Die Manakwalanners

So land ek nou die dag op ‘n Donderdagaand voor die televisie.

So halfpad deur die aand se kanaal-hop begin die ou-ou reeks Die Manakwalanners te speel.

Dié storie uit vervloë dae het my uit my kinderdae bygebly. Toe die musiek begin speel was ek (soos daai toneel in Rattatouille) terruggevoer na my kinderdae. Die onthou wat jou wegruk uit die koue winter tot die knus leefkamer van die plaas. Die reuk van ma se kos op die Aga-stoof en harde son, stof en die wag vir reën.

Almal onthou daardie een reël wat lui: “Is, myse ma se ok so!”

Dit was die derde episode getiteld “Die Boodskap”. Boerie stuur vir Abraham dorp toe om vir sy girl ‘n boodskap te neem. Hy moet dan die antwoord terugbring. Dit was destyds my gunsteling episode! Die boodskap was drie van daardie lekkergoed met die geskrywe op: “Jy is welkom”, “Nie vanaand nie” en nog een wat ek nie kan onthou nie… was dit “kan ek kom kuier” of “ek is lief vir jou”?

Terwyl die ander karakters voortgaan met die lewe in Namakwaland, speel die liefdesverhaal hom af.

Ná heeldag se wag kom Abraham terug met die boodskap. Kop omlaag vertel hy vir Boerie dat hy die boodskap verloor het. Hy het gestop om water te drink by die dam en die lekker het uit sy sak geval, saam met hom in die water beland.

“Ek het lank gesoek, Boerie, vir die boodskap. Maar die geskrywe het daar in die dam agter gebly. Toe ek die lekker kry was hulle reeds weg, en ek kon die geskryf nêrens in die water opspoor nie…” “Nou sal ek nooit weet nie…” antwoord Boerie.

Toe ek die eerste keer dié episode gesien het, was ek ook lus om verlief te raak. Ek wou ook boodskappies ontvang van ‘n man wat heeldag wag vir die antwoord.

Ongelukkig stuur niemand meer lekkergoed met geskrywe op nie. Hulle stuur SMS’e of add jou op Facebook of stuur ‘n e-pos.

Wat het van daardie ou-wêreldse romanse geword?

Die ding van joernalis-wees

DIE probleem met joernalis-wees lê nie in hoe klein ons salarisse is, hoe subjektief die mens is en of die regering ons probeer stilmaak nie.
Die wortel van die probleem lê in wat ons alles wéét.

Joernaliste is bekend daarvoor dat hulle senuwee-ineenstortings kry, té veel rook en drink en hul lywe met té sterk bekers boeretroos straf.

“Elke joernalis het ’n vice. Wat is joune?” het iemand my een keer gevra voor ek nog begin werk het.

Toe ek onlangs oorgeneem het as misdaadverslaggewer is ek uit my gemaksone geruk. Dis lekker om te skryf oor al die goeie dinge wat in die dorp gebeur. Die organisasies en mense wat ’n verskil maak, blommeskoue en musiekblyspele.

Dís egter nie altyd noodwendig nuuswaardig nie. Die mense wil weet van die moord en doodslag, die dinge wat ons stadsvaders en -moeders aanvang en die misdaadsyfer.

Ewe skielik hoor jy van elke gewapende rooftog, elke moord, elke verkragting, elke huisroof. Jy praat met die families wat agterbly en sien die letsels wat misdaad laat, en dis meestal nie die tasbare wat so erg is nie.

Jy weet ook hoe hard die polisie werk om ’n verskil te maak, maar aan die einde van die dag staan jy steeds verstom oor die geweldadigheid van die mens.
Dís hoe ek gevoel het toe ek op skool Lord of the Flies gelees het.

Dis hoe ek steeds voel as ’n grusame fliek handel oor dwelms, moord en verkragting. Die ongemaklikheid wil maar net nie wyk nie.

Maar dis wat die mense móét weet. Hoe weerhou jy iemand daarvan om in gevaarlike areas te loop as hulle nie bewus is van die gevare in daardie area nie.

Hoe keer jy misdadigers aan as die mense nie weet vir wie om na uit te kyk nie?

Die idee is nie om paranoia aan te vuur nie, maar as joernaliste weet ons (meeste van die tyd) als wat aangaan.

Ons ken die feite en hoor die skinder en ons skryf dan slegs die nodigste.
En dan bid jy maar dat volgende week beter nuus kan bring. Dat die volgende week nét goeie nuus gaan bring.

