Praat jou taal!

VIR die meeste Engelssprekendes is Afrikaans nogal ’n moeilike taal om te bemeester.

My boetie het ’n Engelse vriendin en het dit op homself geneem om haar bie­tjie touwys te maak. Maar in plaas daarvan om haar oor basiese struikelblokke soos die dubbel-nie in te lig, het hy sommer weggespring met woorde wat nie juis in alledaagse gesprekke gebesig word nie.

Die eerste paar woorde van haar Afrikaanse woordeskat sluit in: trapsuutjie en verkleurmannetjie, kabouter, appelliefie, kastaiing en kaiings (met ’n in-diepte verduideliking in hoog-Hollands oor wat die verskil tussen die laaste twee is).

Sy Afrikaanse verduideliking vir ’n sigaret aansteker is as volg: “’n vinger-geaktiveerde, gas-aangedrewe, tabakrolletjie aan­- steek­meganisme”!

Dit het my weer laat besef hoe mooi Afrikaans eintlik is. Daar is baie woorde wat tog só beskrywend is.

Van my gunstelingwoorde sluit in: bromponie, kotiljons, skoppelmaai, koffers, kabaal, patats en pondok. Agterlosig, aapstert en sprinkaan. Hotkant en haarkant, kamma, vabond en vent. En natuurlik my gunsteling, hottentotsgod.

’n Skorriemorrie is ’n skurk, en as jy in ’n dikkedensie beland, is jy in die moeilikheid! En as iemand aldag siekerig is, is hy mankoliekerig.

Dis ook net in Afrikaans wat jy sal sê: “Hy het sulke regte sekretarisbene” (lang maer beentjies) of “agter-os kom ook in die kraal” en “om oor koeitjies en kalfies te gesels”.Iemand wat effe besope is, het in die “hoenderhemel” beland en ly die volgende dag aan ’n “babelaas”.

As Afrikaanssprekendes het ons nog altyd die gewoonte om oor te slaan na Engels toe sodra iemand klink asof hulle net effens sukkel om ons taal te praat. Dit is dalk ’n ingebore ordentlikheid, maar terselfdertyd maak ons eintlik ’n groot fout.

Ons moet juis ons taal meer praat, dan sal al die mooi woorde, wat ons stadig maar seker besig is om te vergeet, ook ’n kans op oorlewing hê.

So sprak jou sprook, en praat ons pragtige taal!

One Reply to “Praat jou taal!”

  1. Dagse Ella!

    Pragtige stuk oor ons pragtige taal. Ons kan ‘n bladsy uit die Franse se boek skeur en ons taal nommer een maak – bygese dat ons net bietjie vriendeliker kan wees wanneer ons dit doen 😉

    Om nog ‘n paar woorde by te voeg: flenterpoeding, vlugvoos, platbekpaddatjie, vinkel en koljander, deurtrekker, skilpad…….sjoe, mens kan seker bladsye volmaak!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *