvuis aan oor klas, ras en kleur. ’n Paar raak darem die eintlike kwessie aan, maar die Maties word boere genoem, en die Ikeys k-lovers.

Taylor sê in sy skryfstuk: “Ons sien neer op Stellenbosch as die dronk niksnutse van tersiêre onderrig. Ons is moeiliker om by in te kom, ons is akademies sterker, ons is meer divers, vreedsamer en dapperder, ons sal ryker wees, en ten spyte van hulle desperate proklamasies, is ons meisies mooier”. Waar is die bewyse van dié standpunte en wat het dit met rugby te doen? Uiteindelik het Maties vanjaar as oorwinnaars uit die stryd getree.

Taylor se uitsprake wat sê dat hulle eintlik gewen het, dra dus nie veel gewig nie. Miskien is dit volgende jaar hul beurt. Dan kan die Maties weer kla oor hoe dronk al die studente by Ikeys tydens hul wedstryde raak.

Vir die res van die jaar is die Varsity Cup in Stellenbosch. Hulle het hard gewerk daarvoor, dus maak nou maar vrede.

Dis presies hoekom ek liewers nie rugby kyk nie.

Die probleem met matchmaking

Na nog ‘n tyd van stilte, het my Sannie Jammergat oomblik my in die skryfluim gekry.

Ek is deesdae ‘n whizz as dit kom by matchmaking. Ek het nog nooit veel gelees in dié talent van my nie, maar deesdae lyk dit of dinge nogal goed uitwerk vir die partye betrokke, hetsy dit my bedoeling was om hulle bymekaar uit te bring of nie.

Sien, die ding staan so. My sussie date nou my beste mansvriend, en hulle is nou al amper twee maande lank gelukkig saam. Ek het nie regtig Cupid gespeel in daardie geval nie, en het eintlik probeer keer dat ek my maatjie in die proses verloor en was helemal daarteen, maar uiteindelik het hulle bymekaar uitgekom. En dit was ek wat hulle aan mekaar voorgestel het.

Onlangs het ek egter begin fokus op ‘n vriendin wat bietjie uit die ouer garde is. Sy is nou al so lank single, sy sukkel om selfs net met mans te praat, tensy sy ‘n bottel wyn agter die blad het.

So het ek haar nou die dag saamgesleep en ‘n ontmoeting gereel met een van my vriende. Als goed en wel. Hulle like mekaar. Hulle gaan op dates. Hulle bly omtrent bymekaar na ‘n week…

Sien. Daar lê die probleem. Of ten minste een van hulle.

As buitestaander kan ek sien hoe vinnig dinge gevorder het. Té vinnig. Maar dis nie die probleem wat ek het met matchmaking nie.

Die probleem lyk soos volg: hier sit ek, heel rustig, gesels met twee vriende en voor ek my oe kan uitvee is hulle ‘n couple. Ewe skielik is ons nie meer drie mense saam nie, maar daar’s ‘n couple, en ek. Vyfde wiel. Baie uit plek en baie ongemaklik.

Die ander probleem is dan dat die ongemaklikheid beteken ek nooi eerder nie meer myself saam wanneer hulle fun goed gaan doen nie.

Ek soek eerder ander single mense waar ek bietjie kan inpas.

En dan begin die ander probleem kop uitsteek. Kort voor lank gaan hulle op allerhande avonture, en aangesien ek eerder saam my single buddies uithang, word ek nie genooi nie, en kort voor lank is daardie hele vriendekring nie meer myne nie, maar die nuwe girlfriend s’n.

So much vir vriende. Ek het dit nou al sien gebeur. Dieselfde met my sus toe sy en die vriende begin uitgaan het. Ewe skielik word hulle saam na ‘n braai toe genooi waarvan ek nie eers weet nie, gaan kyk hulle rugby op Nuweland en gaan drink wyn op een of ander fantastiese fees.

Ek dink eintlik dís erger as om die vyfde wiel te wees.

Om ‘n alleen-wiel te wees. Nie eers ‘n spaarwiel nie. Net alleen.