Maak sélf ‘n verskil

HOOP is ’n vreemde ding.

Daar is baie dinge wat ’n mens hoop vir die lewe gee. Die man wat jou laaste R100-noot langs jou motor optel en dan wonderbaarlik aan jou terugbesorg. Die karwag wat jou bel om te sê hy het jou gesteelde beursie opgetel. Die polisie en die regstelsel wanneer hulle ’n berugte skelm aankeer, en dié man beland uiteindelik agter tralies.

En die munisipaliteit wanneer hulle iets doen wat ’n hele gemeenskap se lewensomstandighede verbeter.

Ek het die laaste ruk die geleentheid gehad om ’n paar mense wat régtig ’n verskil maak, te ontmoet. Eers in Kayamandi, waar ’n groep mense uit Sone N begin het om hul eie strate skoon te maak.

As jy tussen al die vervalle laslappie-huisies geloop het, sal jy nou eensklaps die verskil sien. Die huisies staan so styf teen mekaar dat voertuie nie daar kan deur nie. Riool stroom gewoonlik in die strate af deur die massas rommel wat niemand skoonmaak nie.

Sedert van die inwoners nou wel opruim en eienaarskap van hul eie gebied neem, begin al hul bure saamwerk. Kinders wat rommel strooi, word gou geskel en dink twee keer voor hulle dit weer doen. Die bure maak nou self hul voortuine skoon en rommel word in swartsakke geberg.

In Cloetesville weer, het ’n groep mense begin tuinmaak om die berge rommel wat langs die pad gegooi word, stop te sit. Uit hul eie sakke en met hul eie hande het hulle begin om tuine te maak waar daar eens rommelhope was.

Dít is wat ’n mens hoop gee vir ons land. Die hartseer saak is dat die rommelhope gewoonlik net ’n entjie aanskuif. Maar die ouens wat eienaarskap neem en hul bes doen om ’n verskil te maak, is ons land se redding.

Die jongspan sien hoedat hul ooms, neefs en tannies werk om hul eie omstandighede te verbeter. Hulle sien hoe dit is om skoon strate en netjiese tuine te hê, eerder as rommel wat die plek vol waai.

Dis ’n les wat nie op enige ander plek as jou eie gemeenskap geleer kan word nie.

Apatie het nog nooit iemand iets in die sak gebring nie. Wat doen jy om ’n verskil te maak?

Salsa vir ‘n somerlyf

REEDS tydens my jare op universiteit het ek geleer hoe om te langarm-sokkiedans in Potchefstroom se Impala Hotel.

Sokkie is egter baie anders as al die ander vreemde dans-manoeuvres wat deesdae vir baie ’n nuwe manier van oefen is.

So land ek dié naweek by ’n Salsa-klas. Baie huiwerig wou ek egter eers op die kantlyn sit en kyk hoe die dinge werk, eerder as om kop eerste in die diep water in te spring.

Die ander dansers het dit so maklik laat lyk. Een-twee-drie, vier-vyf-ses-sewe. Die telling is bietjie onverstaanbaar. Daar moet mos meer as sewe stappies wees? Dis omdat jy eintlik op twee van die tellings stilstaan, dus mis jy vier en agt, word daar aan my verduidelik. Drie stappies in vier mates.

Die salsa het sy oorsprong by die Cuban Son (son beteken klank in Spaans), ’n mengsel van Spaanse kitaar en sang, met perkussie uit Afrika. Dit het in die 1930s wêreldwyd beroemdheid verwerf en sedertdien het die salsa ook sy voetspoor reg oor die wêreld gelaat.

Ná ’n gespook word ek uiteindelik geboelie om die vloer te betree en in die hande van ’n gesoute danser, val my voete later nie meer oor mekaar nie. Dit sukkel-sukkel maar nog om die draaie, want om jare se sokkiedans uit jou voete te kry, is nou maar een maal nie maklik nie.

Die ander dansers swaai en draai, hul heupe beweeg al te mooi op die vinnige maat van die musiek terwyl hulle ingewikkelde stappies maklik raakvat. Mens wil eintlik hande begin klap.

Vandag is my agterstewe behoorlik seer. Ek vermoed dat die salsa meer oefening is as wat dit lyk. Die somer is mos hier en dit sal goed wees om so bietjie van die winter se lae af te skud.

