Om te kan luister

As journo by ‘n klein koerant is ek gelukkig om baie van baie dinge te leer. Dit maak my nie ‘n ekspert op enige van die gebiede nie, maar ek kan darem ‘n gesprek voer oor so te sê enige onderwerp.

Ek het geleer om notas te maak oor alles wat belangrik is, dit op te neem en dit dan oor te vertel. Die lekker ding daarvan is dat jy altyd weet wanneer om die regte vrae te vra om die storie te laat vloei.

Dis egter min dat jy iemand ontmoet wat aanhoudend stories kan vertel. So sonder ophou. Jy bring ‘n nuwe topic op en dan vertel hy langsamerhand sy eie ervaring van daardie ding. (Ek het nogal die irriterende gewoonte om dit te probeer. My sussie raak altyd vies vir my. Sy sê ek maak of ek alles weet…)

Maar dis nou nie van my wat ek praat nie. So ‘n ruk terug het ons ‘n draai gaan gooi by Oom Jan daar by die see, my goeie vriend se oupa. Hy hou van stories vertel. Hy het baie jare as boer agter die blad en spandeer toe sy tyd daar by sy huis wat uitkyk op die see. Daar sit ons toe en luister terwyl die wit strand en oneindige water aanhou breek.

As iemand wat nogal hou van baie praat, was ek skoon stilgemaak. Behalwe dat ek nie die oom so goed geken het nie, en dus op my plek moes bly, is maar net een van die dinge wat my teruggehou het daardie dag. Ek het net sit en luister. En sodra die gesels eers opraak, ‘n onderwerp opgebring en dan verder sit en luister.

Klomp koppies koffie en ‘n skatkis vol avonture later het ons gegroet en weer die pad gevat binneland toe.

Ek is bly ek was daardie dag daar. Daar was nie regtig weer tyd om stories te hoor nie. Oom Jan het ons verlaat vir die hiernamaals laas week, net ‘n maand ná ons eerste kuier, en al sy stories saam met hom gevat.

As ek nou daaraan terugdink kan ek nie een storie onthou wat hy vertel het nie en as ek geweet het dan sou ek notas gemaak het. Ek weet hy was mal oor ou trekkers en het natuurlik daaroor gepraat. Verder kan ek nie regtig onthou nie.

Ek wens nou ek kon beter luister.

As jy daai mense mis

Party dae kleef die onthou van vroeër dae aan jou soos die lentereën. Nie genoeg om jou sopnat te maak nie, maar genoeg dat jy darem weet daar’s iets kouds wat pla.
Onthou is deesdae vir my so. Ek het op hierdie stadium in soveel dorpe, en in soveel provinsies, gebly dat ek nie meer aan myself kan dink as iemand wat gesettle is nie. Kort nadat ek onlangs my nuwe werk begin het, het ek vinnig nuwe vriende gemaak.
Dis die vyfde dorp in omtrent soveel jaar, en na ‘n rukkie raak ‘n mens nogal goed daarmee om nuwe mense te ontmoet. Snaaks hoe ek deesdae ook sommer hope oulike mans ontmoet in my eerste week of wat in ‘n nuwe dorp… maar dis natuurlik ‘n ander storie. Maar ná so ‘n maand in ‘n nuwe dorp dan begin ‘n mens wonder oor dié wat jy agter gelos het in die dorp wat jy op ‘n stadium jou huis genoem het. Die vriende saam met wie jy na werk ‘n kapsie gemaak het, die filosowe met hul interessante stories, die wilde nagte saam met die jonger garde… En jy mis hulle net.
Dis hoe ek vandag voel.
Omring deur fantastiese nuwe mense, maar heeltemal alleen in my verlange na mense wat self ook aanbeweeg het met hul lewens.

Valentynsdag suck

Ek het ‘n groot probleem met winkels wat in September al begin om Kersfees te vier, maar aangesien die einde van die September seker die verste is wat ‘n mens kan wees van Valentynsdag, het ek tog besluit om bietjie daaroor te gesels.
Elke feestyd kom met sy eie tierlantyntjies. Paasfees is my gunsteling, want nie net beteken dit paaseiers nie, maar ek verjaar gewoonlik ook in daardie tyd. Verjaarsdae is cool. En paasfees. En Kersfees as hulle dit nie té vroeg begin adverteer nie.
Maar Valentynsdag suck.
Ek dink dis die domste ding ooit uitgevind. Hoekom sal mens ‘n mens ‘n dag wil hê om die liefde te vier as meeste van ons in elk geval nie liefde in ons lewens het nie? Dis mos sommer net simpel. Selfs getroude paartjies sê meestal dat “elke dag veronderstel is om Valentynsdag te wees”. Dis eintlik vir my nog meer belaglik. As nie eers getroude couples dit wil vier nie, wat de joos is die punt?
Dis een van daardie vakansiedae wat deur die winkels gebruik word om bietjie meer geld te maak, so een maal ‘n jaar. Seker maar dieselfde as Kersfees en Paasfees in ‘n wêreld waar daar nie juis meer mense is wat glo in God nie.
Ons kultuur verwag wel dat ons glo in Valentynsdag.
Ek het nog nooit op Valentynsdag ‘n boyfriend gehad nie. Miskien is dit grootliks deel van my probleem met die hele idee. Ek het wel een Valentynsdag wakker geword met ‘n boyfriend, maar dié het toe besluit om my sommer voor my oggend-koffie te fire. Nie dat ek hom blameer nie. Ek dink nog steeds nie ek het so baie van hom gehou nie.
Ek het op universiteit baie oulike jong mans ontmoet, maar daar was vir ‘n ruk lank net een vir my. Eintlik het ek hom lankal geken. Ons het saam as assistente gewerk in die biblioteek vir ekstra bietjie sakgeld.
Dit was eers na die einde van ‘n jaar van so saamwerk dat daar enigiets gebeur het… en dit was toe by ons eindjaar-funksie. Die probleem met lente en liefde en universiteit is dat dit gewoonlik lei na die somer, waar daar gewoonlik ‘n twee na drie maande breek is waar jy nooit die ander persoon sien nie. Dis wat die diversiteit op universiteit so fantasties maak, maar ook so hartbrekend.
Ons was vir ‘n week saam toe hy my die eerste keer gelos het, kort voor die vakansie. Ek het gaan sit en wou nog so half aan die huil gaan toe ek besef dat iets nie lekker was nie. “Het jy my verneuk?” wou ek dadelik weet. Hy het erken dat hy het, en dat hy nie juis ‘n toekoms vir ons sien nie.
Natuurlik moes ek mos toe geweet het, en die hasepad so vinnig en ver moontlik in die ander rigting gekies het, maar ons weet mos almal dat dit nie juis so werk nie.
‘n Paar ure later het hy my amper in trane gebel. Sy bakkie, wat sy gunsteling-besitting was, is gestamp in sy dronkenskap, en al wat hy wou doen was om my terug te hê. Hy het die grootste fout van sy lewe gemaak.
‘n Week later het hy my weer gelos, en ek het hom weer teruggevat. Ek weet nie eintlik hoeveel ander meisies daar was nie, maar ek vermoed dat daar baie meer was as wat ek van geweet het.
Teen die tyd wat die Desember-vakansie aangebreek het, was ons verhouding so half aan-en-af aan die gang.
Toe ek egter twee maande later ‘n dag vroeër by die universiteit aankom, staan sy eks-meisie se kar natuurlik voor sy huis. Toe ek bel het hy gesê dat hulle hele vriende-groep saam gaan visvang het, en dís hoekom haar kar daar was. Sy het later die jaar eers, toe ons altwee oor die simpel man gekom het, vir my die waarheid vertel.
So het e kaangevoeter saam met die man wat my aanhourondvoeter het, tot die 14 Februarie daardie jaar.
Ek het wakker geword, opgewonde dat ek uiteindelik ‘n ou het om Valentynsdag, min wetende dat dit nog net vir ‘n halfuur sou hou.
Ons het daardie dag uiteindelik uitgemaak, vir die laaste keer.
Ek kan regtig nie sê dat ek spyt was nie. Hy het later ‘n ander meisie gehad, wat hy amper ook op Valentynsdag gelos het die volgende jaar, wat hy net so verneuk het, en dan weet sy daarvan.
Hy bel my so een keer ‘n jaar, net om vir my te sê hy is gelukkig. So asof ek omgee.
Valentynsdag suck. En dis alles jou skuld.