Daai blerrie fietsryers

So ry ek nou die dag Kaap toe vir ‘n kuier by die siblings in die stad.

Ek bly nog nie baie lank in die Wynland nie, so ek ken eintlik glad nie die stad nie. Ek weet darem hoe om te ry tot digby Constantia waar my broer en my suster bly. Vat die R301, dan die N2 en hou reguit aan tot jy by die M3 kom, dan ry jy al die pad tot jy heeltemal verby die berg is en draai dan af as jy die Main Road bordjie begin sien.

So klim ek Sondag in my kar, gooi bietjie petrol geld in en val in die pad. My ma bel nogal voor die tyd om te vra hoe dit gaan, en sê toe ja, dis mos die Argus Fietstoer, so ek gaan dalk van die fietsryers sien.

Ek het glad nie mooi daaroor gedink nie.

Ek ry toe in die stad in, mak gereed om die M3-afdraai te vat, maar daar staan die blêrrie spiedkop in die pad. Gesluit. Ek’s klaar verby die M5 en die M4, wat ook in daardie rigting gaan, so ek dog ek hou maar verby en kyk waar ek land.

Ek vat toe een of ander De Waal-afdraai en land op die M3. In die verkeerde rigting. Ai.

Ek probeer nog my GPS, Jan, aansit soda thy kan verduidelik hoe nou verder, maar te danke aan Nokia het my lisensie verval en Jan is stil. Flip.

Ek ry toe nou maar M3 langs terug, waar die pad weer gesluit is, en ek kwaai begin vloek. ‘n String karre word afgegooi en ek land in Woodstock. Volgens die kaart lyk dit darem of ek op die regte pad is en eventually land ek op Main Road, die M4.

Ek ry toe nou maar al langs dié pad af tot in Dieprivier. Verby die universiteit, verby daai plek waar ek eens op ‘n tyd ‘n werksonderhoud gehad het, verby Tiger Tiger en deur sewe duisend robotte.

Ek wou juis toe hulle woonstelblok in sig kom.

Blerrie sportmense, ek sê vir jou. Dis hoekom ek eerder die gym vermy.

Vergifnis

Hierdie skrywe word opgedra aan iemand wat tot onlangs my beste vriendin was:

Ek verstaan nie die duiwels wat jou jaag nie. Ek verstaan nie hoekom jy soveel shots inpak dat jy later nie meer weet wat die waarheid is en wat nie.

Ek besef dat jou werk jou meestal by die kroeg hou, maar ek wens jy kon sien wat ek sien waar ek langs jou staan. Daai drankies en daai shots vat nie seer weg nie. Dit dryf net die duiwels dieper in daai donker leegte weg.

Ek besef ek moes nooit probeer het om julle verhouding beter te maak nie. Ek moes buite bly en jou slegs ondersteun waar ek kan en ek is jammer dat ek nie meer daar is vir jou nie.

Ek is jammer ek het jou nie gesê van “daai ding” nie. Ek is jammer dat jy later by my moes hoor. Ek is jammer dat jy nou meer spoke het om saam te lewe.

Ek weet dis wat jou gedryf het tot daardie jaloerse oomblik daardie aand. Wat jou dinge laat sê het wat jy glad nie bedoel het nie. Wat jou gedryf het tot die punt wat jy my te lyf wou gaan. En my in die openbaar beskuldig het.

Jy ken my. Ek het nog nooit enige neiging gehad om jou man af te vry nie. Ek was net jou vriendin, en vir hom ook. Hy was besig om vir my jammer te sê vir sy eie optrede toe jou tiradie begin. Ek vermoed hy het my eintlik net verdra omdat ek geweet het van “daai ding”.

Die eerste keer toe jy na my kyk met daardie woede in jou oë, het ek bang geraak vir die mens wat ek eintlik glad nie ken nie en dis hoekom ek die volgende ontmoeting vermy. Ek is bang jy begin my weer verskree, weer aankla waar die hele wêreld kan hoor en my weereens te lyf gaan.

Ek het dit nie verdien nie.

