Praat jou taal!

VIR die meeste Engelssprekendes is Afrikaans nogal ’n moeilike taal om te bemeester.

My boetie het ’n Engelse vriendin en het dit op homself geneem om haar bie­tjie touwys te maak. Maar in plaas daarvan om haar oor basiese struikelblokke soos die dubbel-nie in te lig, het hy sommer weggespring met woorde wat nie juis in alledaagse gesprekke gebesig word nie.

Die eerste paar woorde van haar Afrikaanse woordeskat sluit in: trapsuutjie en verkleurmannetjie, kabouter, appelliefie, kastaiing en kaiings (met ’n in-diepte verduideliking in hoog-Hollands oor wat die verskil tussen die laaste twee is).

Sy Afrikaanse verduideliking vir ’n sigaret aansteker is as volg: “’n vinger-geaktiveerde, gas-aangedrewe, tabakrolletjie aan­- steek­meganisme”!

Dit het my weer laat besef hoe mooi Afrikaans eintlik is. Daar is baie woorde wat tog só beskrywend is.

Van my gunstelingwoorde sluit in: bromponie, kotiljons, skoppelmaai, koffers, kabaal, patats en pondok. Agterlosig, aapstert en sprinkaan. Hotkant en haarkant, kamma, vabond en vent. En natuurlik my gunsteling, hottentotsgod.

’n Skorriemorrie is ’n skurk, en as jy in ’n dikkedensie beland, is jy in die moeilikheid! En as iemand aldag siekerig is, is hy mankoliekerig.

Dis ook net in Afrikaans wat jy sal sê: “Hy het sulke regte sekretarisbene” (lang maer beentjies) of “agter-os kom ook in die kraal” en “om oor koeitjies en kalfies te gesels”.Iemand wat effe besope is, het in die “hoenderhemel” beland en ly die volgende dag aan ’n “babelaas”.

As Afrikaanssprekendes het ons nog altyd die gewoonte om oor te slaan na Engels toe sodra iemand klink asof hulle net effens sukkel om ons taal te praat. Dit is dalk ’n ingebore ordentlikheid, maar terselfdertyd maak ons eintlik ’n groot fout.

Ons moet juis ons taal meer praat, dan sal al die mooi woorde, wat ons stadig maar seker besig is om te vergeet, ook ’n kans op oorlewing hê.

So sprak jou sprook, en praat ons pragtige taal!

Anglo-frikaans: so verkrag ons ons eie taal

Blykbaar is dit eintlik maklik om te skryf.

Só sê een van my vriende nou die dag vir my. Blykbaar kan enigiemand met ‘n klein bietjie agtergrond in Afrikaans dit doen. Soos dié blog. Ek kan woorde soos cool, flippen, weird en hectic tussendeur gebruik. Sommer so terloops, asof dit nie eintlik uit ‘n ander taal uit kom nie.

So praat ons almal mos maar ‘n aanmekaargeflansde taal. Spoeg en plak so hier en daar ‘n word uit Engels, so nou en dan ‘n Franse een, en elke dan en wan een in Duits. Ná ‘n rukkie kom ons nie eers meer agter dis nie Afrikaans wat ons praat nie, en die Anglo-frikaans kry al hoe meer vorm.

Daar diep in die Groot Karoo praat veral die Engelse boere so deurmekaar. ‘n Ongelooflike deurmekaarspul. Ons bure se seun het na ‘n kwartaal oppad plaas toe sy rapport vir sy ma gegee. Onderaan het gestaan: “Joseph mixes his languages a lot.” Sy ma draai toe sommer net daar in haar stoel om te raas: “Jo, you mustn’t talk so deumekaar, man!” En sy is ‘n onderwyser!

Ek moet sê, behalwe vir die Afrikaans-Nederlands dosente wat ek ken, is die enigste ander mense wat regtig Afrikaans kan praat, die mense van die Paarl. Ek is nog steeds nie seker hoekom nie, maar hulle almal praat so mooi. Van “my woning” en “ons gaan ‘n maaltyd geniet”. Dis asof Afrikaans nooit daar uitgesterf het nie.

Daar is die permanente geveg aan die gang tussen die regering en die tersiêre akademiese instansies wat die taal betref. Tog is daar slegs ‘n kleine deeltjie van die alumni wat Afrikaans as ‘n vak loop en dus regtig die taal waardeer. Die res praat die mengelmoes Afrikaans wat almal so goed ken. “Awhê brother, hoe lykit, man?” Ek meen, wie sê nou eintlik “Goeie more, mejuffrou”. Niemand praat meer so nie.

Ek het ‘n groot probleem met hoe van die koerante deesdae skryf. Veral die wat gemik is op tieners. Ek meen, hoe de joos moet hulle die taal ordentlik aanleer as koerante dieselfde horibale taalgebruik toon as wat die mense daar buite praat? Is die idee nie juis om hulle reg te leer nie? Ek glo in elk geval tieners wat koerant-lees wil dit graag doen, en jy hoef hulle nie te trek met slang-deurdrenkte taal nie.

Kry ‘n blog. Skryf na jou hartewens al die Engelse byvoeglike naamwoorde wat jy kan. Maar hou dit tog net uit die media uit.

Hou op om ons taal te verkrag en dan te huil oor jy nie kan klasloop in jou moedertaal nie. Waar is jou trots dan?