So ek sien julle daar volgende Sondag?

Kinder-biografieë. Huh?

EK is nou nie eintlik een vir biografieë lees nie, maar dis mos nou die in-ding.

Daar is heelparty van dié wat ek wel sal oorweeg om te lees soos Long Walk to Freedom, Bill Clinton se My Life, Kurt Cobain se skrywe, Hansie Cronjé s’n en The Diary of Anne Frank.

Maar tussen al die fantastiese mense, politici, Nobelprys-wenners, sportsterre en ware helde pryk daar een van die dae ’n nuwe titel: Justin Bieber se skrywe oor sy, wat, 12 jaar op aarde? En ek het gedink Victoria Beckham s’n is ’n bietjie vroeggebore!

Vir die van julle wat nie weet nie, Justin Bieber is die jong Kanadese musikant wat deur Youtube en goeie geluk bekendheid verwerf het.

Deur in-diepte navorsing te doen (te danke aan Wikipedia) het ek gedink ek sal hom gou uithelp en dit sommer vir hom doen. Justin is op 1 Maart 1994 gebore (ja, hy is net 16) in Stratford, Ontario. Sy ma, Pattie Mallette, was maar 18 jaar oud toe sy swanger geraak het en sy het hom as enkelouer grootgemaak. Sy pa se naam is Jeremy Bieber.

Justin het homself leer klavier, tromme, trompet en kitaar speel. Sy ma het graag sy opvoerings op Youtube geplaas sodat sy familie kan sien, en hy het al hoe gewilder geraak.

Dís toe Scooter Braun, voormalige bemarkingsbestuurder van een of ander musieknaam, hom raakgesien.

En siedaar! ’n Ster is gebore. Justin het op 13-jarige leeftyd ’n kontrak met Usher aangegaan.

Nou is hy reeds vir twéé jaar lank bekend. Hy het reeds twéé albums uitgebring: My Life en My Life 2.0. Oor sy bekendste liedjie “Baby” is tieners wêreldwyd gaande.Maar dis ’n moeilike lewe in die kollig.

Sy fanatiese aanhangers het mekaar al so vertrap dat sy vertoning gekanselleer moes word en sy bestuurder in hegtenis geneem is omdat hy nie vroeg genoeg ’n Twitter-boodskap uitgestuur het om die mal skare te kalmeer nie.

OK, my bankrekeningnommer is 331-555-213.

My Antie Kraai

EK lees gisteroggend Valiant Swart se rubriek oor huishulpe.

Hy vertel hoe so iemand deel kan word van jou gesin en die lief en leed kan deel. Toe ek baie klein was, het ek só ’n oppasser gehad. Haar naam was Antie Kraai.

Eintlik was dit Angeline­ Kraai, maar daai lange naam was een te veel vir my kindertong om reg te kry en sy was sommer net my “Antie Kraai”. Haar mense het haar egter al die jare Antie Evelyn genoem en dis ook met dié naam wat sy ’n celebrity geraak het.

Vir die eerste paar jaar van my lewe moes die liewe Antie baie rond hardloop om seker te maak ek en my ouer sussie bly uit die modder en die moeilikheid, terwyl ons nie ons kleiner boetie uitbuit nie.

Sy het gesorg dat ons tande geborsel en hare gekam is. Sy het ons beddens opgemaak en kaste reggepak. Sy het my verskriklik bederf. Sy het altyd gelag as sy vertel hoe ek “my pê” wou hê. My ousus was voor my uit die doeke en ek wou ook soos sy grootmeisie-onderklere dra. Dis steeds een van die dinge wat sy oorvertel wanneer sy my sien.

Haar man, Flip Oliphant, was my pa se voorman, en hy het later begin om vir die munisipaliteit te werk en hulle is van die plaas af weg.

Maar my Antie Kraai was ’n goeie sakevrou, en aangesien Nieu-Bethesda (waar hulle nog steeds woon) die meeste van sy inkomste uit toerisme genereer, het sy die geleentheid aangegryp en ’n restaurant begin.

Vandag is sy bekend vir haar drie-gangmaaltye – tradisioneel met ’n township-invloed. Bobotie, roosterbrood en moerkoffie uit die boonste rakke. Die heerlikste kos bedien in haar eenvoudige huisie in Pienaarsig wat oor die sokkerveld uitkyk. Sy sal ook tydens die maaltyd met jou gesels en heelwat te vertel hê oor haar eie lewe, haar kinders en die gemeenskap.