My mentor in my jonger dae

Toe ek baie jonger was, nog op skool, het ek ‘n vriendin gehad. Sy was al in haar sestigs en ek maar nog ‘n tiener.
Ek het grootgeword in een van die kleinste dorpies in die land, en tussen die skanse wat so ‘n klein gemeenskap jou bied, en die reëls en regulasies van 12 jaar se kosskool, leer jy nie sommer iets besonders van die lewe – voordat dit soms ‘n bietjie te laat is.
Dié vriendin van my het my geleer van die lewe. In plaas daarvan dat ek soos die res van die dorp se kinders Saterdae-middae tennis gespeel het, het ek stories oor die lewe sit en luister, koffie gedrink en skelm gerook op die fraai huisie in die middel van die dorp se stoep.
Daar het ek geleer van Swiss kos, die liefde, avonture in die buiteland, foute wat sy gemaak het en die verskillende loopbane wat sy al gevolg het. Dit het ingesluit ‘n koffie-winkel met live musiek in Kaapstad, ‘n dans en joga-studio, ‘n onderwyser en ‘n refleksoloog. Sy het avonture gehad saam met die rich en famous, die armes en die akademikusse.
Sy het stories vertel oor haar vier huwelike, wat almal weens verskeie redes uitmekaargeval het. Sy het ook vertel van die ander mans wat sy gehad het, hoe sy haar seun grootgemaak het, en hom ondersteun het deur sy donkerste dae. Party dae het sy sit en huil oor die laaste koppie koffie en ander kere het ons gelag terwyl sy nog ‘n dagga-sigaret opsteek.
Sy het my probeer leer om weg te bly van gevaarlike middels, soos koffie en sigarette, maar meestal ook gevaarlike mans. In die jare wat ek daar omgekuier het, het ek ouer en wyser geword. Selfs al kon ek baie van dié avonture nie vir myself deurleef in die kleine dorpie waar ek gewoon het nie. Noudat ek self nader an die stad beweeg het, waar meeste van haar avonture plaasgevind het, dink ek baie aan die lesse wat sy my geleer het. Ek het jare laas met haar gepraat, en partykeer dink ek daaraan om bietjie te bel en te hoor hoe dit gaan.
Maar dan lê die jare tussenin te lank en ver en my eie avonture soos ‘n skaduwee wat ons vriendskap verberg. Miskien is ek bang om te erken dat ek nie al haar raad gevolg het nie, of dat ek self so baie geleer het, dat ek weet dat baie van die lesse wat sy my geleer het, eintlik verkeerd was.
Dis nie dat ek nie haar raad waardeer het nie… Ek glo dit net nie meer blindelings nie…

Die swartkop baskitaarspeler in die reën

Ek hou baie van musiek. Sommer enige musiek. Van Afrikaanse sokkie-tunes tot so bietjie blues, sagte rock en selfs deesdae so nou en dan ‘n klassieke tune of twee.

Daar is egter een genre music wat ek bietjie sukkel om te sluk. Daai harde, skreeuerige, heavy metal. Wel deesdae noem hulle dit sommer ook alternative rock, wat glad nie vir my sin maak nie. Alternative is té mooi ‘n woord om misbruik te word om daardie tipe musiek te beskryf.

Ek het wel eenkeer ‘n band ontmoet wat nogal probeer het om iets anders te doen. Die jong laaities van die Oos-Kaap het ‘n vreemde mengsel van musiek aanmekaargeslaan. Dit begin gewoonlik met so ‘n bietjie trance, moerse lekker mix en net as jy begin dink jy is eerder in ‘n rave as ‘n rock-konsert, slaan hulle oor na daai naarstigtelike skreeu wat kwaai mense, wat baie van swart hou, altyd na luister.

Hulle was maar ‘n vreemde klomp. Hul voorsanger was bekend daarvoor dat hy nie sommer swart sal aantrek soos die res van die massas mense wat na dié tipe shows toe gaan nie. Sy rooi-en-wit gestreepte hemp is baie maklik om in die pikswart see op te spoor. Hulle dromspeler het ook geweet hoe om daai ding te slaan, selfs al was hy daardie tyd net 16.

Dit was egter hulle baskitaarspeler met die pikswart hare wat my oog gevang het. Ons het daar agter in die VIP area sit en sjampanje drink op die klein dorpie waar die groot fees besig was om plaas te vind, en baie, baie later die aand het ons in die donkerte en die reën staan en vry.

Ek moet darem bysê, met al die oulike musikante wat ek al ontmoet het, was hy die enigste een wat ooit daardie geluk gehad het. Ek het in die tyd daarna hulle weer raakgeloop by ‘n show in die Baai, maar net vinnig gegroet en dit was meer as ‘n jaar later toe hulle toevallig speel in die nuwe kusdorp waar ek toe bly.

Ek kon nie eers meer die kitaarspeler se naam onthou nie, en ek het bietjie geworry oor wat ek gaan sê as ek hom sien. My vrese was toe sommer onnodig, want daar was ‘n nuwe blonde ou wat die baskitaar beman.

Die jong dromspeler het my erken en nog lekker gegiggel oor die aand, lank gelede, in die reën. Dit was eers ná die show, toe ek met die hoofsanger in sy rooi-en-wit strepe gesels, dat ek kon vra wat gebeur het dat hulle ‘n nuwe lid in die groep het.