Ek vergewe jou vir die seermaak en die vernedering wat ek moes deurmaak. Ek verstaan nie hoekom jy maande se vriendskap sommer net kon weggooi nie, maar ek verstaan hoe moeilik dit is om te sê jammer.

Dit raak ons mos nie

In die lig van die Orlando-massaskietery het ek weer aan Jakkals gedink vandag. 

As ek depro raak sukkel ek om te skryf. Meestal omdat ek bang is ek maak ander mense ook depressed, en dis eintlik net onnodig, maar tog dink ek dis somtyds nodig om te skryf oor dinge wat pla.

‘n Vriendin van my het my laas week gebel om te sê dat een van ons vriende oorlede is. Dit was eintlik nogal ironies. Ek het daardie selfde dag van hom gepraat. Ons het gepraat oor mense op Facebook en ek het vertel dat hy my as ‘n maatjie afgehaal het.

Seker omdat hy moeg was om te hoor hy moet gesond eet en sy pille drink.

Jy sien, hy was homoseksueel. En MIV positief.

Dis ‘n vreemde ding om ‘n iemand in jou kringe te ontmoet wat deur só iets gaan. Ons dink mos almal dit kan ons nie raak nie.

Ek is nie heeltemal seker hoe hy dit gekry het nie, maar ek weet hy het vir ‘n tyd lank ‘n baie moeilike tyd deurgemaak.

Ek weet nie of julle kan onthou van die Sizzlers Massage Parlour skandaal in die Kaap so paar jaar terug nie. Dit was verskriklik. Ses gay mans is in dié huis in die Kaap geslag. Deur twee homofobiese mans.

Nou my vriend het daar gewerk. Hy het vir my gesê dat hy as ontvangspersoon gewerk het, en die Groot Siekte in ‘n vuil hospitaal opgedoen het. Ek is baie liggelowig genoeg en het hom geglo. Tot ek die waarheid gehoor het.

‘n Week voor die verskriklike voorval by Sizzlers het hy sy pa gebel en gesê dat hy nie meer kan nie. Sy pa het gery en hom kom haal. Hy was op pad na die binneland toe die nuus by hulle uitkom.

Daarna het dinge nie te sleg gegaan nie. Hy het nogal goed gelyk. Oorsee gegaan, hard gewerk en gesond geëet.

Na ses jaar het die siekte egter sy tol begin eis. Hy het een aand vir my vertel dat hy hom nog nie weer by die kliniek laat registreer het sodat hy pille kan kry nie. Ek was de moer in en die volgende gesleep om sy bloed te laat toets, hom te laat weeg en pille te kry.

Dinge het egter afdraand begin gaan. Hy het sieker begin word en ten einde laaste ophou werk en is weer terug huis toe.

Teen die tyd wat hy weg is, was sy wange hol, en sy oë diep in sy oogkaste. Hy kon nie in die aande slaap nie, het bloed gehoes en kon skaars in die dag opstaan.

Na hy ons verlaat het, het ek niks meer gehoor nie. Ek het so nou en dan ‘n boodskap gestuur, maar niks teruggekry nie.

Ek bly self reeds meer as ses maande nie meer in die dorp waar ek hom leer ken het nie, so die telefoonoproep was ‘n skok.

Hy het uiteindelik tou opgegooi. Ek wou nie hoor waaraan hy uiteindelik die lewe verruil het nie. Ek was boos. Ek was kwaad omdat hy nie eens meer probeer lewe het nie. Omdat hy opgegee het en omdat my hart gebreek was oor sy heengane. Ek was kwaad oor hy nie meer met my wou praat nie. En ek was kwaad vir die Groot Siek wat hy nie verdien het nie.

Dis nou al vier dae later. Ek het die naweek ‘n laaste keer sy Facebook besoek. Ek het sy nommer van my foon uitgevee en vir die laaste keer gehuil.

Hy het nou rus. En ek is nog steeds baie hartseer, maar hoe neem jy iemand kwalik as hy doodeenvoudig net nie meer kan nie?

Hy was te jonk vir die straf wat hy gekry het.

RIP Jakkals.