Menige joernalis het al haar drumpel deurgeloop en seker gemaak haar bekendheid groei.

Ek maak deesdae my eie bed op en pak self my kaste reg, want Antie Kraai het haarself van ’n geliefde huishulp opgewerk na ’n bobaas-kok en vandag is sy famous.

Moenie eers laat ek begin nie

ALMAL het dinge wat jou bloeddruk sommer die hoogte laat inskiet. Sommige dae is dit erger as ander.

Die simpel ou in die blink motor voor jou wat nie weet hoe om by ’n groen lig weg te trek nie, die man wat sukkel-sukkel oor die pad loop, drie meter voor die voetoorgang. Justin Bieber, daai simpel kassier wat drie dae vat om twee rand vyftig uit die kleinkas te haal as jy haastig is, Justin Bierber, ’n motor se alarm wat skree en niemand sit dit af nie, en moenie eers praat van die taxi wat voor jou injaag en dan vyf meter verder sommer net daar in die pad stop.

Hier is ’n paar dinge wat ek regtig nie kan verstaan nie:

Facebook status updates en foto’s: In die eerste plek; as jou foto-album die naam “mY aWêS0mE Tr0uDag mEt mY $exY PoKkEltjIE” is, is jy heeltemal te flippen jonk om te trou. Leer darem eers spel. En leestekens gebruik. Sulke skrif behoort nêrens toegelaat te word nie. Nie jou Facbook, of SMS’s, of op papier nie. Nou weet ons almal hoe blond jy is, selfs al sê jou foto’s anders. Jou vriende wil ook nie jou nuutste sonar sien of hoor wat jy in die badkamer of die slaapkamer gedoen het nie. Ons gee ook nie om of jou neus weer loop/jou blaasinfeksie weer opvlam/jou Pokkeltjie siek is nie.

Badkamerdeure: Dis die een ding wat my verstand te bowe gaan. Hoekom maak álle publieke badkamers se deure altyd binne-toe oop. Jy’s binne, jy was jou hande, maak dit droog, maar dan moet jy aan die bakterie-geïnfesteerde deur vat om buite te kom. Of wag vir die volgende uur sodat iemand dit vir jou kan oopmaak.

Kinders: Kyk, ons almal verstaan dat jong kinders nie altyd maklik is om te beheer nie, maar as jy weet jou kleinding is nie van die soetste ooit nie, is dit régtig nodig om hom saam te vat na die kerk/vergadering/winkel waar sy geneul dawerend deur die gebou gaan weerklink? As jy kliphard op jou selfoon in ’n winkel praat, is jy nét so irriterend. Veral as jy jou bloutand-dongle aan jou oor vashet. Jy lyk stupid.

Honde: Dieselfde geld vir honde wat mense nie kan beheer nie. My swart kleure en duur sykouse kan nie jou hond se modderige pote se aanslag en harige afwerpsels hanteer nie. Hou tog net die ding onder beheer.

Padverbruikers: Daai simpel… (Rubriek verkort – Red.)

My vriend die dominee

DIS vreemd hoe mense partykeer ‘n impak maak op jou lewe sonder dat jy eers weet dat dit gebeur.

Ek het vir ‘n tyd in dieOos-Kaap gebly in ‘n klein kusdorpie. Dáár was ek vir ‘n tydperk baie soet, en het kerk toe gegaan en met daardie goeie tipe mense rondgehang.

Ek het toe ook ‘n jong jeug-pastoor ontmoet. Hy was nie besonders good-looking of charismaties of enige dinge wat ek van ‘n man hou nie, maar vir ‘n week-lank het ek met die seun so half en half uitgegaan. Ek was sommer vinnig verveeld, en dus is ons toe uitmekaar, maar ons het steeds vriende gebly.

En toe hoor ek nou die dag. Hy was maar 25. En hy’s dood. In sy slaap.

Ek hoop jy is gelukkig. Ek hoop jy het gedoen wat jy kon terwyl jy hier op aarde was en dat jy jou goddelik doel kon bereik. Ek glo jy het.

Ek blaai so nou en dan deur die boeke wat jy vir my gegee het. Een oor God se liefde en die ander om my naarstigtelike soeke na kennis te stil.

Ek gaan jou mis as ek volgende week vir al ons ou vriende gaan kuier.