Ek was stomgeslaan om te hoor: “Maar het jy dan nie geweet nie? Hy’s ses maande terug dood in ‘n motorongeluk.” My enigste attempt om ooit ‘n groupie te word. Lekker rus Tim.

Die Kaptein en die Matroos in ‘n klein kusdorpie

Om by die see te bly is tog te lekker. Die fantastiese strande is enige surfer se droom… maar as jy nie kan surf nie, dan drink jy maar.
Vir ‘n gesoute drinker soos ek vat dit ook nie lank om al die kuierplekke in die dorp te leer ken nie. Selfs in ‘n klein dorpie is daar nogal ‘n wye keuse. Na ‘n maand of wat kry jy ook jou gunsteling uithang-plek of twee.

Dis ook toe so dat ek een aand toevallig deur ‘n ou wat ek een aand deur iemand anders ontmoet het, genooi word na ‘n nuwe plek. Die nuwe plek is eintlik ‘n Ou Plek, een van daai legendariese kuierplekke wat al die rock-sterre besoek wanneer hulle op die oostelike kus kuier. Weggesteek tussen ‘n haarkapper, ‘n tweedehandse winkel en die KFC drive-through, loop die stegie af tot in dié donker pub.

Die eerste kuier daar was maar ‘n bietjie vreemd. As jy nie regtig iemand daar ken nie, dan sukkel dit maar, veral omdat die ou wat ek ken deel van die akkoestiese band is wat daai aand gespeel het.
Later maande het ek darem al ‘n paar vriende gemaak. Dis dán wanneer daardie weggesteekte Ou Plek jou gunsteling plek word. Jy stap in by die deur, dan maak Oom Piet al jou bier vir jou oop. En as jy daardie dag nie geld het vir ‘n tweede nie, dan gee hy sommer een, omdat hy weet jy sal weer daar uitval.

Dis ook waar ek Die Kaptein ontmoet het. Van die beter mense om daar te ken. As jong meisie sal hulle jou teen die skobbejakke beskerm, vir jou al hul ou stories vertel en so nou en dan omkoop met nog ‘n drankie, net om nog ‘n bietjie te sit en luister.

Die Kaptein werk op ‘n tenker-skip en is vir maande aan een nie op land nie. Wanneer hy egter aanland is dit rede vir groot partytjie, vir twee maande, tot hy weer teruggaan see toe. Tydens hulle vaarte oor die wye seë mag hulle nie drink nie en word op elke hawe getoets, dus maak hy gebruik van die tye wat hy tuis is.

Die stories wat hy vertel strek oor baie lande, baie waters en baie onderwerpe. Die vreemde kultuur van die Japanese meisies wat so mooi na hulle kyk as hulle daar aankom, en hoe die matrose die “Dear John” briewe, wat al te veel op die skip land, hanteer.

Een dag het nog ‘n jong man, nadat hy maande laas op land was, weer een van dié briewe gekry. Die Kaptein het die jong man vaderlik ondersteun en toe begin met ‘n inisiatief wat hulle almal bietjie beter te laat voel.

Hy het ‘n groot wêreldkaart op die een kantoor se muur geplak, groot geskryf “Dear Jane” en ‘n koukie langsaan gehang vir hartgebroke soldate om hul diepste gevoelens neer te skryf. Die brief het elke keer as daar nog ‘n hart gebreek was, gegroei en alhoewel Die Kaptein natuurlik die ergste gesensor het vir my jong-meisie ore, kon ek duidelik die gevoel kry.

Dié storie het natuurlik ná aan my hart kom lê. Ek het self my hart verloor op die Matroos wat op ‘n stadium onder dieselfde Kaptein gewerk het. Ná jare het ek egter besef dat dit seker nooit gaan gebeur nie. Hy was altyd op see as ek sy tuisdorp besoek het, en drie jaar later is hy verloof aan iemand anders.

Ek was platgeslaan vir ‘n bietjie, en toe die oproep kom dat ek verskuif word na daardie selfde kusdorpie, het ek eintlik al begin vergeet van hom. Groot was my verbasing toe ek deur die skinder-kringe verneem dat my Matroos ook ‘n “Dear John” ontvang het, slegs maande voordat hy moes trou.

Ek het ongelukkig nie lank genoeg in daardie dorpie gebly om te weet wat die uiteinde sou wees nie, en hy het steeds sy wonde gelek toe hy die laaste keer op land was. So loop die lewe mos maar sy gang.