RIP my vriend die dominee.

Enig in sy soort

Ek kry nou die dag ‘n oproep van ‘n ou wat ek in ‘n baie lang tyd nie gesien het nie. Hy was laas week hier vir ‘n konferensie en nooi my toe vir ete.

Ek het nie eers meer sy nommer op my foon gehad nie, so die oproep was nogal ‘n verassing. ‘n Baie goeie een.

So Donderdagaand trek ek mooi aan, maak myself reg vir die herontmoeting. (Dis seker ook hier waar ek moet byvoeg dat ek hom so bietjie verafgod het in die tyd wat ek hom geken het. Hy het kop en skouers bo die ander mans in die klein dorpie waar ons gebly het, uitgestyg.)

Die herontmoeting was nie te sleg nie. Hy lyk natuurlik meer handsome as wat ek onthou en ons ry na die naaste restaurant.

Daar het baie dinge gebeur in die laaste twee of drie jaar. Hy het Joburg toe getrek vir daardie groot nuwe werk, en ek het tussen klein dorpies rondgetrek tot ek hier geland het. Daar was baie stories om te vertel.

Ons het lekker gelag en gesels en besin oor die dinge van ouds en die dinge van nou. Ek het lanklaas so lekker saam met iemand gekuier.

Toe ek huis toe ry daardie aand, besef ek weer hoekom hy vir my so ongelooflik was. Hy is als wat ‘n man moet wees: intelligent, suksesvol, en hy kan lag vir homself. Natuurlik bly hy tienduisend myle weg in die hart van Gauteng.

Die semi-boyfriend het natuurlik ook in die gesprek opgekom en ek het besef ek settle defintief vir tweede beste. Ek maak toe aan myself die belofte dat ek dit nie weer kan doen nie. Semi-boyfriend se moer. Ek soek iemand wat my waardeer vir wie ek is.

So bid ek maar dat hy nie enig in sy soort is nie. Almal verdien iemand wat hul hart vinniger laat klop, hul kan laat lag en ‘n intelligente gesprek kan voer, selfs al is dit oor iets onintelligent.

Ek soek so ‘n man. Een wat my kan laat lag oor myself.

Bemagtig jouself

BEMAGTIGING is die in-ding op die oomblik.

Eers was dit BEE (Black Economic Empowerment), maar die B’s het aanhou bykom en nou trek ons al by BBBEE (Broad-based Black Economic Empowerment).

Dis al twintig jaar sedert Madiba sy eerste treë na vryheid gegee het, en 16 jaar dat demokrasie in Suid-Afrika heers, maar gelykheid in die werkplek is nog steeds ’n doring in meeste mense se vlees.

Ek is nie swart nie. Ek is darem ’n vrou, wat seker in my guns tel, maar my Hollandse voorsate het vir my lelie-wit vel gesorg wat kreef-rooi brand net na ’n klein bietjie son.

Ek wil egter nie praat oor kleur nie. Ek dink dis fantasties dat mense van alle rassegroepe nou die kans kry om hul merk in die werkplek te maak.

Ek wil praat oor my week van self-bemagtiging.

Dit klink seker verspot vir ’n dame van net oor die 26 jaar oud, met twee-en-’n-half grade en ’n ordentlike werk, om onbemagtig te voel, maar as jy in ’n nuwe dorp intrek is dinge nie altyd so maklik nie.

Ek het dus vir ’n ruk lank teruggesit en toegelaat dat mense loop soos hulle wil, meeste van die tyd bo-oor my. En ek het baie gehuil. Meeste van die tyd.

En toe maak ek die besluit om op te staan vir myself. Ek het my misbruikers op geldige gronde aangevat, die bitsige mense wat my lewe versuur van my foon af delete en harder gewerk om in my beroep te verbeter.

Ek voel bemagtig deur my eie aksies. Ek dink baie mense sit meestal terug en vermy die konflik wat dalk gaan ontstaan indien hulle vir hulself sou opstaan.

Dis tyd. Sê net nee. Gooi weg jou ou liefdesbriewe wat jou herinner aan daardie mislukte verhouding.

Kla jou baas aan wat hom so aan jou opdring of wat jou sonder rede afgedank het. Sit daardie flerrie wat jou so afkraak in haar plek en staan op vir jouself in die kringe van jy lewe.

Dis jou reg. En niemand anders gaan dit vir jou doen nie.
Ek dare jou.